Bron: www.kooskombuis.com

Koos Kombuis en die Rebellie wat Kampusse Gerock het

DEUR SIBELLA SWANEPOEL

Rebel, sanger, skrywer en ikoon. Koos Kombuis het al verskeie romans, kortverhale en gedigte gepubliseer, maar staan ook bekend vir sy valse kitaarklanke en unieke lirieke. Kombuis het in die laat tagtigerjare beroemdheid verwerf met sy deelname aan die Voëlvry-beweging. SIBELLA SWANEPOEL het met Koos Kombuis gesels oor sy betrokkenheid en bydrae tot die Voëlvry-toer. 

Hoe het jy by die Voëlvry-beweging betrokke geraak? 

Ek was van die begin af deel van die “Tagtigers” met hulle sogenaamde little magazines – waarvan verskeie verbied is – en “punk-Afrikaans”. Ek was deel van die besluitnemingsproses om ons protes eerder voort te sit deur middel van lewendige musiekoptredes voor gehore omdat, soos ons geredeneer het, niemand die inhoud van sulke konserte kan sensor nie. Natuurlik het ons nie rekening gehou met die feit dat die establishment ons konserte self sou probeer verbied nie.

Hoekom het julle besluit om by universiteitskampusse op te tree? 

Met ons eerste rockkonserte het ons agtergekom dat daar geweldig baie jong Afrikaanse studente in die gehoor was. Dus was die Afrikaanse kampusse ons logiese eerste teiken vir die toer. 

Wat was studente se denke destyds oor sosiopolitieke sake? Hoe het hulle byvoorbeeld gereageer op apartheid en demokratisering?

Ons het Stellenbosch binnegeval tydens ’n baie onstuimige tyd. Die eerste sogenaamde “linkse” studente-organisasies, byvoorbeeld POLSTU [’n politieke studentevereniging], was toe aktief. Daar was optogte en betogings, en oral was daar tekens van ’n groeiende vervreemding tussen jong aktiviste en die ouer geslag. Bygesê, daar was toe al vir ’n geruime tyd op die Engelse kampusse ook “linkse” organisasies, soos byvoorbeeld NUSAS [Nasionale Unie van Suid-Afrikaanse studente], maar ons het nie met hulle probeer affilieer nie; hulle idees was vir ons te pienk liberaal. Ons het ook nie tuis gevoel met die “versigtige protes” van die ouer geslag Afrikaanse Sestiger-skrywers nie. Ons boodskap was baie eenvoudig, [en] ons het nie tyd gehad vir ideologiese speletjies nie.

Kan jy onthou wat rektor Mike de Vries se rede vir die verbod was? 

Ek kan nie onthou wat Mike de Vries se spesifieke rede was nie, of wat hy gesê het nie; ek onthou net hy het regtig niks van ons gehou nie, dit was redelik duidelik.

Het die toer die impak en uitkoms behaal wat julle verwag het? 

Hoewel ons politieke punte ge-score het, en hoewel ons protes teen apartheid dalk bygedra het tot die val van die Nasionale Party binne minder as ’n dekade, dink ek ons grootste oorwinning was sielkundig. Dit het my eers later tot my deurgedring, deur wat honderde mense vir my gesê het, dat ons dit reggekry het om ’n hele generasie jong Afrikaners te beïnvloed om ’n kopskuif te maak na ’n vryer leefwyse en ’n oopheid vir nuwe idees van dink, nie net oor politiek nie, maar oor alles. 

Sou jy weer so ‘n toer takel?

Sou ek dit weer doen? Wel, die hele idee was sekerlik die domste, mees fucked-up besluit wat ek nog ooit geneem het. Sou ek dit oordoen? Beslis, ja, sonder enige twyfel.

Dink jy so ‘n toer sal weer nodig wees in Suid-Afrika?

Dalk is die tyd reg vir die jeug van Suid-Afrika om weer kreatief te raak met musiek en alle genres. Baie van hulle is alreeds. Ek wil werklik nie hê hulle moet ons copy nie. Ons was ’n crazy oplossing vir ’n crazy tyd. As daar vandag ’n nuwe golf van protes is, as daar die drang is om te innoveer en te skep en hul kreatiwiteit te laat geld – hetsy in musiek, skryfwerk, teater, kuns, whatever – moet die jongmense dit op hul eie terme doen en hulle moet hul eie harte volg om hul eie ongekaarte landskappe van die gees te verken. Dwarsdeur die geskiedenis was dit nog altyd die jeug wat vorendag gekom het met nuwe antwoorde vir nuwe situasies. Ek glo en vertrou dat die jeug van Mzansi nog ons almal gaan verras!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial