Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR WILLIAM SEZOE

Joha van Dyk (23), ’n meesterstudent in Engels aan die Universiteit Stellenbosch (US), het onlangs haar eerste jeugroman Branderjaer geskryf en dit word in Oktobermaand vrygestel. 

Van Dyk, oorspronklik van Kleinzee, Namakwaland in die Noord-Kaap, vertel dat sy omtrent 10 jaar gelede besluit het om Stellenbosch toe te trek om haar toekoms te kom bewaarheid. “Ek was tot in graad 7 nog in Kleinzee terwyl my boetie, niggie en nefies in Hoërskool Stellenbosch se koshuis was. Ek het toe in my familie se voetspore gevolg en ook by Hoërskool Stellenbosch aangesluit om my hoërskoolloopbaan te begin en het myself later by die US bevind,” vertel Van Dyk. 

Sy onthou dat sy al van haar graad 2-jaar af drome, en veral dagdrome, gehad het oor haar eie boek en dat sy sommer daardie jaar besluit het om standpunt in te neem. “In graad 2 moes ons ’n mondeling doen oor ons talent. Ek het besef ek is baie lief vir diere, buite sit en boeke lees, maar nie een van daai goed was regtig ’n talent nie. Toe besluit ek, wel as ek nie ’n ooglopende talent het nie, sal ek moet soek of moet oefen aan iets totdat dit my talent raak. Duidelik het ek nie die konsep van talent verstaan nie. Dis toe dat ek vir die eerste keer ’n Word-dokument oopgemaak en begin skryf het,” noem Van Dyk. 

Oor die roman self noem Van Dyk dat dit oor verskeie temas handel en dat dit veral jongmense en studente sal boei. “Die roman gaan oor die Branderjaers, vyf seuns wat bekend geraak het vir die lewensgevaarlike stunts wat hulle uitvoer wanneer hulle kransduik, bergklim en branderplankry, onder andere. Die verhaal speel in ’n klein kusdorpie Stormbaai af en handel oor die donker geheime rondom die Branderjaers en Stormbaai self. Die roman spreek baie elemente aan, soos boeliery, trauma, jong liefde en dwelmmisbruik, maar handel grootliks oor die Branderjaers se filosofie – om ekstreem te lewe en om nie halfmas deur die lewe te gaan nie, maar voluit,” verduidelik Van Dyk. 

Haar inspirasie vir die skryf van die boek het alles op ’n rooibus-toer begin. “Ek was op ’n rooibus-toer saam met my gesin toe ek die woord ‘Branderjaer’ gehoor het en half vasgehaak het by dit. Ek onthou ek het nog getwyfel of ek dit moet neerskryf en of ek dit dalk net ingedagte moet hou, maar ek het geweet ek gaan dit vergeet en het toe ingegee en dit neergeskryf. Maande later het ek die woord weer in die notaboek gesien en gedink dat ek nou iets hiermee moet doen. Ek het ’n blokkiesraaiselwoordeboek waarin ek altyd rondsoek vir woorde en sinonieme. Op ’n manier het ek een aand met dit gesit en toe die noemname raakgelees van die hoofseunskarakters wat die ‘Branderjaers’ opmaak. Toe ek daardie name sien, het ek geweet: hier is my karakters. Van daar af het dit makliker geraak om geïnspireer te voel vir die storie, omdat ek ’n idee gehad het van die karakters waarmee ek werk,” vertel Van Dyk. 

Van Dyk meld dat die skryf van die boek “nogal ’n maklike proses was” en dat sy begin het om die hoofstukke in haar notaboekie te skryf. “Ek het eers later in September of Oktober van 2018 begin om ernstig daaraan te skryf.” 

Sy noem dat die redigering die meeste van haar tyd opgeneem het. “Meeste van my lang nagte van koffie drink, Afrikaanse musiek hard deur my oorfone luister en voor ’n rekenaar sit, was vir die proef-tydperk waar ek my woorde moes verminder en aan die teks moes verander. Toe lockdown begin, het ek weer na die manuskrip gekyk en dit begin herorganiseer, hoofstukke geskuif en stukke in ander perspektiewe begin oorskryf. Ek het gedink: nou maak jy óf vir jouself ’n hengse klomp onnodige werk, óf jy red hierdie storie. Gelukkig het dit aan my geknaag en ek het aanhou edit en is nou baie tevrede met hoe die manuskrip uitgedraai het,” vertel Van Dyk. 

Sy noem dat haar boek ook binnekort as lokprent op sosiale media sal verskyn sodat meer mense haar boek sal koop en lees. “Ek is so opgewonde hieroor. Die lokprent vir Branderjaer sal in Oktobermaand op sosiale media platforms verskyn,” noem Van Dyk. 

Die boek word deur NB-Uitgewers/Human & Rousseau uitgegee en sal vanaf Oktobermaand teen ’n koste van R195 per kopie op boekrakke wees en ook op verskeie e-winkels, soos takealot.com en Amazon

Lesers kan ook na musiekopnames, spesifiek geskep vir Branderjaer, op die toepassing Spotify luister (https://open.spotify.com/playlist/3aRKry6Lzs0O5reMCRAc00?si=OEBYnGL-RSW3qEvaZARI8w) terwyl hulle die boek lees.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial