Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR JACQUES MARAIS & CARLA VISAGIE

Sedert die koerant se eerste uitgawe op 1 Augustus 1941, was Die Matie se verslaggewers langs die sportveld gewapen met ’n notaboek om die grootste oomblikke van kampussport vas te vang. Daar was die Francois Pienaars in rugby en die Craig Tileys in krieket, maar ook die Kaas Herlés van die Blou Bliksems-sokkerspan en die Akira Coetzees van sporte soos die Universiteit Stellenbosch (US) se skermklub.

SPORTSOORTE WAT GEWILD GEBLY HET DEUR DIE JARE

Die ruitbreeksport – krieket

Enige tyd van die dag op byna elke grasperk “[kon] jy… ’n kolwer voor ’n kassie of ’n boomstam sien staan”, het Die Matie op 19 Augustus 1955 berig. 

Maties het reeds krieket gespeel voor die US universiteitstatus behaal het, met die eerste studentekrieketspan wat reeds in 1912 – toe die US nog as Victoria Kollege bekendgestaan het – gestig is. Dít is volgens navorsing van Gavin Stander, ’n oudstudent aan die US in opvoedkunde. Hy meen krieket was in die vroeë 1900’s “by verre die gewildste”.

“Insoverre dit die insit van ruite aanbetref, dink ek [dat] ons owerhede liewers wou gesien het dat ’n Springbok-albasterspan [as ’n krieketspan] oorsee gestuur is,” het Die Matie in die 1955-artikel berig.

In die krieketseisoen van 1997 tot 1998 is ’n vroueliga begin met deelname van byna alle vrouekoshuise. ’n Span is ook uit dié liga gekies om aan die volgende seisoen se Boland Dameskrieket-liga deel te neem.

Maties Krieket het al ondermeer krieketlegendes soos Craig Tiley, Kepler Wessels en Jonathan Trott opgelewer.


SESSE Maties Krieket in die Varsity- sporttoernooi van 2018. Foto: Die Matie

Bofbal

Bofbal (baseball) was ook ’n gewilde kolfsport by die US en daar was selfs op ’n stadium, veral tussen die 1940’s en 1950’s, die oortuiging dat dit krieket sou vervang, aangesien dit destyds “gaandeweg die guns van die sportpubliek verower het”, soos Die Matie in 1946 berig het.

“Krieket, wat al jare die ereplek as somersportsoort ingeneem het, loop gevaar om uit hierdie posisie gelig te word,” het Die Matie se sportredakteur in ’n rubriek van 22 Maart 1946 geskryf.

In 1946 het “[bofbal]klubs soos paddastoele in die Westelike Provinsie opgeskiet”, en Maties het selfs Intervarsity-bofbal gehou.

Rugby

Die Rugbyvoetbalklub van Stellenbosch is, volgens die Maties Rugby-webtuiste, in 1875 gestig. Dié klub is ook, volgens die navorsing van Isabelle Huys (’n oudstudent in sportwetenskap) die tweede oudste rugbyklub in die Suidelike Halfrond. Dit is egter eers in 1923 wat dorpsmense, nie studente nie, hulle eie klub gestig het en van die studente se klub onttrek het. 

Doc Danie Craven, Mannetjies Roux en Piet (Spiere) du Toit, rugbylegendes oor wie daar vandag steeds in sportkringe gepraat word, was van die groot rugbyspelers wat in die vroeër jare bekendheid verwerf het deur vir Maties Rugby uit te draf.

Die Matie het op 8 Oktober 1954 berig “Piet se krag is ongeëwenaard in Suid-Afrika en enige rugbyspelende land”.

“Piet hoef nie eers te stoot om jou seer te maak nie; hy doen dit alreeds as hy sy vere regskud om te stoot,” berig dié artikel. 

Du Toit, wat die oupa van Springbokspeler en 2019 Wêreldrugbyspeler van die jaar Pieter-Steph du Toit is, het 14 wedstryde vir die Springbokke gespeel.

Net ná Roux in 1960 uitgevind het dat hy gekies is as deel van die Springbok-span, het Die Matie in sy skinderkolom, “Deur die sleutelgat”, berig hoe “ontsteld” sy destydse meisie, Charlotte Joubert, was. Vandag is dié twee getroud.

Een van die meer onlangse groot rugbyname wat Die Matie in ink op hulle bladsye verewig het, is dié van Francois Pienaar, wat Springbok-kaptein was toe die Springbokke die wêreldbeker in 1995 gewen het. 

Die Matie het reeds oor Pienaar berig toe hy vir Maties se tweedespan uitgedraf het.

Terwyl die Maties-eerstespan verloor het, het dié span vir Ikeys 45-3 tydens Intervarsity verslaan, met Pienaar, Johan Burger en Francois Dercksen as losvoorspelers. Dié trio het “groot bresse in die Ikey-verdediging geslaan met stewige dryfspel”.

In 1949 is die eerste koshuisrugbykompetisie gehou om diegene wat nie deel kon wees van die ses rugbyspanne van die tyd nie ’n plek te gee om deel te neem aan mededingende rugby. 

Die eerste vrouespanne vir Maties Rugby het in 2003 deelgevorm van die Stellenbosch Rugbyvoetbalklub en in dieselfde jaar is ’n vrouespan gekies vir die Intervarsity tussen die Maties en Tukkies.

Skermsport

Die Matie het reeds 10 jaar ná sy ontstaan op 19 April 1951 berig oor die Matie Skermklub (fencing), en vandag bestaan dié klub steeds. In hierdie jaar het Die Matie berig dat die skermklub “[elke Woensdagaand] druk besig met hulle oefeninge” was ter voorbereiding vir Intervarsity teen Ikeys in Johannesburg. Akira Coetzee, die Maties Skermklub se kaptein en kranige skermer, het in 2020 tweede plek behaal in die Wes-Kaapse Ope seniors (bo-20) saberkategorie, volgens ’n 2020-berig in Die Matie. 

Dié prestasie het vir Coetzee die vyfde beste skermer in Suid-Afrika gemaak.

*Skermsport is ’n soort krygskunde en die doel is om die opponent met ’n wapen aan te raak terwyl die deel-nemer homself beskerm teen die ander opponente.


EN GUARD Die US-skermklub was die grootste skermklub in die land in 1995. Foto: Francois Rubenheimer

Sokker


DINAMIET Aristea was onoorwonne in 1987 se sokkerliga vir vroue. Foto: Die Matie 

Die Matie Sokkerklub is in 1948 afgestig van die Van der Stel-sokkerklub, maar hulle kon nie in 1950 speel nie, aangesien Van der Stel die terrein waar hulle geoefen het as parkeerterrein begin gebruik het. Dít is volgens ’n berig in Die Matie van 19 April 1951. Doc Craven was die president van die sokkerklub toe dit in 1951 hervestig is en in daardie jaar het die Matie-sokkerspan toegang gekry tot veld E by Coetzenburg. Sokker het sedertdien meer gewild geraak en dit het later deel van Intervarsity geraak met ’n koshuisliga wat ook gestig is.

’n Artikel in Die Matie van 19 Augustus 1955 het een van dié koshuisligawedstryde tussen die Blou Bliksems (’n groep PSO-studente) en Huis Visser so beskryf:

“Die toneel van warrelende bene en botsende liggame word slegs nou en dan onderbreek as daar meer as drie spelers uit aksie is en die eerstehulpman, Wolf Weideman (gekwalifiseer onder Suster Sonskyn) om nuwe lewe met sy waterkannetjie in te giet.”

Die Blou Bliksems het onder leiding van kaptein Kaas Herlé gelykop gespeel met Huis Visser, met twee doele elk. Die Matie se sportverslaggewer was egter van mening dat “as [hy] ’n nasionale sokkerkeurder was, [hy] die Blou Bliksems [sou] dophou”.

NUWE SPORTE

Vreemde, vlieënde frisbees

Die Maties Ultimate Frisbeeklub se leuse is “Gooi die Disc!!” en is in 2012 gestig om Ultimate Frisbee as sport te bevorder, volgens ’n berig in Die Matie van 2019. Dié sport het slegs 10 reëls, en spelers het 30 sekondes om hulle eie geskille op te los. Die reëls van die spel sluit onder meer in dat spelers nie met die frisbee mag hardloop nie en daar is sekere doelareas (soos netbal) waar doele aangeteken mag word.

Drie Maties het in hierdie sport al só gevorderd geraak dat hulle in Julie 2019 Suid-Afrika by die Wêreld Vlieënde Skyf Federasie (WFDF) verteenwoordig het (Die Matie, “Three Ultimate Maties take off”).


DIE ULTIMATES Maties Ultimate in aksie in 2018. Foto: Francois Lombard

SPORTE WAT GEKWYN 

HET DEUR DIE JARE

Veral in die 1940’s en 1950’s het Maties groot belangstelling getoon in stoei en boks en daar was selfs ’n koshuisstoeiliga. 

Nuus oor jukskei (’n sport waar die oogmerk is om ’n paal om te gooi wat tussen 11-16 m ver is) en sagtebal (’n sport wat soortgelyke reëls as bofbal het, maar wat binnenshuis met ’n kleiner baan en sagter bal as bofbal gespeel word) was ook volop in Die Matie se argiewe.

Ander sporte wat nie meer by Maties aangebied word nie, sluit ondermeer polo, fietsry en gholf in.


YSTER Ian Jones was die enigste bokser om in 1960 ’n WP-titel te wen. Foto: Die Matie
Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial