Die Matie Tagtigste Jaargang - Spesiale Uitgawe

Letters and Memories (75th Edition) / Briewe en Wense (75ste Uitgawe)

Baie geluk met 75 onverskrokke jare!

In my tyd as hoofredakteur het ons die mas verander. “Onder beskerming van die Studenteraad” het verander na “’n onafhanklike studentekoerant”.

Lank mag dit voortleef. Die Matie mag nooit die spreekbuis word van ’n politieke party of beweging, of selfs die studenteraad nie. Dit moet ’n onafhanklike en bowenal kritiese mondstuk en waghond bly.

Ter nagedagtenis aan Johan Degenaar moet dit die Sokratiese ideaal vervul: ’n Ongeëksamineerde Stellenbosch is nie die fooie werd nie.

Anton Steenkamp, Redakteur van Die Matie in 1985

Judge of the Labour Court
Judges’ chambers
113 Loop St
Cape Town
8000


In die turbulente tagtigs, trotseer Die Matie vele monsters. ’n Monstervergadering teen Die Matie het wesenlik gegaan oor vryheid van die pers en die reg om te weet. Vandag veg joernaliste steeds vir ons reg om te weet.  Geluk aan Die Matie om 75 te haal – hoop ons albei is nog daar om die Eeufees te vier!  

Adrian Louw, Spotprenttekenaar en Redakteur: Sosiaal


3) Sybrandus Adema

Aan almal wat Die Matie jaar na jaar, maand na maand gebaar het: vele vivas! Mag die akkers altyd sagkens op onse hoofde val, maar laat ons nooit deur pryssangers verlei word nie.

Sybrandus Adema, Die Matie-redaksie 1993-1994


Gelukwense aan Die Matie

Baie geluk aan Die Matie, ’n studentekoerant wat die afgelope 75 jaar vele storms moes trotseer – oplae van die koerant is gesteel, koerante is in die openbaar verbrand, vele wou haar stem stilmaak. Die Matie het egter elke keer uitgestyg en is dikwels deur die jare voorgehou as die beste studentekoerant in Suid-Afrika.

My wense vir Die Matie is dat dit ’n plek sal wees waar kritiese denke gekoester en ontwikkel sal word en dat die koerant ’n betroubare bron van inligting sal wees. As jy Die Matie lees, moet jy wéét dit is waar. Die Matie moet voortgaan om die moeilike en ongemaklike vrae te vra, haar lesers uit te daag en bowenal ’n stem te bied vir almal, ook die randfigure van die samelewing.

Onafhanklike media op universiteitskampusse is nou van kritiese belang gegewe die onstuimighede van die afgelope jaar. Daar is dus nie ’n beter tyd vir Die Matie om sy fakkel nóg hoër te laat brand nie!

Johan van Tiddens, Redakteur van Die Matie in 2003


Geliefde kollega,

Hartlik geluk met hierdie mylpaalverjaarsdag. Laat dit juig, en mag die fakkel altyd aanhou brand!

Groete

Adele Kruger, Hoofredaksie-lid in 2001-2003


Die Matie

Op Stellenbosch

is bakens:

van oud

murasies, geuwels,

en slawe-arbeid

tot Decameron

se baronne

en studentejolyt

maar die grootste,

die idee:

uitdaag,

dwarstrek,

bevraagteken

– onverskrokke –

vir ’n groter saak

Prof. Johan Fourie


Hartlik geluk aan Die Matie met die bereiking van hierdie besondere mylpaal!

My eie verbintenis met Die Matie gaan terug na 1955, toe ek as eerstejaarstudent op Stellenbosch aangekom het. Dit dring nou eers deur dat ek vir 61 van Die Matie se 75-jarige bestaan saam met die koerant gekom het – eers as Matie-dosent, later as dosent en Viserektor!

Ek was ’n lid van Die Matie-redaksie (verslaggewer/fotograaf – destyds moes ons multitasking doen) van 1958-1959 en was lid van die redaksie wat in 1959 in geheel afgedank was omdat ons te “liberaal” was. ’n Gereelde rubriekskrywer was die latere bekende kortverhaalskrywer Abraham H. de Vries. Ons redakteur was Coenie Slabber, later ’n bekende in joernalistieke kringe. LitNet berig oor hom soos volg: “In sy studentejare het hy in 1959 as redakteur van Die Matie deur dié studentekoerant ’n opspraakwekkende veldtog gevoer wat daartoe gelei het dat dr Hendrik Verwoerd hom onttrek het as kandidaat vir kanselier van die Universiteit van Stellenbosch en dr Eben Dönges verkies is.”

Die groot debat op Stellenbosch (in die hoogtyd van Afrikaner-nasionalisme wat oor die hele land gespoel het, met die ASB – Afrikaanse Studentebond – vooraan, en wie se president Jan Loubser, ’n Matie-student was) was of die US ’n “Afrikaner-universiteit” of ’n “Afrikaanse universiteit” was. Die redaksie het laasgenoemde voorgestaan, wat in die betrokke tydsgewrig as “links” beskou was, waarop die Studenteraad, ook as gevolg van die kritiek op die kanselier, die hele redaksie afgedank het.

Later was ek as Viserektor in die negentigerjare self aan die ontvangskant van Die Matie se joernalistieke vryheid. ’n Anonieme brief het op studentekose wyse met my die spot gedryf en na my verwys as “kragdadig”, iets wat ek glimlaggend ervaar het en geneig was om te ignoreer. Die rektor was minder gelukkig met die brief en het die redaktrise ingeroep, wat (sonder enige dwang hoegenaamd) met die sak patats vorendag gekom en die anonieme briefskrywer se naam summier geopenbaar het – ’n onbegryplike redaksionele flater. ’n Apologie het in die volgende uitgawe verskyn. Ironies genoeg was die anonieme briefskrywer ’n gesiggestremde student (wat later geringe sukses as skrywer behaal het) wat nie gekwalifiseer het vir koshuistoelating nie. As viserektor het ek my oor hom ontferm en Wilgenhof-koshuis se huiskomitee oorreed om hom plek te gee, sodat die anonieme brief deur my as stank vir dank ervaar was. Nietemin, Die Matie verskyn kort daarna met ’n volbladfoto van ’n tikmasjien wat toegeketting was, met die woord “Sensuur” groot daarop geskryf.

In ’n era waarin alle koerante in drukweergawe onder druk is, wil ek die vertroue uitspreek dat Die Matie sal voortgaan om, sonder enige beheer van buite, die akademiese kampusdebat sal bevorder, krities, maar joernalistiek verantwoordelik sal berig, die studentegemeenskap sal dien, en sy eeufeesviering oor 25 jaar sal kan vier!

Christo Viljoen was professor in ingenieurswese aan die US, later Dekaan in Ingenieurswese en Viserektor (Bedryf) tot sy Aftrede in 1998.


Die Matie was die beste (en enigste) joernalistieke opleiding wat ek gehad het. Op die vuil banke voor ou 486-rekenaars in die Neelsie was ons die selfaangestelde wagte van “kampuskultuur”, burokratiese studentepolitiek en ’n veranderende makropolitieke landskap wat stadigaan by Stellenbosch ingesypel het. Hoewel woorde soos “Brink”, “taalbeleid” en “ontgroening” ons opskrifte oorheers het, was dit ook die jare van Zoid, Beeskraal en Fokofpolisiekar. ’n Kulture revolusie het gespoel oor jonk en Afrikaans. Ons was ernstig, idealisties en het gesag geminag. Die Matie het in 2002 selfs ’n “bosberaad” op Bettiesbaai gehad. Voor ek geweet het wat barter beteken, het ons advertensiespasie verkwansel vir ’n paar kiste Graça, Tassenberg en Black Label. It was the best of times, it was the best of times.

Adriaan Basson, Redakteur van Die Matie in 2002


Vir Die Matie

Dat Die Matie ná 75 nog fier en regop loop, beteken net dat daar nog baie woema is vir ’n goeie ent vorentoe! Veels geluk aan almal wat hierdie prestasie in stand kon hou – op sigself ’n joernalistieke tour-de-force. Ek is ’n trotse oudredaksielid en onthou helder die thrill van my eerste byline.

Voorspoed vorentoe! Laat joernalistieke vryheid blom.

Amanda Botha, Redaksie 1962-64


’n Joernalis is omtrent net so betroubaar soos ’n donkie, het iemand gesê in die dae voordat Google sou kon uitwys dat niemand regtig so gesê het nie.

Wel, in daardie benewelde jare tussen 1991 en 1994 kon jy darem op Die Matie vertrou om vir soveel as moontlik mense moeilikheid te maak, of hulle dit nou verdien het of nie. Dalk het ons heimlik gedink ons was bloot karakters in een of ander halfdeurdagte musiekvideo waar geen optrede enige gevolge het nie. Jou enigste rol was om soveel as moontlik aksie in te kry voordat die laaste note stil word.

Aan die ander kant verlang vandag se universiteitshoofde seker terug na die dae toe Die Matie nog bloot ont-huts was. Vandag is dit die huts vooraan ’n Twitter-etiket wat kampusstandbeelde en studentegelde kan laat val – of ten minste minder stewig laat staan.

Voordat daar wapentransaksies en niekoalisie koalisies was, en voordat sosiale media die allerbeste of absurdste idees binne sekondes aan die groot klok kon hang, kon jy eerste in hierdie studentekoerant dinge lees, soos hoeveel [die Admin-geboue] se nuwe voetgangerbrug gekos het en hoekom dit omstrede is, wat die spekulasie oor die rektor se nuwe Mercedes was, of watter koshuis pas weer betrap is dat hulle ’n kroeg op die perseel bedryf. Nelson Mandela het ’n paar keer ’n draai kom maak, daar was ’n laaste wit referendum, ’n Herstigte Nasionale Party (HNP)-vergadering waar nie almal van Die Matie ewe welkom was nie, en uiteindelik ’n demokratiese verkiesing met baie onoopgemaakte blikkieskos. Intussen het die vrouekoshuise steeds die stryd gevoer met “inkomtyd is my besluit”. Natuurlik was daar die jaarlikse onthulling, of eerder herhaling, dat eerstejaars steeds gedoop word.

So op talle vlakke was daar sprake van ’n oorgang – ook op ’n persoonlike vlak, nes nou, vir ’n student wat die skooldae agterlaat en mik na ’n nuwe lewe. ’n Mens was tussen iets wat aan’t verval was en iets wat nog uitgedink moes word.

Die Matie self was ook in ’n oorgangstydperk. Die ouer produksiestelsel toe ons dit nog by die destydse Naspers-gebou via bladplanne op papier en strippers (dis nie wat julle dink nie) aanmekaar moes slaan, het begin plek maak vir elektroniese bladuitleg. Het enige van julle al ooit gehoor van Pagemaker? Dit klink meer soos iets wat jou hart aan die klop moet hou, maar ons het relatief min daarvan verstaan, net genoeg om die koerant aan die gang te hou.

Ons onthou ook opvlieënde redaksielede, rokerige redaksiekantore – die studentekoerant was nog ’n ou huis – en gesprekke oor politiek, musiek en beloftes van nuwe goed genaamd selfone en internet. In Kaapstad was daar ’n Oom Seppie in die Naspers-gebou wat Die Matie se kopie ingetik het om dit op bromied uit te speel, maar tussendeur het hy ook telefonies die laataand doodsberigte ontvang om hopelik nog Die Burger te haal. Nogal morbied, alles.

Ook Tony, die slim, filosofiese stripper by Die Burger se voorpers wat ’n bladsy met sy messie kon red terwyl hy Aqualung neurie, selfs al het Die Matie se nuusredakteur al die stories twee picas oftewel ems te breed laat skiet. Daar was ook die bladkunstenaars wat probeer het om ’n hele storie oor 2ems uit te lê! Of ’n horisontale foto in ’n vertikale gat te probeer plaas, wat beteken jy moes kies tussen die uitsny van óf die vingerswaaiende polisiebeampte óf die betoger.

Ook Herbie, Tony se kollega, wat jou in sy swaar Switsers-Duitse aksent vertel het presies hoe sinloos jou pogings tot bladuitleg in die besonder en die lewe in die algemeen was. Nihilisme 101 op ’n Woensdagaand.

Dan was daar Johan, die voorman wat uitgawe op uitgawe gedreig het om nie Die Matie te druk nie omdat die spertyd al ure in die verlede was. Gelukkig was daar darem ná saktyd, wel ons s’n in iedergeval, Guns N’ Roses op karaoke-aand in The Stag’s Head.

Die belangrikste ding was egter die mate van vryheid wat ons gehad het. Danksy Brood Broodryk het ons genoeg advertensie-inkomste gehad, en gegewe die landswye veranderinge was daar heelwat vryheid om te skryf en te publiseer en voor stok gekry te word. Ons het met baie goed weggekom, maar moes ook kyk hoe koerante verbrand is weens ’n kombinasie van “doop gaan voort”, en “moses word opgesip” en gratis kondome. Dit als in die eerstejaarsuitgawe! Toe haal die studentekoerant die voorblaaie van al die Kaapse koerante!

Ook moes ons by die Studenteraad gaan verduidelik oor ’n kaalnaelfoto en ek moes eens hoed in die hand by die rektor om verskoning gaan vra oor ’n “perspektiewe en dinge”.

Soos die destydse redakteur en mede-opsteller van hierdie rubriek, Willem Kempen, toe al voorspel het: ’n Mens het meer vryheid by Die Matie omdat jy redelik onafhanklik is van inkomste en leserstalle. Maar dieselfde beginsels geld: Doen professioneel en regverdig verslag oor sake wat die lesers raak, en maak die foute reg.

Die grootste voordeel van die Die Matie is dat ’n mens ’n ruimte kry om te leer en te eksperimenteer, en saam met ’n spul lekker mense kan werk. Natuurlik is dit ’n goeie plek om te bepaal of die joernalistiek vir jou is.

Dan is daar die pret – dis die een ding wat ons almal veral onthou: die grappe, die spot, die skerpsinnighede, partytjies by De Akker, ’n Rocky Horror-aand met Johannes Kerkorrel en die maak van ’n fotoverhaal wat op die Rooiplein en in die biblioteek afgespeel het.

Ook daardie vroegoggend op die rug van ’n kwagga by die Trek-garage op pad terug uit Kaapstad, ter viering van nog ’n nuwe redaksie se eerste poging wat min of meer suksesvol in die bed gesit is.

Sybrandus Adema, Die Matie-redaksie 1993-1994

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial