Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Aurelia Mouton

Stellenbosch se strate, met goud-geel akkerblare, deurmekaar weer en ’n nuwe lovesong-enkelsnit, “Ontken”, vir studente vir wie die liefde hierdie seisoen beskore is. Cara Rossouw, HonsBA (Drama)-student aan die Universiteit Stellenbosch (US), sing vandat sy kon praat en droom al lank om haar liedjies met die wêreld te deel. Op haar eie terme, natuurlik, soos dit enige goeie, plat-op-die-aarde Afrikaanse kunstenaar betaam. 

“Ek het op laerskool sangkompetisies gedoen en op hoërskool in die stort gesing,” het Rossouw gegrap en verduidelik dat sy tydens die inperkingstyd oor die laaste twee jaar aan “Ontken” en ’n paar ander snitte wat moontlik binnekort vrygestel gaan word, skryf.

Rossouw het vertel dat sy as deel van haar voorgraadse program toneelstukke moes skryf en só vertroue in haar skryfvermoë gevestig het. 

“Ek het een dag besluit, weet jy wat, kom ek skryf lyrics en toe skryf ek ’n hele paar liedjies en herontdek daai passie wat ek eintlik al van kleins af gehad het,” het Rossouw gesê. 

Rossouw het verder gesê: “In my graad was daar min geleenthede vir sing, maar dié jaar doen ek kabaret en ewe skielik is daar al hierdie geleenthede vir sang, which is great. Ek geniet dit baie. Dis daai tipiese ding van ‘die deur sal oopmaak op die regte tyd’.” 

Haar Instagram-blad (@cararossouw) is vol videos van haar naastes se blind reactions op haar liedjie wat sy stil-stil oor die laaste jaar opgeneem en verfyn het met die hulp van Theo Mulder, een helfte van die indie-duo Kloudink. Rossouw is nie op kontrak nie en stel self haar musiek op verskeie aanlyn musiekplatforms, soos Spotify en Apple Music, vry. 

“Niemand het eintlik geweet nie! Nie my ma nie, nie my vriende nie. Ek wou nie almal vertel en dan is daar al hierdie hoë verwagtinge nie. [Die opname] het vir ewig gevat omdat ek swot. Almal was baie opgewonde omdat dit so uit die bloute was,” het sy gesê. 

JONK EN VERLIEF OP STELLENBOSCH Albumkuns van die enkelsnit “Ont-
ken”. Foto: Suanelle Steyn

Rossouw het vertel dat inspirasie maklik by haar kom kuier het en dat die liedjie oor die onsekerheid en teleurstelling van verlief wees op iemand wat nie heeltemal weet waar hulle staan nie en die verhouding “ontken”, gaan. Rossouw is een van min Afrikaanse kunstenaars wat oor queerliefde in Afrikaans sing en meen dis lankal tyd vir mense om musiek oor liefde te maak, ongeag tussen wie dit is. 

Oor die konserwatiewe lede van Afrikaanse gehoor het Rossouw gesê: “Ek wil sê dit was ’n moeilike keuse, maar dit was eintlik maklik vir my om te besluit ek gaan my musiek vrystel op my terms.” 

Sy het verder gesê: “Ja, dit is minder marketable, want my hele album cover is queer, maar ek het net gevoel dit is hoe ek dit wil doen. Ek wou dit true to me maak en dis die verskil tussen kuns maak vir geld en kuns maak vir jouself. Ek wil nie myself afwater nie.” 

LIEFDE BOT IN DIE BOSCH Amptelike foto van Cara Rossouw en haar meisie, Amore Heunis.
Foto: Suanelle Steyn

“Ontken” is op Spotify en Apple Music beskikbaar, met die musiekvideo wat ook binnekort gaan verskyn. Cara Rossouw beplan om haar naam nog lank in die musiekwêreld te hou.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial