20 JAAR VAN ZOID Karen Zoid het in 2020 haar twee dekades in die musiekbedryf saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes by die Toyota US Woordfees gevier. Foto: Stefan Els, Universiteit Stellenbosch

Woordfees: Die Verfkwas van Pret, Vreugde en Viering

DEUR KARLA DE BOD

Wanneer Stellenbosch se herfsblare meer oranje ver- kleur,die gelag van ons medemens duideliker gehoor kan word en die strate gevul is met kreatiwiteit, dan weet Stellenbos-sersdit is daardie tyd van die jaar: Die Woordfees is hier om ons geliefde Bolandse dorp in te kleur. 

Die Woordfees het op ’n herfsaand in Maart 2000 as die “Nag van Passie” begin toe 60 skrywers en digters bymekaargekom het om Afrikaanse woordkuns te vier. Dié viering het sedertdien ontwikkel tot ’n volwaardige kunstefees met meer as 500 unieke uitvoerings, aanbiedings en produksies. 

Optredes, konserte en uitstallings word reg oor die dorp en op kampus aangebied, waaronder die Adam Small-teater, die Drostdy-teater, die Endler-gebou, die Landbousaal en venues by verskillende skole op Stellenbosch. 

Dr. Leslie van Rooi, Senior Direkteur van Sosiale Impak en Transformasie aan die US en ’n lid van die Woordfees se adviesraad, het aan Die Matie gesê: “Die Woordfees is een van ons land se voorste kunstefeeste en dit is dus ’n voorreg dat die fees uit die Universiteit Stellenbosch ontstaan het en vandag nog sterker en meer direk aan die universiteit gekoppel is.”


WOORDPASSIE Die heel eerste Woordfees in 2000 se tema was “Nag van Passie”. Hierdie foto is ’n gedeelte van die amptelike plakkaat. 

Van Rooi het gesê die Woordfees het as ’n “betreklike klein geleent- heid gegroei tot ’n nasionale fees met ‘n onskatbare sosiale impak, plaasliken elders”. 

Van Rooi het ook gesê die “fees se groei kon net gebeur omdat die Woordfees-span ’n duidelike visie, fokus en wilskrag het”. 

“Dit is lekker om te sien dat die Woordfees jaar ná jaar meer groei in en vanuit die hulpbronne van die US. So is die fees nou meer as ooit deel van ’n groter omgewing en kan die Woordfees soveel meer baat vind by die moontlikhede wat verskeie US-omgewings bied. Mag daar nog wonderlike jare voorlê vir hierdie indrukwekkende en inspirerende fees!” het Van Rooi gesê. 

Kreatiwiteit ontstaan wanneer idees gedeel word, en idees kan slegs gedeel word wanneer daar iemand is om te luister – Saartjie Botha is dié luisteraar. 

“Ek het in 2014 by die Woordfees begin as feesdirekteur en dit was ’n geweldige groot vuurdoop. 

“Ek het die fees geken as koördineerder van die toneel-program, maar ek het in daardie kapasiteit nooit die volle perspektief van die fees gesien en in die hartkamer van die fees gesit nie,” het Botha gesê. 

Botha het baie ervaring in die toneelwêreld. Sy is ’n bekroonde dramaturg, vervaardiger en vertaler. Sy was ook die medestigter van die teatermaatskappy Rys, Vleis en Aartappels. 

Botha het gesê sy het ná haar eerste fees gevoel soos iemand wat in ’n motorongeluk was.


FEESDIREKTEUR Saartjie Botha op die balkon van Erfurthuis in Ryneveldstraat, die hartskamer van die fees. Foto: Peter van Noord, INK 

“Al kan ek bitter min daarvan onthou, onthou ek die gevoel baie goed. Ná my eerste fees het dit gevoel soos daardie stywe lyfseer wat ’n mens ervaar wanneer jy in ’n motorongeluk was. Dit is daardie styfheid wat spanning veroorsaak.” 

Die Toyota US Woordfees bestuur ook verskeie projekte regdeur die jaar wat ten doel het om ’n verskil in mense se lewens te maak. Botha het gesê hierdie “wydlopende aard van die fees” is haar gunstelingdeel van die fees. 

Agter die skerms word daar met reëlings en beplanning net so hard gewoeker soos voor op die verhoë. 

“Jy moet prakties wees, jy moet kreatief wees, jy moet planne maak, jy moet speel en jy moet pret hê,” het Botha gesê. 

“Dit is ’n ongelooflike kreatiewe en stimulerende plek om by te werk vir almal wat daar werk en hopelik ook vir die mense wat dit bywoon en vir die kunstenaars wat by die fees optree.” 

In 2020 het die Toyota US Woordfees ’n groot mylpaal bereik deur vir die eerste keer meer as 100 000 kaartjies te verkoop. 


W-TV Vanjaar se Woordfees gaan in Oktober op DStv uitgesaai word. 

“Daar is ook ander mylpale wat moeiliker is om te meet, maar wat waarskynlik belangriker of net so belangrik is soos syfers en finansiële statistieke. Dit is naamlik die transformasie van die fees en ’n omvorming van die fees wat die groter gemeenskap van Stellenbosch kan dien.” 

Tydens die US se eeufeesviering in 2018 was 100 gewone Stellen-bossers byvoorbeeld deel van die projek en produksie 100% Stellen- bosch wat as deel van die Woordfees in die H.B. Thom-teater-kompleks aangebied is. 

“My wens vir die fees is dat dit sal bly voortbestaan, dat dit sal bly groei en dat dit nooit die verrassingselement sal verloor nie. Ek hoop dit kan ’n platform bly waar kunstenaars onbevange kan skep, waar gehore hulleself sal oopstel en dat dit ’n plek en geleentheid is waar mense vry kan wees en vry kan word,” het Botha gesê. 

Die Toyota US Woordfees word vanjaar van 1-7 Oktober op DStv-kanaal 198 uitgesaai.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial