Carla Visagie
Feesgangers sal meer wyn moet drink, aangesien waterbesparing een van die hoof prioriteite is by die US Woordfees in 2018. Daarom het die Universiteit Stellenbosch (US) in samewerking met die Woordfees besluit om verskeie
maatreëls in plek te stel om water tydens die fees te spaar.
Die grootste waterbesparing sal met betrekking tot toiletgeriewe wees. Chemiese toilette sal by die verskillende punte geplaas word en watervrye handskoonmaakmiddels gaan water by sommige wasbakke vervang.
Meeste krane in publieke badkamers se watertoevloei sal ook afgesny word. Die krane wat wel lopende water sal hê, gaan spesiale mondstukke kry wat waterbesparend is.
Danie Marais, hoof van die publisiteit by die US Woordfees, dink die fees het alle moontlike maatreëls in plek, maar dit is uiteindelik nie moontlik om die breë publiek te polisieer nie.
“Die feeskomitee vertrou dat die publiek die erns van die waterkrisis besef en dat hulle alle geleenthede wat geskep is vir waterbesparing sal aangryp,” het Marais gesê.
Die universiteit gaan ook bottels met gefiltreerde boorgatwater aan feesgangers beskikbaar stel. Hierdie bottels sal herhaaldelik by uitgesoekte waterpunte op die feesterrein volgemaak kan word.
Mense wat vanuit gebiede gaan reis wat nie deur droogte geteister word nie, word ook versoek om twee 5 liter-bottels vir persoonlike gebruik saam te bring.
Verder word hulle versoek om genoeg klere vir die duur van die hele fees te bring sodat hulle nie wasmasjiene hoef te gebruik nie en ook om aan die res van die dorp se waterbesparingspraktyke deel te neem.
Alle kosstalletjies by die fees is verder aangeraai om net ’n tipe kos te verkoop wat nie water vir voorbereiding of skoonmaak sal benodig nie.
Volgens Martin Viljoen, woordvoerder van die US, verwelkom die universiteit die waterbesparingsmaatreëls wat die US Woordfees tref.
“Nie net sluit dit aan by die dorp se eie maatreëls nie maar speel ook ’n belangrike rol in verdere bewusmaking van die droogte,” het hy gesê.
Foto: Verskaf