Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR MART-MARIÉ SERFONTEIN

“Die Universiteit van Stellenbosch (US) het ontstaan vanweë die behoefte by die Afrikaner vir tersiêre opleiding.” Dít was prof. Mike de Vries, rektor in 1985, se woorde nadat Die Matie hom gevra het of Stellenbosch ’n universiteit vir Afrikaners is. 

“Dit is so dat die grootste ondersteunerskorps van die universiteit ons Afrikaanssprekende gemeenskap is,” het De Vries gesê.

De Vries se stelling is ’n samevatting van die algemene gevoel aangaande Afrikaans wat jare lank op die Stellenbosch-kampus geheers het. 

Vir ’n lang tyd was daar geen sprake van konflik oor Afrikaans se status as voertaal aan die universiteit nie. Sake wat in Die Matie aandag geniet het, het eerder gehandel oor inklusiwiteit by die universiteit, soos onder meer duidelik geblyk het in die uitgawe van 17 Oktober 1941. In dié uitgawe is die universiteit se standpunt oor die insluiting van verskillende rassegroepe as volg ge-stel: “Insluiting van ‘nie-blankes’ sal nie geduld word nie.”

Taalsake het ook ter sprake gekom tydens SR-verkiesings. SR-kandidate se beleidsverklarings is in Die Matie van 8 Mei 1959 gepubliseer. Van die kandidate het hulleself “beywer vir die verbetering vir kontak tussen Afrikaanse en Engelse studente”.

In die 1960’s het die SR studentebriewe in Die Matie begin publiseer. In 1967 het ene Geoff McMinn ’n Engelse brief gerig aan Boy Geldenhuys, die destydse SR-voorsitter, waarin hy ’n oproep gedoen het vir die vereniging van Afrikaanse en Engelse studente. McMinn het vir Geldenhuys gevra of Afrikaanse en Engelse individue nie byeen kan kom om ideologiese verskille opsy te skuif nie. Hy het gesê studente moet hulle nie blindstaar teen die ooglopende verskille tussen hulle nie, maar hulle moet fokus op dít wat hulle in gemeen het, naamlik dat hulle almal Suid-Afrikaners is. 

Cobus Kotzé het in die uitgawe van 26 Mei 1978 geskryf oor verdeeldheid op die kampus van die Universiteit van Pretoria (UP) oor “oop universiteite” nadat “Stellenbosch die eerste Afrikaanse universiteit [geword het] wat oopgestel is vir anderskleuriges”.

Die US was op voorgraadse vlak toe net vir witmense oopgestel, maar ander rassegroepe kon wel nagraads studeer. Kotzé het geskryf UP-studente het gemeen dat die moontlike oopstelling van hulle universiteit die “karakter en kultuur van die universiteit negatief sou beïnvloed”. 

Hierdie gevoel het toe ook op Stellenbosch geheers, soos te sien was in ’n brief deur Hannes Koegelenberg, hoofbestuurslid van die Afrikaner Studentebond (ASB), ’n onafhanklike studenteorganisasie wat Afrikanerstudente se belange bevorder het. Volgens Koegelenberg was die US ’n Afrikaanse universiteit omdat 90% van die studente suiwer Afrikaans gepraat het. Volgens hom het dit bewys dat die US ’n Afrikaanse karakter gehad het en homself by ander Afrikaanse universiteite moes skaar. Koegelenberg het ook gemeen Engelssprekende studente het na die US gekom met die wete dit is ’n Afrikaanse universiteit. Hierdie argument is jare later weer tydens debatte oor die taalbeleid opgehaal.

In die laat 1980’s, rondom die tyd van De Vries se uitspraak soos genoem in die inleidingsparagraaf van hierdie berig, het die SR ’n mosie aanvaar om universiteits-koshuise vir alle rassegroepe oop te stel, maar dat Afrikaans steeds as voertaal van die universiteit behoue moes bly. Dit is een van die vroegste verwysings na die feit dat taal ’n twispunt aan die US is.

Dirk Binneman, ’n US-student in die laat 1980’s, het vroeër vanjaar kommentaar gelewer oor die atmosfeer wat toe op kampus geheers het. 

“Afrikaans as voer- en onderrigtaal was definitief die norm. Ons sou nooit kon dink dat dit anders sou wees nie. Daar was Engelse studente, maar hulle sou meestal sosiaal verafrikaans het. Met die ontbanning van die ANC het daar gou ’n bewustheid begin posvat dat dinge kan en gaan verander.”

Binneman het gesê die meeste besprekings was oor die voortbestaan van Afrikaans as amptelike taal van Suid-Afrika en dat niemand gedink het dit sou as onderrigtaal vervang word nie. Met Suid-Afrika se terugkeer na die internasionale gemeenskap kort voor 1994, het Engels as aka-demiese taal gewilder geword. Hy meen dit het grootliks bygedra tot die situasie rondom Afrikaans.

In 1990 het die US en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se SR’e ’n vergadering gehou waaroor Die Matie in die uitgawe van 10 Augustus berig het. UWK se SR het aan die US gesê Afrikaans sal as voertaal afgeskaf moet word indien die universiteit toeganklik wil bly. Die US se SR het egter gesê hy sal aanhou om hom te beywer vir Afrikaans as voertaal.

In 1991 het Francois Groepe, toe prim van Goldfields, geskryf dat daar definitief ’n plek vir Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika sal wees en dat die US se taalbeleid dit moet ondersteun. 

Die taalkwessie was weer in die soeklig nadat die US in 1992 ’n beleid aanvaar het wat Afrikaans formeel as die universiteit se voertaal erken het, soos berig in Die Matie van 30 Oktober 1996. Voorheen was Afrikaans algemeen as voertaal geag, maar nou was dit amptelik. Dit het heelwat ongelukkigheid op kampus veroorsaak, en sommige het dit as ’n politiese maneuverbeskou. Die Matie het destyds daarop gewys dat die US die enigste universiteit in die land was met só ’n beleid.

In 1995 is parallelmedium-onderrig as moontlikheid voorgestel, maar dit is afgekeur weens die hoë koste daaraan verbonde. Die Vryheidsfront Plus het destyds geargumenteer dat Engels-sprekende studente na die UWKen die Universiteit van Kaapstad kon gaan, terwyl die South African Students Congress (SASCO) die idee van parallel-mediumonderrig geprys het.

In 1996 het Die Matie ’n artikel gepubliseer nadat die Nasionale Kommissie vir Hoër Onderwys ’n verslag met aanbevelings oor universiteite se onderrigtale bekendgemaak het. In daardie jaar het statistieke getoon dat 71% van studente aan die US Afrikaans was, 2% tweetalig, 22% Engels en 5% anderstalig. Dit was in teenstelling met nasionale syfers, naamlik 18% Afrikaans en 11% Engels.

In 2000 het Adriaan Basson van Die Matie geskryf oor ’n ondersoek oor die haalbaarheid van parallelmediumonderrig. Daar is bevind dat Afrikaans steeds die amptelike voertaal sou wees, maar dat Engels in sommige studierigtings gelyke status sou geniet. In daardie jaar het prof. Andreas van Wyk, toe rektor, erken ’n eksklusiewe Afrikaanse universiteit was nie meer realisties nie.

Die US se eerste amptelike taalbeleid is einde 2002 gepubliseer nadat studente en akademici voorstelle kon maak. 

“Afrikaans is as enkelmediumdie verstektaal vir voorgraadse kursusse. Dosente kon egter ook ’n T-opsie gebruik waarvolgens Afrikaans en Engels in een klas gebruik kan word. Dit is egter beperk tot eerstejaarklasse en Afrikaans sal die primêre onderrigtaal bly,” het prof. Hermann Giliomee in ’n artikel op die webblad Stellenbosch-writers.com geskryf.

Die taalbeleid is in 2016 aangepas en word nou weer hersien. Al die inligting is hier beskikbaar: www.sun.ac.za/afri-kaans/meer-oor/language.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial