Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR MARYNA ADSHADE

’n Gekwalifiseerde hondehanteerder, LitNet se stigter en redakteur, iemand wat vier tale magtig is, redakteur van Die Matie in 1977/1978 was, ’n student wat allerhande “inkriminerende dokumente” van die veiligheidspolisie moes wegsteek, en deesdae ’n bekroonde skrywer: Etienne van Heerden woeker met sy vele talente. 

Danksy sy laaste drie hoërskooljare wat hy in Paul Roos Gimnasium deurgebring het en as oud-Matie, het Van Heerden verskeie interessante mense in die Eikestad ontmoet. 

“Ek het as ’n skoolkind en student aan huis gekom van die filosoof Johan Degenaar, die digters D.J. Opperman en W.E.G. Louw, die kortverhaalskrywer Hennie Aucamp, die natuur-wetenskaplike Con de Villiers en andere. My mond het oopgehang in die studeerkamers van hierdie mense,” het Van Heerden onlangs aan Die Matie gesê. 

Hy het gesê dit was juis danksy hierdie ontmoetings en kennisse dat sy skrywersloopbaan begin het: “My ma het Hennie Aucamp geken en hy’t gesorg vir my eerste publikasie in boekvorm.” 

Sy loopbaan is ná al die jare nog op dreef. ’n Engelse vertaling van sy mees onlangse roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, wat in 2019 verskyn het, verskyn later vanjaar. Die romansier Henrietta Rose-Innes is die vertaler. Van Heerden waarsku egter dat dié roman oor identiteitspolitiek (ook op kampusse) en sogenaamde surveillance capital nie deur enige leser geniet sal word nie omdat “dit as roman op baie tone trap”. 

“In die algemeen hou ek nie baie van my eie skryfwerk nie en ek herlees nooit my eie boeke nie. Ek is altyd te bewus daarvan dat ’n gegewe voltooide roman maar één moontlikheid was om daardie spesifieke storie mee te vertel; ’n beter skrywer sou ’n ánder manier van vertel gekies het.” 

Van Heerden het gesê hy onthou nie sy boeke en karakters nie, want “dis agter, onvolkome en weg”. 

Anders as wat lesers dalk sal verwag, het Van Heerden gesê hy het nie ’n natuurlike aanleg vir tale nie, oftewel nie om dit aan te leer nie. 

“Ek is vrot met die optel van tale. Dis seker waarom ek letterkundige en skrywer geword het eerder as taalkundige.” 

Van Heerden is egter nietemin verskeie tale magtig, naamlik Duits, Afrikaans, Engels en Nederlands. Hy het gesê hy het as laerskoolkind sy Xhosa-vaardighede goed ontwikkel, maar dit het mettertyd verlore gegaan. 

“Interessant dat ek ’n oor vir Italiaans het; dis waarskynlik danksy Latyn op universiteit.” 

Hy het aan die Universiteit Stellenbosch, Rhodes-universiteit en die Universiteit van die Witwatersrand studeer, maar hy het gesê sy interessantste studentedae was aan die Universiteit van Iowa in Amerika. Daar het hy as een van sestig gepubliseerde en meestal bloedjong skrywers uit verskillende lande aan ’n kreatiewe skryfwerkprogram deelgeneem. 

Hoewel die meeste mense waarskynlik aan Van Heerden as ’n skrywer dink, is daar baie aan hom waarvan aanhangers nie noodwendig weet nie. 

Op ’n vraag oor enigiets interessants of selfs vreemd oor hom, het hy baie te sê gehad. 

“Ek is as prokureur toegelaat tot die sybalie [’n afgeslote ruimte in ’n hof vir prokureurs]. Ek het strafsake in landdroshowe hanteer en was al senior personeellid en direkteur van ’n reklamemaatskappy in die jare toe Kaapstad na traangas en parfuum geruik het en die onlustepolisie marsjerendes met pers water bespuit het.” 

Verder is sy kabaretlied “Kwela vir Mandela” deur die groep Cutt Glass in die parlement vir oudpres. Nelson Mandela gesing. Boonop is hy met net een siende oog gebore. Ander staaltjies is dat hy in sy studentejare al baie laatnagte Koos Bekker, nie-uitvoerende voorsitter van Naspers en oudredakteur van Die Matie in 1975, se “skedonk van ’n Beetle voor my huis moes stoot om dit aan die gang te kry” en dat hy al met oortuiging in tale gepraat het nadat Koos Kombuis hom “met ’n bewende hand gedoop het, in die dae van die hippiebeweging en psigedeliese dwelms”. 

Van Heerden se raad aan studente, veral diegene wat ’n toekoms in publikasiewerk en die mediabedryf najaag, is: “Gebruik jou tyd by Die Matie (of ander studentepublikasies) om te leer om soos ’n tier te konsentreer op ’n stuk teks op die skerm. Gebruik ook jou tyd om jou kop oop te maak, die tye en sosiohistoriese konteks waarbinne jy leef behoorlik te bekyk, uit die klein enklawe uit te dink, en om altyd by deadlines te hou.” 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial