Latest Post

Sustainability on campus  Maties Climbing: a petition to keep the wall Varsity Cup: new point system?By Pumpkins galore: annual Pumpkin Day at Babylonstoren
By Zandri van Greunen
Dr. Alfred Schaffer voor sy kantoor in die Lettere en Wysbegeerte-gebou. Foto: Zandri van Greunen

Dr. Alfred Schaffer, ’n bekroonde digter en ’n senior dosent verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (US), is in Desember 2025 as die wenner van die Van Ewijk-stigting se prestasieprys aangewys.

Dié toekenning, ter waarde van R100 000, erken individue wat presteer het ten opsigte van die Van Ewijck-stigting se doelstellings, naamlik om kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland te bevorder. 

Volgens Schaffer is sulke betrekkinge in ’n tyd van internasionale spanning baie belangrik. Dialoog vorm die grondslag van verstandhouding en wedersydse respek. “As die wêreld ’n dorp is, moet jy jou bure probeer leer ken,” het hy gesê.

Albei lande kan uit ’n gedeelde geskiedenis leer. Schaffer het gesê Nederland kan veral baie by Suid-Afrika leer, onder meer oor versoening, hoe om ekologiese uitdagings te benader, en wat diversiteit en multikulturaliteit beteken. Hy het gesê daar bestaan steeds groot onkunde in Nederland oor dié land se koloniale rol in Suid-Afrika.

Maak ’n verskil

Schaffer se ma was van die Karibiese eiland Aruba, en sy pa was ’n Nederlander. Schaffer het gesê sy lewensuitkyk is gevorm deur die verlies van familielede op ’n jong ouderdom, tesame met die gevoel dat hy as die kind van ’n swart ma altyd soos ’n buitestander in Nederland behandel is. 

Hoewel hy al jare lank in Suid-Afrika woon en werk, het Schaffer gesê dat om tuis te wees nie vir hom aan een plek gebonde is nie. Hy het verduidelik dat taal, aksent, humor en verskillende historiese ervarings soms ’n afstand tussen hom en Suid-Afrikaners skep, maar dat hy ook nie volkome tuis in Nederland voel nie. “Miskien kan ’n mens in meer as een land leef en steeds ’n verskil maak,” het hy gesê. 

Die prys erken ook Schaffer se werk waardeur hy met die breër Nederlandssprekende wêreld, soos die Karibiese Eilande en Suriname, in gesprek tree. 

“Daar is ’n verskil tussen om iets vír die gemeenskap doen en om dit sáám met die gemeenskap doen. Dit is dus belangrik om praktiese geleenthede te organiseer waar ’n klomp stemme gehoor kan word,” het hy gesê.

Schaffer het bygevoeg letterkunde speel ’n belangrike rol om mense nader aan mekaar te bring. Volgens hom leer lesers deur middel van literêre tekste hoe om hulself in ander mense se skoene te plaas, en op sy beurt bevorder dit empatie. 

“Letterkunde is vir my vertaling,” het hy gesê, en verduidelik dat verhale altyd oorgedra en herinterpreteer word oor verskillende tale, plekke en tydperke heen. 

Schaffer het gesê die toekenning het hom ook laat besef watter onverwagse wendinge sy lewe geneem het. “Ek het nooit gedink ek sou as ’n dosent in Suid-Afrika beland nie, want ek het nie my loopbaan so ver vooruit beplan nie. My pa het altyd gesê ek is ’n tipiese Sondagskind: ‘Jy werk hard, maar jy is ook gelukkig.’” 

Belangrike stemme

Dr. Amanda Marais, voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands, het gesê Schaffer speel ’n sleutelrol as akademikus en vertaler. Hy het reeds werke van onder andere Ronelda Kamfer en Antjie Krog in Nederlands vertaal en só belangrike Afrikaanse stemme aan ’n Nederlandse leserspubliek bekend gestel.

“As Departement is ons bevoorreg om iemand met die statuur van dr. Schaffer in ons midde te hê, en ons is dankbaar vir die manier waarop hy ons studente met sy kundigheid en onderrig inspireer,” het Marais gesê.

Schaffer is tans op navorsingsverlof en gebruik die tyd om op nuwe kreatiewe projekte te fokus. Hy het gesê die Van Ewijk-prestasieprys bemoedig hom om hierdie werk af te handel. 

Schaffer het al verskeie eerbewyse vir sy letterkundige werk ontvang, waaronder die gesogte PC Hooftprys in 2021.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.