Die Matie Tagtigste Jaargang - Spesiale Uitgawe

Letters & Memories / Briewe en Wense

Die laat 80’s: ’n oorvloed dramatiese nuusgebeure en die laaste stuiptrekkings van die nasionalistiese partymasjinerie…

Die laat 1980’s was opwindende tye in Suid-Afrika. Ná jare van onrus en protes teen apartheid was daar toenemend gerugte van toenadering tot verbande politieke organisasies. Dit was ’n periode waarin P.W. Botha, of “Die Groot Krokodil” soos ons hom genoem het, se termyn as president uiteindelik tot ’n einde gekom het. Sy opvolger, F.W. de Klerk, was eerder bereid om die Rubikon oor te steek. Botha het drakoniese sekuriteitsmaatreëls in Suid-Afrika afgedwing en verreikende inperkings op die pers ingestel. 

As Die Matie-redaksie moes ons dikwels by die Regsfakulteit raad vra of ons sekere dinge kon publiseer en hoe mediaregulasies geïnterpreteer moes word. As daar onrus in die Kayamandi-township was, kon ons nie daaroor berig nie. Toe daar ’n begrafnis vir ’n politieke aktivis was en van ons studente aan die opmars deelgeneem het, het ons byvoorbeeld ’n voorbladhoofstorie daarvan gemaak onder die opskrif: “Geen Begrafnisnuus”. Daarby het ons in een paragraaf gesê dat ons nie toegelaat word om meer oor die gebeure te berig nie. Die foto daarby van NUSAS-voorsitter [Nasionale Unie van Suid-Afrikaanse Studente] Leslie Durr in die optog moes mooi gesny word. Ons is nie toegelaat om beelde van polisie- of militêre voertuie of -personeel te wys nie. So het die ou Nasionale Party en die apartheidsregering die inligtingsoorlog geveg en wit kiesers se denke gemanipuleer.

Dit was die tyd van protesmusiek in Afrikaans, insluitend die toer onder die titel “Voëlvry” – die destydse lied wat my broer Pieter geskryf en gesing het. Ons het almal gaan kyk na die Stellenbosse weergawe van die konsert, met die Gereformeerde Bluesband en ander groepe. Aan die begin van die fliek Searching for Sugar Man is daar tonele van die Voëlvry-konsert buite Stellenbosch. Soos op ander Afrikaanse universiteitkampusse moes die konsert van die kampus afgehou word. P.W. Botha het rektors gebel en hulle almal gedwing om die konsert op kampus te verbied. En saam met alternatiewe Afrikaanse pop en rock was daar alternatiewe Afrikaanse skryfwerk, soos dié van die sogenaamde Tagtigers – jong skrywers wat in die beginjare van die Stellenbosse Woordfees opgetree het. Jong witmense het stadig gatvol geraak vir die outoritêre politieke bestel en die morele onaanvaarbaarheid van apartheid het stadig begin insink. Mense was ook nog sterk onder die indruk van die Koue Oorlog, en anti-apartheidsbewegings is deur die regering afgemaak as deel van die “rooi”, oftewel “swart” gevaar.

Dit was ook die tyd van eerste gesprekke agter die skerms met die ANC. As hoofredakteur was ek deel van ’n eerste groep Matie-studente wat na Harare en Lusaka gereis het vir gesprekke met uitvoerende en jeugleiers van die ANC. Thabo Mbeki het aan my onderstreep watter belangrike rol ons as redaksie van die studentekoerant gehad het. In redaksievergaderings het ons dikwels gepraat oor die rol van die media, wat ons opgesom het as “om in te lig, te vermaak en op te voed”. In debatte met die studenteraad het ons dikwels vasgesit, want ons het “om op te voed” ernstig beskou en vertolk as om studente in te lig oor wat werklik in Suid-Afrika gebeur. Onthou dat ons in die tagtigs steeds in ’n voortslepende stedelike burgeroorlog vasgevang was – realiteite wat die apartheidsregering graag van die oë van bevoorregte wit studente wou weghou. Vir die redaksie was daar nie tekort aan dramatiese gebeure om oor te berig nie, insluitend politieke gebeure en die eerste stappe om ’n nie-rassige demokrasie aan te durf. 

Ons het nog bladuitleg op papier gedoen. In die beginjare van rekenaars en digitale tegnologie het ons elke twee weke ons stories per telefoonlyn na die Naspers-kantore van Die Burger in Kaapstad gestuur. Daar het redaksielede elke tweede week saans stories geredigeer en gekyk hoe “strippers” by Die Burger ons stories uitsny en plak met foto’s en voorberei vir drukkersplate om gefotografeer te word. Donderdagoggende moes ek met die drukplate ry na Paarl, waar Paarl Drukpers ons koerante gedruk het vir verspreiding teen die Donderdagmiddag. Toe ek een dag met die gedrukte koerante by die kantoor langs die Neelsie opdaag, sit my adjunkhoofredakteur Tanja Hichert lekker en gesels met Johannes Kerkorrel & kie. Hulle was opgewonde om ons voorbladdekking van die komende Voëlvry-konsert te sien.

Ons het fantastiese redakteurs gehad wat geskryf het oor sport, sosiaal, kuns, politiek, aktueel, ensovoorts. Toe ek met jaarlikse vakansiewerk by Die Vrye Weekblad in sy eerste twee bestaansjare in Johannesburg begin het, was Max du Preez en kollegas reeds beïndruk met die skryfwerk van ons joernaliste soos Pearlie Joubert oor politiek en Madeleine Barnard oor kuns. Ek was bevoorreg om as aktuele redakteur oor te neem by Pierre de Vos, wat altyd goed geëksperimenteer het met die jongste bladuitleg soos gelei deur koerante soos die destydse Mail & Guardian. My opvolger was Anneliese Burgess, wat vandag mederedakteur van die herleefde Vrye Weekblad is. Die drie jaar by Die Matie was ’n wonderlike ervaring, en baie van ons aktiewe joernaliste het later joernalistiek gaan studeer en in die media gewerk. Spesiaal vir my was ook om as redakteur in die voetspore te volg van my pa, Jozua van der Lugt Snr, wat in die 1950’s vir twee termyne Die Matie-hoofredakteur was. Op sy redaksie was mense soos Hennie Aucamp en Wilhelm Grütter, wat later bekende skrywers in die vermaak- en mediawêreld geword het.

Vandag word Maties nog gekonfronteer met die langtermyngevolge van apartheid, soos taal- en rassekwessies. Daar is ook nie ’n tekort aan nuwe drama nie, veral internasionale gebeure soos die pandemie en klimaatsverandering. Ek sou verwag dat Die Matie in die toekoms toenemend ’n tweetalige aanlynkoerant sal wees. Aanlyn sal die redaksie dalk makliker ’n wyer verskeidenheid van skrywers betrek. Ek hoop ook dat Die Matie in die toekoms meer oor ekonomie en natuurwetenskaplike verwikkelinge sal berig. Ons het desjare nie veel hieroor berig nie, hoewel ons enkele stories oor omgewingsprobleme gehad het. Maar as ’n mens kyk na die vlak van kennis aan die universiteit met al sy fakulteite, is daar ondermeer ruimte vir top skryfwerk oor byvoorbeeld ekonomiese sake. Die opvoedkundige rol van die koerant bly kritiek. 

Cornis van der Lugt, Redakteur van Die Matie in 1989


Ek het in 2018 by Die Matie as ’n joernalis begin en ek was een van min joernaliste wat regtig opgewonde was om oor sport te skryf.

Annerine Snyman was die sportredakteur en ek dink sy was baie dankbaar vir my wat by tye dalk té entoesiasties was oor die uitslae van enige wedstryd.

By elke vergadering het ek met minstens drie of vier idees opgedaag, dit soos ’n lysie gelees, en baie opgewonde gevoel as dit darem goed genoeg was. Elkeen kan mos nou nie ’n wenner wees nie…

Annerine was ’n goeie leier en ek het baie na haar opgekyk. Sy het so baie vir my geleer – nie net hoe om goeie joernalistiek te pleeg nie, maar ook haar professionaliteit op so ’n jong ouderdom.

Die dag toe sy vir my vra of ek nie sal staan as sportredakteur vir die 2018/2019-termyn nie, was ek regtig stomgeslaan. Ek was dan nog nie eens ’n jaar by Die Matie nie! Dit was dus ’n reuse-voorreg.

Wat ’n wonderlike avontuur was dit nie! Ons redaksie was regtig spesiaal en dit was ons missie om Die Matie weer op die regte pad te kry. Daar is maar rowwe dinge wat voor ons agter die skerms gebeur het en ons het self deur rowwe tye gegaan.

Dit is moeilik om vir ander mense te beskryf hoe dit voel om deur die nag so hard aan ’n produk te werk en dan die volgende dag steeds foute raak te sien. Ek het twee groot foute gemaak wat my vir ewig sal bybly (ek is mos maar ’n perfeksionis).

Nog ’n middag wat my sal bybly, is toe ’n geskorste SR-lid by die kantoor ingestorm en vir my en S.Z. rassiste genoem het. Sy het op ons begin skree en verskriklike aantygings gemaak. Intussen het ons albei haar tirade skelm begin record en maar net daar gesit en dit gevat. Toe sy klaar gepraat het, het ons almal besef sy het geen idee gehad wie ons is nie en dat sy eintlik op die verkeerde mense geskree het.

Ek en S.Z. het niks met die artikel te doen gehad wat oor haar in daardie dag se uitgawe verskyn het nie. Daar het toe niks van haar uitbarsting gekom nie en sy was steeds geskors…

Saam met die negatiewe was daar egter soveel meer positiewe en ek kan boeke daaroor skryf! Ons het almal tog lief geraak vir mekaar in daardie rooi kantoor in die Neelsie met sy groot tafel en questionable banke.

Ek en Lian het nog die rakke teen die muur opgesit (waaroor ek baie trots is). Ons het die stoorkamer en kantoor reggepak en negatiewe geeste uitgedryf, alles terwyl prof. Wim de Villiers vir ons loer (grappie).

Ek koester al die herinneringe van my tyd by die beste kampuskoerant van 2019. Julle beter ons Mediaveertjie veilig hou.

Anke van der Merwe, Sportredakteur van Die Matie in 2018


Sorg oor advertensieborgskappe, spertye, begrotings wat nie klop nie, anonieme dreigoproepe, stories oor die universiteitsbestuur se ongelukkigheid oor die koerant, klagtes oor die tweetaligheid van die koerant, onderlinge redaksionele konflik, digitale uitdagings, baie laataande en koffie in Die Matie se kantoor op dáárdie rooi bank bly my by.

Natuurlik is die drukkersduiwel, wat ’n mens keer op keer flous ondanks die beste redigeerpogings, iets wat ’n mens nooit sal vergeet nie. Gelukkig verskaf drukfoute darem ligte kampusvermaak en ’n geleentheid vir die breër studentegemeenskap om hulle taalkennis op te skerp.

Ek was deel van die onstuimige lente 2015-redaksie as hoofteksredigeerder. Onstuimig omdat 2015 ’n toppunt bereik het met #FeesMustFall en omdat Die Matie daardie jaar tydelik tot ’n stilstand gekom het. Hoe opspraakwekkend die stilstand ook al mag wees, glo ek dit was simptomaties van die oproep tot verandering op kampus en die gebrek aan leierskap wat wêreldwyd ervaar word.

Een redaksionele hoogtepunt was die agterblad ná Maties-rugby se skrikwekkende nederlaag tydens Varsitybeker: ’n Grafsteen met die woorde “RIP Maties Rugby”. Dié agterblad het tot Die Burger gehaal! Daar was ook ’n paar klagtes waar aanstoot deur Gorrel se uitlatings geneem is, maar nou ja. Geen produk kan álmal tevrede stel nie.

Mag Die Matie relevant bly en die fakkel bly brand tydens die digitale oorgangstyd!

Giselle Botha, Die Matie-redaksie in 2015


Every campus needs a newspaper as a voice for her students – not only a voice, but a megaphone to amplify student voices.

These are the voices of the next generation of leaders who must test the boundaries while still learning the rules of engagement in our Global Village, amidst the Fourth Industrial Revolution. Oh yes, not to forget: Amidst, also, of a global pandemic.

Although a student newspaper needs to be funded through university budgets because it represents the student body, it is not a voice for a university. It must, by definition, be independent of any university structure. This seems like an oxymoron if a student newspaper accepts its funding from university budgets. However, that is simply the way this particular cookie crumbles. Otherwise, it is merely a marketing tool for a university, which is what a student newspaper should never be. Although, if it does happen to draw attention to its university for all the right reasons (including bad publicity, because, of course, there is no such thing as bad publicity), it deserves every cent it gets from central budgets to maintain its publication platforms, in print and online.

Bottom-line: A campus newspaper is a laboratory for democracy. It is the place where the next generation learns the skills – and responsibilities – that come with democracy, especially one so hard fought for as South Africans. That is also why a campus newspaper needs to serve the public good according to the letter and spirit of what good journalism is, and subject to the South African Press Code and all that the Code entails.

So, congratulations to Die Matie for doing its unique Matie-thing for 80 years already.

#ForeverYoung

#ForeverObstreperous

#ForeverDieMatie

Prof Lizette Rabe, Chair, Department of Journalism


Hiermee ’n insident uit 1963 wat toon dat die verhouding tussen die universiteitsbestuur en Die Matie maar altyd ’n delikate een was.

“Ek het in my derde jaar as regstudent (1962) ’n lid van Die Matie se redaksie geword en in my vierde jaar redakteur van dié studentekoerant. Daarmee het ek my in die praktyk grotendeels by die opposisie aangesluit, al was ons kritiek op die universiteitsbestuur en die studenteraad maar versigtig en meestal in satiriese gewaad. ’n Voorbladartikel oor die jare oue beloftes van ’n studentesentrum (die latere Neelsie is eers in 1975 voltooi nadat so ’n bymekaarkomplek vir studente al sedert 1920 belowe is) het my wel op die rektor, prof. Thom, se rooi tapyt laat beland.

“Sy hantering van my was veelseggend: Nadat ek vir seker ’n halfuur in die wagkamer gesit het, het sy sekretaresse my kom meedeel dat hy nie sy tyd met my wil mors nie… 30 jaar later sou ek self in prof. Thom se stoel gaan sit.”

Prof. Andreas van Wyk, Rektor (1993-2001), Redakteur van Die Matie in 1964


’n Terugblik na die 1950’s

Dit is die jaar 1958. Ek is ’n vierdejaarstudent in ingenieurswese en word aangestel op die redaksie van Die Matie. Destyds moes jy veelsydig wees en meer as een funksie verrig. Ek was amptelik aangestel as fotograaf, maar met die duidelike opdrag dat dit ook van my verwag word om berigte se teks te skryf.

Die teks vir berigte, netjies getik, moes op Donderdae om 12:00 ingegee word. Dan is dit geset, en is proefstroke deur die Paarl Drukkery op Saterdag gelewer. My foto’s moes ek Sondagoggend ingee. Daarvoor het Die Matie-redaksie die gebruik van FOKUS (die Fotografiese Klub van die US) se donkerkamer, in ’n geboutjie voor die latere Admin A-gebou, op Saterdagaande gehad. Jy moes die chemikalieë vir die ontwikkeling van die films self meng; die films het jy self ontwikkel, gefikseer en drooggemaak, en foto’s op die vergroter afgedruk en ontwikkel.

Sondagmiddae het ons bymekaar gekom (’n groot sonde vir daardie tyd!) om die bladuitleg met die hand te doen. Die papierstroke gedrukte teks is met die skêr geknip, en saam met die foto’s uitgelê en met gom ingeplak op poniekoerantgrootte velle, en van opskrifte voorsien. Dié bladuitleg is per motor afgelewer in die Paarl, en Dinsdagoggend het Die Matie tweeweekliks die lig gesien.

Onder ons redakteur, Coenie Slabber, se leiding het Die Matie ’n verligte aanslag gehad, en was dit gedurig in botsing met die verkrampte Studenteraad (SR), en veral met Jan Loubser wat nasionale president van die ASB (Afrikaanse Studentebond) en ’n leidende figuur op die kampus was.

Die klimaat op die kampus was warm en het gesentreer om die vraag oor wat die US in wese is. Die “regse” groep het gesê die US is ’n “Afrikaner-universiteit”, en die “linkse” groep dit is ’n “Afrikaanse universiteit”. Die SR het die eersgenoemde standpunt ondersteun, Die Matie-redaksie die laasgenoemde. Die ongesproke, maar onderliggende subteks van die laasgenoemde standpunt was dat die US ’n universiteit vir álle Afrikaanssprekendes moes wees, insluitende bruin Afrikaanssprekendes (wat die meerderheid uitmaak van Afrikaanssprekendes). Dié standpunt was direk in stryd met die bepalings van die destydse Wet op Afsonderlike Universiteite wat onder bespreking in die parlement was, en later aanvaar is as Wet no. 45 van 1959.

In Augustus 1958 moes ons weer vir die volgende jaar aansoek doen vir poste op die redaksie, en het die hele redaksie ’n gesamentlike aansoek ingedien. Ons is weer almal aangestel.

’n Debat in die destydse Plazafliek oor die aard van die US, en ’n openbare optog deur die Black Sash (’n nasionale vrouebeweging wat apartheid teengestaan het) het die twis tot breekpunt gelei. Die Matie se standpunte en botsings met die regse SR het toegeneem, en vroeg in 1959 word ons in kennis gestel dat die SR die hele redaksie afgedank het omdat hulle deel was van ’n “linkse aanslag”.

Ons is almal ge-fire! ’n Nuwe redaksie moes inderhaas saamgestel word. Hulle het gou agtergekom dat die uitgee van ’n koerant, met ’n splinternuwe onervare redaksie, nie so eenvoudig is nie! Ek word ontbied deur die SR-voorsitter en gevra of ek bereid sal wees om as fotograaf, sonder enige beriggewing, op die redaksie te dien. My antwoord is “ja”, maar omdat die ou redaksie as ’n groep aansoek gedoen het vir heraanstelling, het ek gesê dat ek dit net sal doen as die hele ou redaksie weer aangestel word. Dit was vir die SR onaanvaarbaar, en so het my joernalistieke loopbaan by Die Matie tot ’n einde gekom. ’n Splinternuwe Die Matie-redaksie is aangestel.

Ná ’n fotolose uitgawe van Die Matie deur die nuwe redaksie is medestudent Johan Stander as fotograaf gewerf. Hy het later ’n fotografiese winkel op Stellenbosch bedryf wat gespesialiseer het in sosiale foto’s wat by danse, dinees en ander funksies geneem is. My weiering om weer as fotograaf op Die Matie redaksie te dien, het vir Stander ’n nuwe loopbaan besorg!

Geluk aan Die Matie met sy tagtigste verjaardagviering!

Christo Viljoen was professor in ingenieurswese aan die US, later Dekaan in Ingenieurswese en Viserektor (Bedryf) tot sy Aftrede in 1998.


Ek beland in 1969 as eerstejaar in Eendrag en word dadelik deur die oumanne aangespoor om aansoek te doen as verslaggewer by die Die Matie toe hulle hoor ek was redakteur van die Hoërskool Bellville se skoolkoerant. Die Prim, Dirk Hertzog, was in 1968 redakteur van Die Matie. Ná twee jaar as verslaggewer, word ek in 1971 interuniversitêre redakteur en in 1972 redakteur.

Dit was wonderlike jare en vriendskappe wat steeds voortduur is toe gesmee. Dit was ’n voorreg om aan mekaar te kon skuur. Dit het ons gehelp vorm tot mense wat later ’n bydrae tot ons gemeenskappe kon lewer. Ek dink veral aan Chris Otto, my voorganger, en Ben Griesel, sy adjunk (1971), en opvolgers soos Cobus Stofberg (1973), Altus Joubert (1974) en Koos Bekker (1975) – manne wat vandag bekend is in die sake- en regswêreld.

Hierdie kwessies van 1972 kom na vore in berigte en opskrifte deur die jaar: “Karnaval” (die woord “SMOEG” word deur Karnavalvoorsitter Jan Dreyer geskep); “Verwelkoming” (vandag steeds ’n netelige kwessie); “Intervarsity met Ikeys in die Weegskaal” (ná baie toutrek het dit wel voortgegaan); “Geskilpunte oor SAAK” (die Stellenbosse Aktuele Aangeleentheidskring); “SR voer eierdans” (verwarrende standpunte oor Intervarsity wat later opgeklaar is); “ASB Onaanvaarbaar vir Stellenbosch” (die konserwatiewe Afrikaanse Studentebond); vroue wat langbroeke klas toe dra (die universiteit het dié voorstel in 1973 aanvaar); “Betogings en Onrus” en “Wat sê die SR?” oor protes deur Ikey-studente by die St. George’s katedraal in Kaapstad; planne vir die bou van die Neelsie; ’n suksesvolle interuniversitêre SR-konferensie wat deur voorsitter Buks Hertzog en SR-lid Michiel le Roux gereël is; en “Futlose Napraters” oor Afrikaanse studente se versigtigheid om hulle oor politieke kwessies uit te spreek. Dit was voorwaar interessante tye!

Die Matie was ’n voorstander van die “oop gesprek”. Ons het daarna gestreef om ander se standpunte op te soek, daarna te luister en dit te probeer verstaan. “Ondersoekende joernalistiek” het nog nie in daardie jare bestaan nie, maar ons was wel bevraagtekenend oor die hede en toekoms. Die Matie het nie gehuiwer om die SR, die universiteit of die regering te kritiseer nie.

Wat het ons gedryf om ons studies af te skeep en lang ure en laat nagte aan die publikasie van Die Matie te bestee?

Ek dink dit was die tinteling van opwinding om deel te wees van die volle spektrum van studentewees, die ernstige debatte van die dag, sowel as gewone studenteligsinnighede. Terugskouend dink ek daar was ’n gevoel van afwagting en die wete dat ’n nuwe bestel sou en moes aanbreek. Wat dit sou behels was onduidelik, maar ons het dit help eksploreer.

Ek sê innig dankie aan my 1972- hoofredaksie en regterhande, waarvan sommige al saliger is: Altus Joubert (assistentredakteur), Bobby Loubser (nuus), Estienne Pretorius (sosiaal), Johann Gerber (sport), Melvyn Minnaar (kuns), Cobus Stofberg (interuniversitêr), Dan Berner (tipografie), Francois Pauw (taalversorger) en Marie de Villiers (sekretaresse).

Gerrie de Villiers, Redakteur van Die Matie in 1972


In 2001 het Die Matie nog die hoekkantoor met twee balkonne in die Neelsie gehad en dit was werklik soos baie van ons se huis, want daar is geëet, gedrink, gewerk en geslaap. En baie ander dinge waaroor ek nie nou kan skryf nie!

Ons het staatgemaak op die faksmasjien; selfone was ’n aardigheid en so groot soos bakstene; ek dink nie ons het geweet wat PDF’s is nie; en die blaaie is op ’n blou ZIP-disc gelaai en per Toyota Tazz Paarl toe gery. Lessenaarpublisering met behulp van PageMaker is die eerste keer in die laat 1990’s gedoen, so baie oudredaksielede onthou dus die dae van knip, plak, strip en kopie wat gepen word.

Nog iets om in ag te neem, was hoe laat Edrich, die fotowinkel, toegemaak het, want na-ure was daar geen manier waarop ons die rolle film kon ontwikkel nie. Wat dus nie in die middae teen 17:00 of Saterdae teen 13:00 ontwikkel was nie, is nie ontwikkel nie. Behalwe een keer toe nood leer bid het.

Die groot storie in 2001 was die dood van Charl Strydom, ’n tweedejaarstudent, tydens ’n inlywingsritueel by sy koshuis. Die storie het landwyd opslae gemaak en ’n herrie veroorsaak. Die Matie, wat dekades lank al geskryf het oor menseregtevergrype en die euwel van doop, ontgroening, noem dit wat jy wil, het uiteraard volledig oor die voorval en die nagevolge daarvan berig. Dit het ook aanleiding gegee tot ’n ope brief deur oudredakteurs, wat ’n landwye ondersoek na dooppraktyke op kampusse deur die destydse onderwysminister Kader Asmal en die Menseregtekommissie tot gevolg gehad het.

Maar wat het dit met rolle film te doen? Een Maandagaand, die aand wat die koerant moes sak, is ’n doopdebat gehou met allerlei kampushelde, kampusfigure, koshuismense en P.G., oftewel prof. P.G. du Plessis, destyds die direkteur van studentesake, as sprekers. Ons moes eenvoudig die foto hê en ’n plan moes gemaak word.

Johann van Tonder, toe Die Burger se hooffotograaf en dosent in fotojoernalistiek by die joernalistiekdepartement, het vir Waldimar Pelser, redakteur in 2000 en toe Die Burger se nagverslaggewer, ’n vinnige les gegee oor hoe om foto’s in ’n donkerkamer te ontwikkel. Carina du Toit, toe assistentredakteur, is die aand ná die debat met die kosbare film per Toyota Tazz na die Naspers-gebou in Kaapstad. Die foto is ontwikkel, weer teruggery Stellenbosch toe en by ons kantoor ingeskandeer. Dit was die heel langste aand van my lewe, maar die volgende dag was die foto op die voorblad.

Alles was altyd groot spanpogings en ons is deur bloed, sweet en trane saam hierdeur. Ek onthou meermale hoe ek vir Danie Smit, voorheen assistentredakteur en in 2001 ’n nagraadse student en nie meer amptelik by Die Matie nie, met sonsopkoms, terwyl die drukkers al wag, moes bel om te kom red wat daar te redde is. Danie, vandag waardeer ek dit meer as ooit. Dankie!

Elke termyn is gekenmerk deur hoogte- en laagtepunte, snaakse voorvalle, vriendskappe deur dik en dun, ongesonde stapelkos, laat nagte, vroeë oggende, rekenaars wat crash, chaotiese verspreidingsoggende, geld wat opraak, MFM se musiek en Tassenberg. Elke termyn het sy groot stories, berge wat versit is en spesiale herinneringe – en natuurlik het dit verander, gevloei en beweeg soos baie verskillende, unieke, eiesoortige mense Die Matie se gange bewandel het.

Maar daar is dinge wat oor die 80 jaar ’n goue draad nagevolg het – humor, kreatiwiteit, die soeke na die waarheid, kritiese denke, moeilike vrae, die uitdaag van die establishment en eintlik van enige vorm van gesag, jeugdige voortvarendheid, rebelsheid, die slag van heilige koeie, die vastrap van onderrokke wat uithang, demokrasie, menseregte, gelykheid en die erns daaroor om nie net die beste studentekoerant in die land te wees nie, maar ook die beste kóérant.

Mag toekomstige redaksies ook, terwyl hulle gehalte nastreef en die oorspringlat al hoe hoër stel, ook alles van bogenoemde probeer en die goeie behou. En natuurlik is die heel belangrikste om altyd soveel as moontlik pret te hê.

Mag die fakkel van vryheid en geregtigheid vir altyd bly brand. Lank lewe Die Matie!

Jacolette Kloppers, Redakteur van Die Matie in 2001

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial