Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR DOMINIQUE FUCHS

Karmen Wiid se digkuns tokkel ’n mens se hartsnare. Die 40 900 volgelinge op @weggooi.gedagtes, haar Instagram-blad waarop sy Afrikaanse digkuns plaas, kan hiervan getuig. Sy studeer tans BA Geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch en bly in Nerina-dameskoshuis. Tog maak Karmen steeds tyd om in beide Afrikaanse en Engels te dig. Haar eerste digbundel Oopgekelkte Skemer het ook onlangs die lig gesien. Dominique Fuchs het met Karmen gesels oor haar liefde vir digkuns en haar toekomsplanne. 

Karmen sal haarself eerstens beskryf as ’n dromer, dan ’n digter en skrywer. “Ek was nog altyd so lief vir woorde. Letterkunde is sonder twyfel my passie.” 

“Ek wil dig en ek wil skryf. Ek dink nie daar was al ooit ’n ander opsie vir my nie.” Karmen skryf omdat sy nie enigsins weet hoe om anders te bestaan nie. 

Karmen kan nie presies onthou wanneer sy begin dig het nie, maar vandat sy kan onthou, is digkuns, lees en skryf haar lewe. Sy vertel dat sy “met ’n liefde vir digkuns gebore is”. Haar ma het elke aand vir haar allerhande stories en gedigte as kind gelees, so dit is dalk waar dit wortel geskiet het. Karmen onthou ’n sekere oomblik in haar lewe toe sy vir die eerste keer ’n “goeie volwaardige gedig” teëgekom het. Sy was in graad 4 en terwyl sy deur die boekwinkel gewandel het, het die voorblad van ’n Rudyard Kipling-digbundel haar oog gevang. 

“Toe ek die eerste gedig daarin lees, was dit asof iets binne my oopgegaan het. Ek sou nie die gevoel ’n ontdekking genoem het nie, maar eerder ʼn herontmoeting; asof my hart in daardie oomblik vir my gesê het – ‘o ja, dis wat jy moet doen’. Van toe af het ek omtrent enigiets gelees waarop ek my hande kon lê. My koshuiskamermaat sal getuig dat ek met graagte die maand sal honger ly as dit beteken dat ek ʼn ekstra digbundel vir myself kan aanskaf.”

Karmen se gunstelingboek is The Great Gatsby van F. Scott Fitzgerald.  Toe sy hierdie boek vir die eerste keer as ’n “kwesbare dertienjarige” gelees het, het sy besef dat sy gemaak is om te skryf. “Van toe af lees ek die boek elke jaar met Kerstyd en raak net weer van voor af verlief op letterkunde.”

Die natuur, die mense vir wie sy lief is en die dinge wat haar tot in haar diepste wese aanraak, is Karmen se inspirasies. “Ek het nou die dag verby twee houtkruise langs die pad gery. Dit het my so diep geraak dat ek net ʼn gedig daaroor moes skryf. Die gedig vertel van engele wat houtkruise langs die N1 kom aflaai het en hoe die spreker wonder of daar biblioteke in die hemel vir haar geliefde is.”

Karmen het grootgeword op ’n plaas naby Pretoria – “ek en my woorde is daar gebore”. Wanneer sy inspirasie nodig het, sal sy in die natuur gaan rondstap en sommer net die stilte inneem. Sy vertel ook dat skrywers moet oefen om inspirasie in die alledaagse te sien en elke dag iets moet skryf om die woorde makliker te laat kom. 

Karmen het haar Afrikaanse digkunsblad op Instagram @weggooi.gedagtes vyf jaar gelede begin. “Dis soos my babatjie. Ek is baie trots daarop, ek sit baie werk daarin en ek sien dit as ʼn groot verantwoordelikheid. Die feit dat ek die voorreg het om met soveel mense my woorde te kan deel op ’n daaglikse basis, is iets wat ek nie ligtelik opneem nie. Die tipe inhoud wat ek deel, kom regtig uit my hart. Ek is iemand wat lief is daarvoor om te skryf oor verwondering en menslike emosies. Daarom handel die meeste van my temas oor liefde, gebroke harte, die natuur of onreg wat hartseer kweek. Oor die algemeen kan jy verwag om stukkies van my hart, my verstand en my lewe op die blad te sien. 

Sy het haar Engelse digkunsblad @karemwiidpoetry April van hierdie jaar begin. “Ek kan nie sê dat ek een taal bo die ander verkies nie, want ek is so lief vir albei en sekere stukke kan net in Afrikaans geskryf word en ander net in Engels. Om op Instagram te dig, is beslis ʼn ongelooflike ervaring, want nie net daag dit jou uit om op ʼn gereelde basis te dig nie, maar jy moet jou persoonlike, kwesbare emosies blootstel aan die wêreld daarbuite. Ek het so gegroei as mens en as skrywer as gevolg van my blad. Die terugvoer van die lesers en hoe hulle identifiseer met my werk het my oor die jare die krag gegee om al hoe meer eerlik te raak in my skryfwerk.”

Daar is soveel mense en skrywers (lewend en reeds oorlede) aan wie Karmen kan dink wat sy graag sal wil ontmoet, maar as sy een moet noem, sal dit Ingrid Jonker wees. “Haar woorde het my al deur van die moeilikste tye in my lewe gebring en ook van die bestes. Sy was nog altyd my literêre heldin. Ek het tydens my matriek-eindeksamen Vlam in die Sneeu opgeraap en dit tot laat in die aande verslind. Ek besit sekerlik elke digbundel wat sy al ooit gepubliseer het. Wanneer ek voel my woorde raak op, krul ek op met ʼn koppie soet tee en raak verlore tussen haar verse. Daar is baie wat ek sal gee vir ’n uur met Ingrid Jonker.”

Sy het groot planne vir die toekoms – Karmen se volgende digbundel kom vroeg volgende jaar uit, asook as haar tweede roman. “My groot droom is om eendag ʼn paar topverkoper romanne te publiseer.” Karmen is ook opgewonde om te deel dat sy een van die medewerkers en rubriekskrywers vir die nuwe aanlyn Finesse Meisie Tydskrif gaan wees. 

Karmen se raad aan aspirerende skrywers is: “Moenie dink nie, dig net. Jou werk is slegs om inspirasie te vind in die alledaagse, daaroor te skryf, en so hoop te gee. Ons land het jong skrywers só nodig, want dit is juis hulle wat hoop kweek. So, haal jou drome uit die boksie onder jou bed, stof hulle af en gee vir hulle ink sodat hulle kan vlieg. Skryf elke dag, skryf uit jou hart uit en kom uit jou eie pad uit. Die mark vir digkuns is so groot. Mense is uitgehonger vir mooi poësie. So, skryf net.”

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial