Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR CARLA VISAGIE

Die edele pogings van Stellenbosse vrouestudente in wye rokke en manstudente in interessante oorbaadjies, het met hulle landwye toere bygedra tot die totstandkoming van die Neelsie.

“As ywerige lid van die A.N.S. (Afrikaanse Nasionale Studentebond), het Andries Stulting in 1938, terwyl die gemoedere gaande was met die gees van die Eeufees, met die groot idee gekom dat die Stellenbosse studente iewers in hulle Mekka ’n plekkie moes hê waar hulle saam mag kom,” het Die Matie op 2 Augustus 1946 berig. Die 100-jaar-herdenking van die Groot Trek is in 1938 gevier.

Later het die boereorkes, joolkomitee, die SR, die universiteitskoor en die juniorbesture geld ingesamel daarvoor, volgens ’n artikel in Matieland (“Sy jonge vriend se erfenis”, 1983) deur prof. Bun Booyens, destydse redakteur van Matieland en professor in Afrikaanse kultuur- en volkskunde.

“Die Langenhoven-gedenksaal [vandag bekend as die Neelsie] is ’n lewende simbool van die unieke verbintenis tussen Langenhoven en die studente,” het Booyens gesê.

“Weinig groot persone in ons volkslewe, indien enige, het die studente van Stellenbosch so liefgehad en is met sulke innige agting deur die studente bejeen as [Langenhoven], die een wat hom selfs in sy grootste dae met die studente geassosieer het,” volgens ’n berig wat op 6 Mei 1955 in Die Matie verskyn het.

Die Neelsie is eers op 13 Augustus 1975 ingewy, aanvanklik met ’n dansbaan op die grondvloer. In 1982 is die eerste kafee, Loeloeraai, in die Neelsie aangebring, volgens ’n Matieland-artikel in 1982 (“Neelsie kry sy Loeloeraai”). Die kafeteria is volgens die artikel “vernoem na C.J. Langenhoven se verhaal oor ’n ruimteskip en die binneversiering is op hierdie en ander Langenhoven-verhale gebaseer”.

Stulting, saam met prof. Philip McLachlan, S.P. Botha en dr. Dawid de Villiers, het toe die Langenhoven-gedenksaalfonds en die Jan Pierewieters gestig.


PIEREWAAIERS Die Jan Pierewiet-geselskap van 1944. Foto: Die Matie, 2 Augustus 1946 

Hulle het dit eerstens gedoen om geld vir die Langenhovengedenksaal in te samel, en tweedens om volkspele en volksdansies te bevorder. Volgens Die Matie van 2 Augustus 1946 het dit die setees, polka, kleinpolka, vastrap en wals ingesluit.

Die artikel sê daar was met tye tussen 1939 en 1940 tot 800 studente by die Jan Pierewietersoefeninge. Dié groep het tot 1955 bestaan, volgens ’n artikel wat in 1983 in Matieland verskyn het (“Jan Pierewieters hou reünie”).

Hulle het in 1983, 28 jaar nadat hulle ontbind het, weer ’n saamtrek gehou – in die einste Neelsie waaraan hulle help bou het.

“Hoe merkwaardig was dit vir my dat ons klomp, elkeen op sy of haar eie manier, ouer geword het. En vir my dubbel merkwaardig – ek sit toe vir die eerste keer my voete in daardie gebou waarvoor ons al in 1938 reeds begin werk het,” het wyle Oom Kellie, oudonderwyser van Porterville in 1983 oor die reünie gesê in die Matieland-artikel.

’n Berig in Die Matie van 14 September 1945 lui dat “veral ‘Die Genadelose Slagter’ ” deur Con Hofmeyer, Erica Paulsen en Koekjan de Villiers ’n bekende nommer was.

“Dis egter jammer dat so baie van ons studente skynbaar die bioskoopsaal verkies bo so ’n puik eg-Afrikaanse konsert,” luidens die artikel.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial