Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR JEAN-MARIE UYS

Byna 70 jaar lank is die nuwe universiteitsjaar ingewy deur die samekoms van studente om ’n gemeenskaplike doelwit te verwesenlik – hetsy om geld in te samel, eerstejaars te verwelkom en kampuslewe op ’n hoë noot te begin. Hierdie aktiwiteite het voorheen as Karnaval bekend-gestaan, maar deesdae word nog net Vensters aangebied. 

Karnaval 

Wat in 1952 as ’n kermis begin is om geld in te samel vir die bou van die destydse Langenhoven-gedenksaal, vandag bekend as die Neelsie-studentesentrum (vernoem na C.J. Langenhoven), het ontaard in ’n jaarlikse sosiale tradisie. Soos die jaarlikse kermis meer aandag onder studente begin geniet het, het die geleentheid stelselmatig ontwikkel tot wat Karnaval genoem is. Karnaval het elke jaar ’n tema gehad wat deur verskillende aktiwiteite uitgebeeld is. 

In 1964 het hierdie sosiale geleentheid met die stigting van die Universiteit van Stellenbosch se Kleurlingorganisasie (Uskor) probeer om die hele kampus by ’n geldinsamelingsveldtog te betrek. 

Hierdie veldtog se doel was om die gratis dienste te onder-steun wat hierdie organisasie aan bruin gemeenskappe in die Stellenbosch- en Tygerberg-gebied gelewer het. Vandag staan Uskor bekend as Matie Gemeenskapsdiens (MGD). Dit is ’n niewinsgewende organisasie wat dienste lewer en ontwikkelingsprogramme bied aan omliggende gemeenskappe om lewensgehalte te verbeter. 

Van Rooyen Terblanche, ’n Majuba-inwoner, het in Die Matie van 29 Februarie 1980 gesê: “Die belangrikste van Karnaval moet wees dat elkeen sal terugkyk en sê: ‘Ek het dit geniet, dit was vir my lekker’.” 

Karnaval het dus twee vlieë met een klap geslaan deur studentepret met gemeenskaps-diens te kombineer. 


KARNAVAL-MAL Die Matie se voorblad van 29 Februarie 1980. 

“Die doel van Karnaval is om geld te maak, so al wat ek kan sê is dat dit ’n baie prettige manier is om geld in te samel,” het ene M. Nel van Nemesia in die dieselfde uitgawe gesê. 

Elna Hamman het in Die Matievan 13 Maart 1985 gesê: “Mense verkeer dikwels onder die wanindruk dat die geldinsamelingsveldtog tydens Karnaval alleenlik die venster-versierings en vlotte insluit. Ander aktiwiteite, soos die verkoop van kaartjies vir ’n motorkompetisie, Maties’ Day at the Races en die Debutante- en Karnavalmeestersbal is ook gereël om geld in te samel.” 

Die bou van vlotte deur mans- en vrouekoshuise wat in pare saamgewerk het en die gepaardgaande vlotoptog deur Stellenbosch se strate, is voorheen as die hoogtepunt van Karnaval beskou. 

Daar is van studente verwag om geld in te samel vir die nodige materiale om die vlotte mee te bou en kostuums te maak, hetsy deur eksterne borge te nader of deur die alombekende “blikskud”-metode in die strate te gebruik. Die vlotte is beoordeel om te bepaal watter koshuispaar se vlot koning sou kraai. 

Hoewel Karnaval meestal positief ervaar is as ’n tydperk van feesviering en om hegte vriendskapsbande bou, het dit nie kritiek vrygespring nie. 

Die US-owerhede het in 1960 reeds gemaan dat “te veel tyd en energie verspil word op ’n organisasie soos die jool” en dat die winsmarge van so ’n geleentheid te nou is om voort te duur. Karnaval het egter tot die 1990’s voortbestaan, maar is later tydelik opgeskort weens ’n kombinasie van faktore, onder meer partytjiegangers wat moeilik beheer kon word. 

Jannie Theron, Dagbreek se HK-lid vir media, het in Die Matie van 16 Februarie 2000 gesê alkoholmaatskappye se ywer om as borge betrokke te wees, kan toegeskryf word “aan die feit dat Karnaval sinoniem met alkoholgebruik is, volgens die studente se opvattings”. 

Die universiteit het dus ’n veiliger en meer opbouende alternatief versoek wat eerstejaars se oriënteringsweek kon afsluit. 

Nadat die primkomitee op 5 Mei 2011 ’n mosie aanvaar het dat Jou Onbaatsugtige Offer vir Liefdadigheid (JOOL)-komitee (voorheen genoem Karnaval) vanaf 2012 moes ontbind, het vlotoptogte vir die laaste keer in 2011 plaasgevind. Dít was volgens ’n verklaring deur die primkomitee van 2010/2011. 

Die primkomitee het gevoel hierdie besluit is “in die beste belang van alle toekomstige eerstejaars”. Hierdie besluit “sal tot beter akademiese en sosiale integrasie en uiteindelik tot die sukses van studente lei”, het die verklaring gelui. 

Vensters 

Die Matie het in 2000 só oor Vensters geskryf: “Voor waarderende gehore (naamlik minder nugter seniors en meer entoesiastiese ouers) kry eerstejaars die geleentheid om meer kreatief om te gaan met die gras voor hul koshuis.” 

Koshuise en PSO-wyke werk steeds in pare saam om Vensters tydens die verwelkomingsweek aan te bied. Soos vroeër jare, handel Vensters steeds oor ’n breë tema wat die studente interpreteer en ten toon stel. 

Vanweë Covid-19-maatreëls wat vanjaar nog tydens die verwelkomingsweek gegeld het, moes die universiteit se Connect-komitee improviseer om steeds die jaarlikse Vensters-opvoerings aan te bied. 


MAJUDIA Studente van Lydia en Majuba in 2020 tydens Vensters. Foto: @maties_connect Instagram 

Vir die eerste keer in die geskiedenis is Vensters toe vanjaar aanlyn aangebied. Groepe moes ’n video-optrede van 15 minute instuur, wat 48 uur lank aanlyn beskikbaar was aan die publiek wat kaartjies vir die geleentheid gekoop het. 

Kaartjiehouers kon ook stem vir hulle gunstelingvertonings. Anders asvoorheen het die publiek se stemme bygedra tot die algehele aanwysing van die wenner, wat voorheen slegs deur beoordelaars bepaal is. Vanjaar se wenners was Lydia, Helderberg en Metanoia. Die wins wat deur middel van Vensters gemaak is, word aan die betrokke koshuise en PSO-wyke se gemeenskapsdiens-projekte toegeken. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial