Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Emma Hamman

Senior studente is in rep en roer oor hulle geliefkoosde Rocking Stellies wat vir die eerste keer ná die pandemie weer sy verskyning sal maak. Die sogenaamde “Pre-Bash”  vind die 22ste en 23ste April plaas, en studente gaan in massas na die Van der Stel-sportgronde vir hierdie geleentheid stroom.  

Rocking Stellies poog om die beste Suid-Afrikaanse kunstenaars met die grootste biertuin te kombineer om ’n jolige atmosfeer te skep. Volgens Jan-Harm Steenkamp, projekbestuurder van Rocking Stellies, deel plaaslike kunstenaars soos Loufi, Early B en Jack Parow die verhoog met internasionale kunstenaars soos Neon Dreams en Casey Lowry om ’n dag vol vermaak te bied. 

Hierdie geleentheid skakel met die “Rocking”-handelsmerk, wat feeste soos Rocking Stilbaai en Rocking Potch, insluit. “SA Concerts se algehele doelwit vir Rocking Stellies en die ‘Rocking’-handelsmerk is om vir studente ’n naweek van bekostigbare, ononderbroke musiek te bied,” verduidelik Steenkamp. 

“Wat dit so lekker maak, is dat die fees so sentraal is vir Stellenbosch-studente en dat die kaartjies so goedkoop is,” het Heinrich Naudé, finalejaar-BAgric-student wat in 2019 Rocking Stellies bygewoon het, verduidelik. Hy vertel verder van die lekker herinneringe wat hy in sy eerste jaar daar gemaak het en dat hy uitsien om hierdie jaar se geleentheid te beleef.  

“Hierdie musiekfees het in 2019 vir die eerste keer plaasgevind en al ons verwagtinge oortref te danke aan al die Maties wat hul verskyning gemaak het. Ongelukkig het ons nie die geleentheid gehad om die musiekfees in 2020 of 2021 aan te bied nie, maar ons is terug!” het Steenkamp vertel. Hierdie fees word gesien as die herlewing van studentefeeste ná die pandemie en wil ander organiseerders aanmoedig en inspireer om dieselfde te doen. 

Om hierdie geleentheid moontlik te maak, moet die COVID-19-regulasies wat deur die regering uiteengesit is, gevolg word. Rocking Stellies vereis dat feesgangers dus ’n bewys van inenting of ’n negatiewe PCR-toets, nie ouer as 72 uur nie, verskaf. Dit is egter ’n buitelugfees daarom is die dra van maskers nie verpligtend nie. Alhoewel slegs 50% van die fasiliteit se kapasiteit gebruik mag word, sal die atmosfeer steeds elektries en die geleentheid onvergeetlik wees. 

Die Pre-Bash in al sy glorie is egter slegs die voorganger vir die eintlike hoofgeleentheid, Rocking Stellies, wat beoog om in Augustus 2022 plaas te vind. 

Hierdie fees gaan kunstenaars vir Stellenbosch bied soos nog nooit tevore nie. Soos Jack Parow sal sê: “Ons gaan hard partytjie hou!”

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial