DEON DE KOCK, SR-lid verantwoorderlik vir Radio Matie in 1979, in wat toe die splinternuwe, ateljee was. Dié ateljee is deur ’n derdejaar ingenieurstudent gebou. Foto: Die Matie

MFM Move Maties Al 42 Jaar Lank

DEUR KARLA VAN DER MERWE

Frustrasie is om nie na Radio Matie te luister nie. Só het prof. Mike de Vries, rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) van 1979 tot 1993, tydens die opening van die kampusradiostasie gesê. Radio Matie, soos dit toe bekendgestaan het, is op 1 Maart 1979 gestig onder die leiding van Deon de Kock, 1979 SR-lid verantwoordelik vir die Langenhoven-gedenksaal (oftewel die Neelsie).

In 1981 het Die Matie berig dat die radiostasie daarin kon slaag om tot op die Tygerberg-kampus uit te saai, “hoewel die klankgehalte nog nie onbesproke is nie”. Radio Matie sou in daardie stadium jaarliks R60 000 se inkomste deur nasionale advertensies verdien, het Die Matie berig. Die radiostasie het ook toe sy eie publikasie, Rubato, uitgegee met nuus oor kunstenaars, musiek- en filmresensies sowel as nuus oor die radiostasie self. Dié publikasie het volgens Die Matie in 1983 lof ontvang van groot platemaatskappye en die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK).

Een van Radio Matie se funksies was om musiek aan die Neelsie te verskaf – iets wat Maties van 1979 af baie geniet het. Studente se enigste kritiek (volgens Die Matie se berig op 23 Maart van daardie jaar) was dat die musiek, ironies genoeg, te hard was. Hoewel studente “van dié spesie is wat kan praat en luister tegelyk”, was die musiek te hard vir studente om mekaar te hoor.

Radio Matie het in sy begindae slegs 13 aspirant radio-omroepers opgelei, met die oog om dit na 25 te vermeerder, maar sedertdien is dosyne omroepers opgelei waarvan sommige groot sukses in die mediabedryf behaal het. Ignatius Vlok, ’n aanbieder en regisseur by die nasionale radiostasie RSG en oudpersoneellid by MFM, het aan Die Matie gesê hulle het slegs 42 CD’s gehad om te speel toe hy op MFM uitgesaai het.

HOE DIE ateljee deesdae lyk. Foto: Jan-Willem Lotz

“Jy het ook jou eie musiek van die huis af gebring. Daar was ook die opsie om plate en kasette te speel. Advertensies was van kasette afgespeel,” het Vlok gesê.

Die radiostasie het ook verskeie naamveranderinge ondergaan. Vlok het gesê hy het van 1997 tot 2015, die tydperk wat hy by die radiostasie gewerk het, dit as Radio Matie, Matie FM en MFM geken.

Martelize Brink, ’n bekroonde omroeper by RSG, het in 1999 by MFM aangesluit. Sy het aan Die Matie gesê hulle het in daardie stadium vanweë wetgewing van ’n studente-radiostasie na ’n gemeenskapsradiostasie verander. Hulle moes dus om ’n spesifieke uitsaailisensie aansoek doen.

“Ons was een van vier stasies in die Wes-Kaap wat dit in daai stadium toe gekry het. So ons moes baie doen om te bewys dat ons ’n volwaardige gemeenskapsradiostasie kon wees en nie net vir studente cater nie.”

Dit het beteken die radiostasie moes alle programme herskryf en aanpas volgens ’n nuwe teikengehoor. In daardie stadium het MFM meestal musiek uitgesaai, maar vanweë lisensievoorwaardes moes meer geselsprogramme deel word van die programskedule.

Brink het gesê hulle het vinnig meer onderhoude begin reël, en toe die programbestuurder niemand kon kry om ’n program aan te bied nie, het sy aangebied om te probeer. Sy het aan die programbestuurder verduidelik hoewel sy nie geweet het hoe om uit te saai nie, sy vinnig sou probeer leer. Nadat sy ’n dag lank saam met ander omroepers gewerk en geleer het, het sy die volgende dag self agter die mikrofoon ingeskuif.

“Dit was baie rof; dit het gevoel asof ek ’n maraton gehardloop het ná die tyd, maar dit het baie goed gegaan. Die stasiebestuurder het nog vir my gevra: ‘Is jy seker jy het nog nie voorheen uitgesaai nie?’ So dit was vir my baie natuurlik en ’n gemaklike proses.”

Brink het gesê een van die dinge wat haar die meeste bybly van haar tyd by MFM, was hoe baie sy kon leer ongeag hoe min formele opleiding sy gekry het. Sy het vertel daar was in daardie dae nie eintlik iemand wat hulle behoorlik touwys kon maak nie.

“Die vorige ouens het ook maar hulle pad gevoel en so aan, en in ’n stadium moes ons alles self doen. “Ons het nie regtig geld gehad om vreeslik vir mense te betaal nie, so ek het al die advertensies produce. Later was ek ook die music compiler, want die ou wat dit eers gedoen het, het dit as vrywilliger gedoen.”

Vlok het dit beaam en gesê sy opleiding was slegs een Vrydagmiddag se wysmaaksessie lank oor wat om met die verskillende knoppies te doen.

Jan-Willem Lotz, ’n omroeper wat nou oor MFM se luggolwe gehoor kan word, sê hy het in 2019 by die span aangesluit nadat hy aan die radiostasie se aanbiedersoektog deelgeneem het. “Ons het toe ’n presenter training gedoen en dan aan die einde, as jy dit suksesvol voltooi het, is jy ’n MFM’er en kry jy ’n program op die lineup.”

Hy voeg grappenderwys by dat dié eerste program dikwels in die vroeë oggendure is totdat hulle meer ondervinding opdoen. Lotz sê MFM se rol op kampus is om almal (studente en die wyer publiek) op hoogte te hou met die jongste en akkuraatste nuus, mense te vermaak en “vir seker mense te laat move to the music”.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial