SKATTEJAG - PRET se Hidden Treasure Stellenbosch-skattejag vind op 16 Oktober plaas. Foto: Verskaf deur PRET.

’n PRET-geleentheid wat Goud Werd is

DEUR KARLA VAN DER MERWE

“Wen R10 000!” – daar is min uitdagings wat só aanloklik klink. Dié uitdaging verwelkom Stellenbossers soos hulle die webwerf van die nuwe inisiatief, PRET, oopmaak om meer te leer van hulle eerste avontuur: Hidden Treasure Stellenbosch, ’n skattejag in die Eikestad.

PRET is onlangs deur twee Stellenbosse inwoners gestig en beoog om “pret te skep, pret te hê, en ook sodoende die gemeenskap te dien”. Die stigters wil graag eerder anoniem bly om meer fokus te plaas op hulle projekte en PRET se missie van gemeenskapsdiens. 

“Ons glo dat pret in die werksplek bydra tot ’n aangename werkskultuur, asook bydra tot ’n toename in kreatiwiteit en self-motivering. Ons wil dus, onder andere, lekker spanboubyeenkomste reël,” verduidelik een van die stigters. 

PRET se stigters sê verder dat hulle motivering is om mense aan te moedig om plaaslike besighede te ondersteun, maar ook vir dié besighede om mekaar te ondersteun deur gebeurtenisse spesifiek in Stellenbosch te reël.

“Ons wil dus ’n gemeenskap skep van betroubare, goeie besighede. Ons doel is om ’n gesonde en sterk gemeenskap te bevorder,” verduidelik hulle. “Ons is committed om 50% van al ons wins terug te ploeg in die Stellenbosch-gemeenskap in. Dit sal onder andere beurse, opvoedkundige programme, skenkings (in die vorm van opvoeding of geleenthede), beleggings in start-ups, en PRET-byeenkomste insluit.” 

Met die klem op teruggee aan die gemeenskap en plaaslike besighede, is die stigters gretig om te deel dat hulle eerste gemeenskapsvennoot die Aitsa!-nasorgsentrum is. “Ons is baie opgewonde om in te ploeg in die kinders en vrywilligers, wat daar werk, se lewens.” 

PRET se eerste byeenkoms, die Hidden Treasure Stellenbosch-skattejag, gaan op 16 Oktober in Stellenbosch plaasvind. Die individu of groep wat die leidrade eerste ontsyfer en die skatkis vind wat in die dorp versteek is, sal die befaamde R10 000 wat op die spel is, inpalm. 

Die stigters verduidelik dat die prysgeld deur die PRET-groep self befonds word. “Ons gebruik op die oomblik die inkomste van ons lawn games wat ons uitverhuur om ’n deel van die prysgeld te betaal. Die res van die prysgeld word gedek deur die kaartjiekostes. Ons is besig om met ’n paar local besighede te gesels, dat daar ’n gedeelte gesponsor word.”

Die Hidden Treasure Stellenbosch-skattejag het sy eie Instagram-blad (@hiddentreasurestellenbosch) waar individue of groepe wat klaar kaartjies aangeskaf het oefenwenke kan aanpak en kleiner pryse wen. 

Jacques Wolmarans, ’n Stellenbosser en Maties-alumnus, het een van hierdie oefenwenke ontsyfer en het ’n geskenkbewys vir ’n ete by die Gino’s Restaurant ter waarde van R100 gewen. Hy noem dat die skattejag hom aan die Amazing Race laat dink en dat hy en sy span, Puzzles, baie daarna uitsien om op 16 Oktober aan die amptelike skattejag deel te neem. 

“Dis vir my ’n ongelooflike idee en ek is lief vir sulke tipe dinge, so dit het my van die begin af sommer dadelik ingelok. Die hele atmosfeer tot dusver was great en PRET doen werklik baie moeite met alles,” vertel Wolmarans. “Dit laat ’n mens ook toe om ’n bietjie, ná die afgelope jaar en ’n half van moeilike tye vir [die] meeste, uit te kom en iets opwindend te doen met die moontlikheid om so ietsie vergoed te word aan die einde.” 

Eric Collins, ’n HonsBCom (Aktuariële Wetenskap)-student en nog ’n wenner van een van die oefenwenke, is ook baie opgewonde oor die skattejag. “Sover is die hele Hidden Treasure Stellenbosch-ding nogal baie cool. Ek sien nogal baie uit na die uitdaging en ek moet sê dat die oefenwenke self al klaar nogal uitdagend was, maar dit is ’n nice voorsmakie vir dit wat gaan kom.”

Collins noem verder dat ’n mens kan sien PRET doen baie moeite om al die wenke te organiseer: “’n Mens kan sien dat hulle het kwaliteit mense wat hieraan werk, so om die R10 000-prys te vind gaan nie so maklik wees nie; dit gaan ’n challenge wees.”

Collins se prys vir die ontsyfering van die derde wenk is ’n Bootlegger-geskenkbewys.  

Om meer uit te vind oor PRET se Hidden Treasure Stellenbosch-skattejag, kan daar op hulle webwerf, www.hiddentreasure.lawngames4you.co.za, verder oor die reëlings opgelees word. Kaartjies is ook hier te koop. Verdere inligting kan ook vanaf Hidden Treasure Stellenbosch se Instagram-blad verkry word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial