Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR DOMINIQUE FUCHS

Dit was die 1980’s – die era van die Grensoorlog, die sogenaamde rooi en swart gevaar, P.W. Botha, voormalige eerste minister en president van Suid-Afrika (alias Die Groot Krokodil) se Rubicon-toespraak, die noodtoestand, politieke onstuimighede en die silwer randjie rondom ’n donker wolk: Die Voëlvry-musiekbeweging. 

Hierdie beweging was ’n anti- apartheids- en anti-establishment-beweging waarby bekende kuns-tenaars soos Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie), Koos Kombuis (eers André le Roux du Toit en toe AndréLetoit) en Bernoldus Niemand (James Phillips) betrokke was. Hulle het nuwe lewe in Afrikaanse musiek geblaas deur middel van rock ’n roll, pop en blues. Hulle lirieke het gerebelleer teen die destydse politieke en sosiale klimaat. 

In 1989 het die Voëlvry‐toer begin en deur Suid-Afrika en Namibië beweeg. Uiteindelik het die Voëlvry-beweging ook na die Universiteit Stellenbosch (US) oorgespoel. In Mei 1989 het een van die grootste vergaderings van destyds plaasgevind toe 1 500 US-studente protes aangeteken het teen die US-bestuur se besluit om die Voëlvry-konsert op kampus te verbied. 

Die rede was dat “die univer-siteit ’n hoë premie plaas op goeie maniere en verfyndheid” en dat die konsert die universiteit se beeld skade sal berokken, het prof. Mike de Vries, toe rektor, volgens Die Matie gesê. 

Sedert 1985 het die US ’n verbod geplaas op alle protesaksies, maar dit het dié studente nie gekeer om hulle mening te lug nie. Terwyl die betogers voor die Administrasie-gebou vergader het, het inwonersvan Wilgenhof hulle met water-bomme en emmers water gegooi. Naas die US het die Pukke (die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, vandag die NWU) en Kovsies (Universiteit van die Vrystaat) ook die Voëlvry-konserte verban. 

Johannes Kerkorrel het na afloop van dié gebeure in Mei 1989 aan Die Matie gesê die US se optrede was voorspelbaar. 

“Dit is wat gebeur wanneer ’n mens hoogheilige Afrikaner-mites ontbloot.” 

Koos Kombuis het in Julie vanjaar gesê hy was verbaas toe die US destyds die Voëlvry-konsert op kampus verbied het. 

“Maar ek moes dit verwag het. RAU (die Randse Afrikaanse Uni- versiteit) het toe reeds ’n gedeelte-like verbod op ons geplaas – my solo act is verbied en ek kon nie daar optree nie. Ek het nie ’n totale verbod verwag nie, maar Dagga-Dirk Uys (die bestuurder van die Voëlvry-toer) was vinnig gereed met ’n plan B! Die optrede is toe van die kampus af geskuif na die groot sakkie-sakkie-saal van die Drie Gewels-hotel net buite die dorp. Op die aand was die plek tot oorlopens toe vol!” het Kombuis gesê. 


THE SHOW MUST GO ON Voëlvry-konsertgangers by die Drie Gewels-hotel in Stellenbosch. Foto: Steven Hilton-Barber 

Tydens die Stellenbosse deel van die toer het die Voëlvry-musikante ook doodsdreige-mente ontvang van ’n groep genaamd die Wit Wolwe. Die Wit Wolwe het die musikante met die dood gedreig as hulle sou voortgaan met die konsert in die Neelsie-Gat (soos ’n gedeelte van die ondergrondse vloer van die Neelsie waar onder meer kitskosrestaurante is genoem is). Daar het egter niks van gekom nie. By ander venues waar die kunstenaars opgetree het, het hulle wel deurgeloop onder afgeblaasde motorbande en stinkbomme. 

Kerkorrel het satiriese liedjies oor P.W. Botha en ander politieke leiers, die Grensoorlog, en kom-munisme geskryf. Liedjies soos “Wat ’n vriend het ons in P.W.”, “Almal moet gerook raak” en “Barend vat ons geld” (’n verwysing na Barend du Plessis, oudminister van finansies) het groot opslae gemaak en baie mense ontstel. 

Die vloekwoorde en gods-lastering wat in van die liedjies kop uitgesteek het, het ook talle Christen-studente ontstel. Dit het tot wye konflik gelei met sommige studente wat die Voëlvry-beweging se vryheid van spraak en kreatiwiteit ondersteun het en ander wat die liedjies se inhoud ten sterkste afgekeur het. 

Kerkorrel het die situasie van destyds baie goed vasgevang in sy liedjie “Donker Donker Land”. 

*Verbreed jou horisonne oor die Voëlvry-musiekbeweging en Johannes Kerkorrel deur na die fliek Johnny is nie dood nie op Showmax te kyk. Die Matie word ook genoem! 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial