Carla Visagie

Studente sonder sente mag dalk verligting kry in die volgende paar maande.

Shoprite en Checkers het op 19 April aangekondig dat hulle supermarkte landwyd sekere weke in die jaar ’n promosie gaan loods waar studente 10% afslag kan kry. Die promosie was oorspronklik slegs geldig vir die 7de Februarie, en ook net vir daardie dag. Die bemarkingsdirekteur van Shoprite en Checkers, Neil Schreuder, het besluit om die promosie regdeur die jaar te loods.

“Dit is finansieel baie uitdagend om ’n student te wees, daarom het ons as handelaars besluit om die Studente-afslagweek in te stel,” het Schreuder in ’n persverklaring van Shoprite gesê.

Die promosies vind telkens plaas aan die einde van die maand. Die promosie is geldig vir aankope van ’n minimum bedrag van R1 tot ’n maksimum van R1500 en die koepon kan een keer gebruik word. Die promosie is geldig vir studente tussen die ouderdom van 18 tot 30 en slegs studente met Suid-Afrikaanse nommers kan hiervan gebruik maak.

Die promosie gaan plaavind op die volgende datums:
23 Mei – 27 Mei
27 Junie – 1 Julie
29 Augustus – 2 September
26 September – 30 September
24 Oktober – 28 Oktober

Studente kan van hierdie promosie gebruik maak deur ’n spesiale nommers te bel wat van toepassing is op óf Checkers óf Shoprite winkels.

Daar is ’n opsie om die promosie via SMS, e-pos of albei te ontvang.