Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Lisa de Clerq

Om terug te gee aan die gemeenskap is die idee wat sentraal tot die Bettie Harmsen-studiebeurs lê. Dit is ook wat die Maties Gardeo Isaacs en Justine Palframan, die eerste ontvangers van die studiebeurs, beplan.

Bettie Harmsen het in 1989 haar HonsBSc in mediese biochemie aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi.

Volgens Maties Sport se webblad was sy ’n entoesiastiese atleet wat na haar gemeenskap omgesien het. Enkele dae voor sy in 2016 aan kanker oorlede is, het Harmsen en haar man besluit om ’n studiebeurs vir belowende US baan- en veldatlete te stig.

Volgens Maties Sport se webblad het die familie hulleself voorgeneem om vir ten minste 10 jaar ’n skenking van $10 000 te maak

Gardeo Isaacs is tans ’n tweedejaar-BCom-student en spesialiseer in die 200 m en 400 m.  Hy het saam met die Boland-span ’n silwer medalje in die 4×400 m-aflos gewen en ook die finale ronde van die 400 m by SA-kampioenskappe gehaal.

Isaacs het eers op hoërskool kompeterend aan atletiek begin deelneem, maar het gesê dat hy nie dieselfde persoon sonder atletiek sou wees nie.
“Atletiek het my oor dissipline, toewyding en deursettingsvermoë geleer,” het hy gesê.

Justine Palframan, wat die studiebeurs met Isaacs deel, is ’n HonsBSc (Biokinetika)-student. Sy is die SA-kampioen van die 200 m en 400 m, het twee medaljes by die Wêreldstudentespele gewen het en sy het in 2016 aan die Olimpiese Spele in Rio deelgeneem.

Palframan het ’n passie vir atletiek en voel dit is deel van haar doel op Aarde. “Ek hardloop om God se naam te verheerlik,” het sy gesê. Op die oomblik berei Palframan vir die atletiekwêreldbeker voor wat gedurende Julie in Londen gaan plaasvind.

Haar raad aan voornemende atlete is: “Wees passievol en werk met die doel om die mikpunte wat jy vir jouself gestel het te bereik. Dit is wat jou deur die moeilike tye sal kry.”

Isaacs werk op die oomblik daaraan om die Suid-Afrikaanse studentespan te haal wat gedurende Julie in Botswana aan die CUCSA-kampioenskappe gaan deelneem.

Sy boodskap aan ander atlete is: “As jy terug gee aan jou gemeenskap sal jy in die toekoms groter seëninge ontvang. Moet ook nie vergeet om hard te werk nie.”

Foto’s: Verskaf

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial