Deur Ila Alberts
Aandklas-aanhangers kan uitsien na ’n boeiende optrede op 7 Mei, wanneer Tasché Burger haar debuut by hierdie kroeg sal maak. Hierdie musiekster betower al Suid-Afrikaanse gehore sedert 2019, toe sy op die skamele ouderdom van 19 die jongste wenner van The Voice South Africa geword het.
Burger mag dalk nog jonk wees (22, om presies te wees), maar sy het beslis nie ’n tekort aan ervaring nie. Hierdie rockster neem al sanglesse van die ouderdom van vier af, en werk saam met ander groot name in die bedryf, soos Hunter Kennedy (“Hy kan enige blerrie ding skryf,” volgens Burger) en Francois van Coke.
Sy noem dat Fokofpolisiekar, sowel as P!nk, groot invloede op haar musiekstyl het. “Daar is nie een groep wat my beïnvloed nie, maar soos ’n wide range van groepe by wie ek aanklank vind. Ek skryf meestal oor wat in my lewe gebeur het – dis meer real. Ek resonate meer daarmee as ek sing,” het sy gesê.
Dit is ook duidelik te hore in haar enkelsnit, “Baby, Ek Bly”, wat sy saam met haar verloofde geskryf het en oor hulle verhouding gaan.
Alhoewel sy al baie in Stellenbosch opgetree het, sal dit haar eerste optrede by Aandklas wees. “My gunsteling-show wat ek [al] ooit in Stellenbosch gedoen het, was seker by Daisy Jones saam met [Fokofpolisiekar]. Dit was absoluut insane,” het sy gesê.
Met haar aangrypende stem en raakvat-lirieke, kan konsertgangers uitsien na ’n intieme vertoning bestaande uit Afrikaanse en Engelse musiek en ’n kombinasie van haar ou bekende liedjies en nuwe musiek wat nog nie vrygestel is nie. Haar nuwe enkelsnit, “Pappa Probleme”, wat in Februarie vrygestel is, is ook beslis op die set-lys. Volgens Burger is dit haar gunstelingliedjie om voor ’n gehoor te sing omdat dit so musikaal uitdagend is. “Ek love dit om “Pappa Probleme” te perform, maar elke keer wonder ek hoekom ek dit vir myself so moeilik geskryf het!”
Burger se raad aan studente wat self die musiekbedryf wil betree, maar dalk nie weet waar om te begin nie, is dat ’n mens so dikwels as wat jy kan, moet optree, en dan iets waaghalsig doen. “Show! Show! Show! Ontmoet so veel as moontlik mense en connect met so veel as moontlik mense. Ongelukkig gaan dit maar grootliks oor wie jy ken. Sodra jy jou brand het, doen iets groots.”
Die vertoning vind 7 Mei om 18:00 by Aandklas plaas. Kaartjies is op Quicket beskikbaar en dit kos R60 om die vertoning by te woon.