Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

SLAPENDE SKOONHEID Ignatius van Heerden in die DEURnis-stuk Droom.

 

SZ MINNAAR


Met die afgelope Woordfees het daar ’n eiesoortige teaterbries uit die Noorde die Bosch se takke kom roer. DEURnis, wat volgens hulle Facebook-blad ’n “intieme en eksperimentele benadering” volg, het al by verskeie kunstefeeste oor die land speelvlakke gehad en boonop ’n paar gesogte toekennings ingepalm. So waaroor gaan al die bohaai?

DEURnis is een-tot-een, plekspesifieke teater. Dit beteken een gehoorlid kyk ’n toneelstuk waarin net een akteur speel en die optredes vind in allerhande onkonvensionele ruimtes plaas – van ’n karavaan tot ’n beknopte badkamer. ’n Gehoorlid koop ’n pakket wat drie toneelstukke van ongeveer 20 minute insluit en kyk dit agtereenvolgens. Tydens Woordfees is ruimtes in en om die Quiver Tree-woonstelle as venue ingespan.

Gehoorlede kan “saam speel” deur tydens die stuk vrae te antwoord of eenvoudige opdragte uit te voer. Gehoorlede kan ook kies of hulle aangeraak wil word tydens die stuk. Dit is gelukkig nie “onsedelike aanraking” nie verduidelik Rudi Sadler, een van DEURnis se vervaardigers. ’n Akteur sal byvoorbeeld ’n gehoorlid se hand vashou of langsaan hulle kom sit indien hulle ’n rooi plakker dra wat voor die tyd opgeplak word. Gehoorlede wat nie aangeraak wil word nie, kry ’n blou plakker.

“Maar dit is selde dat mense die blou plakker kies,” sê Llewellyn Steenkamp wat speel in Hoffie en Witvlag, “want mense wil deel wees van die whole package, die werklike ervaring.”

Die gehoorlid word ’n karakter en gevolglik medepligtige. Hierdie aspek van DEURnis het sy uitdagings, maar dit sorg vir ’n boeiende teaterervaring. Gehoorlede moenie dink hulle kan geselsies aanknoop of die stuk in ’n rigting forseer nie. Daar is min plek vir improvisasie en volgens Roche van Blerk, wat in Skaam en Toets speel, “word daar by die teks gehou”.

“Daar is gehoorlede wat meer gesellig is as ander. Dit is belangrik om die persoon deel te laat voel. Die gehoorlid speel ’n karakter en aan die begin is dit moeilik vir die gehoorlid om te bepaal wie die karakter is, maar teen die einde as hy uitstap, wil jy hê dat hy empatie met die karakter moet hê,” verduidelik Van Blerk.

Met net een akteur en net een gehoorlid kan sommige feeskatte hul bedenkinge hê. Is DEURnis werklik teater? DEURnis is beslis nie foefierig nie. “Ons werk hard dat die een-tot-een nie ’n gimmick is nie. Daar moet kwaliteit wees in die skryfwerk, regie en in die toneelspel,” sê Sadler.

“Ons wou hê dat dit ’n volledige toneelstuk moes wees met ’n goeie teks, anders raak mense moeg daarvoor,” sê Johan van der Merwe, ook ’n vervaardiger. “Ons wou nooit gehad het dat dit net iets moes wees wat gebeur nie. As dit ’n gimmick is, gaan jy twee of drie stukke kyk en dan uitgekyk wees,” voeg hy by.

Maar mense raak nie sommer uitgekyk nie. DEURnis het al ’n getroue gehoor opgebou en mense vlieg agter optredes aan beweer Van der Merwe. “Ons het mense wat van die Kaap af vlieg as ons in Pretoria optree. Maak nie saak waar ons optree nie, ons het amper ’n cult following opgebou,” sê hy.

Daar is ’n goeie balans van stukke, van komedies tot fisiese teater, maar alle stukke is nie vir sensitiewe kykers nie. Van die ernstiger stukke mag sommige gehoorlede ontstel. In Rou is die akteur naak –  en jy sien die full monty – en sommige stukke raak donker temas aan soos onder meer verkragting, moord en aborsie. Gehoorlede kan egter enige tyd die stuk laat ophou indien hulle ongemaklik voel.

Maar verskillende gehoorlede tree verskillend op. En is daar ’n verskil tussen Kaapse gehore en gehore in die Noorde?

Volgens Ben Pienaar, wat in Net en Anders speel, is daar definitief ’n verskil. “Ek dink in die Kaap is mense baie meer toeganklik en gewoond aan ’n verskeidenheid van teaterkonvensies. Die mense is oop en aanvaar die manier hoe jy die stories vertel.

Ignatius van Heerden, wat in die fisiese teaterstuk Droom speel, is gehore in die Kaap nie noodwendig maklike gehore nie. “In die Kaap, en in Stellenbosch spesifiek, is mense so blootgestel aan alle soort kunsvorme en kuns is soos die hart van die Kaap. Hulle is gewoond aan meer, maar daarom is dit ’n moeiliker gehoor om voor te speel,” sê hy

Maar maak nie saak wie dit sien nie, Van Heerden dink dit is belangrik dat mense die DEURnis-ervaring probeer. “Jy kommunikeer met baie meer mense as voor [’n groot gehoor],” en hy skerts ook, “ ’n groot gehoor mag dalk vir jou meer geld inbring.”

Daar is ongelukkig nog nie ’n tweede speelvlak vir DEURnis in die Kaap vasgemaak nie, maar miskien verras hulle die Kaapse gehore. Belangstellendes wat DEURnis tydens die Woordfees misgeloop het, kan dit later vanjaar by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad gaan kyk.

 

Foto: SZ Minnaar

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial