Die Matie Tagtigste Jaargang - Spesiale Uitgawe

Dié Studentekoerant se Fakkel Brand Nog Helder

Reeds sedert die tweede jaar van Die Matie se bestaan was daar partye wat dié studentestem wou stilmaak. In ’n artikel van 15 Mei 1942 het Die Matie byvoorbeeld berig dat daar in ’n “Monstervergadering” ’n “belaglike mosie aangeneem is” dat ’n “groot seksie van die Stellenbosse studente verbied word om hul oortuigings te uit”, en dat Die Matie verban moes word. Sowat 40 jaar later, in die 1980’s, is daar weer ’n mosie van wantroue teen Die Matie ingedien (Die Matie, 21 Maart 1985) – hierdie keer omdat daar glo te veel “omstrede politieke berigte” was.

Net in 1993 alleen is daar vier voorbeelde van hoe Die Matie gesensor is, het Kobus Burger, Walter Buchholz en Johan van Zyl in dieselfde jaar berig: “In Februarie (1993) verbrand studente Die Matie en Marius Visser word byna gestenig oor ’n ‘Perspektiewe & Dinge’. In Mei bars ’n storm oor Linda de Jager se kop los oor die kaberet. In Junie is daar ’n kabaal op die Tygerbergkampus oor skilderye van Monika Holleman. En in September is dit weer so: Beperking van spraak word op die Stellenbosse Student (SS) se redaksie afgedwing.”

Sedert persvryheid van krag is toe Suid-Afrika op 27 April 1994 ’n demokrasie geword het, was dinge nie noodwendig net maanskyn en goeie wyn vir Die Matie nie. Daar was SR-gevegte, senaatgevegte, hofsake, bedankings van redaksielede en die internet, om maar net ’n paar van die struikelblokke te noem. Maar haar fakkel het elke keer hoog bly brand.

En dankie tog daarvoor, want as ’n klompie waansinnige studente nie die afgelope 80 jaar lank iewers die tyd uitgegrawe het om ’n studentekoerant van gehalte uit te gee nie, was die Stellenboschstudente se stories verlore.

Ons sou nêrens anders kon lees van hoe studente reeds in die 1940’s inisiatief geneem het om geld in te samel vir die Neelsie nie. Oor geboue wat afgebrand en lewens verwoes het nie. Oor die Blou Bliksems-sokkerspan, Danie Craven, die skermers of modes van 50 jaar terug nie. Oor studente wat geveg het vir die gelykheid van alle rasse, geslagte en gelowe nie. Of oor kankeragtige leierskap, of aan die ander kant oor leiers wat werklik ’n verskil gemaak het nie.

Studente wat nog nie oor Die Matie se drumpel getrap het nie, weet nie wat alles voor saktyd moet gebeur nie. Hulle sal nooit weet voordat hulle nie sélf drie e-posse vir bronne gestuur het sonder om terugvoer te ontvang nie. Of sélf die Woensdag met druktyd voor 07:00 moet opstaan vir verspreiding nadat hulle die aand voor die tyd tot diep in die oggendure gewerk het aan die koerant se uitleg nie. Maar danksy 80 jaar se stories kon ons nou ’n klein gedeelte van die US-studente se stories in hierdie uitgawe vasvang.

Dankie, liewe Die Matie, vir 80 jaar se braafheid, vriendskappe, karakterbou, hardkoppigheid en stories.

Laat die fakkel brand!

Carla Visagie

Redakteur van Die Matie in 2021

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial