Lian van Wyk

Vlak 6B waterbeperkings het in Stellenbosch, nes in die Moederstad, posgevat. Dit beteken dat elke persoon slegs 50
liter water per persoon per dag kan verbruik.

Dit kom in die nasleep van ’n hernude poging deur plaaslike owerhede om die dreigende Dag Zero verder uit te stel.
Alhoewel daar vir ’n geruime tyd al van studente en inwoners verwag word om waterverbruik drasties te verminder, is die strenger beperkings op 19 Februarie amptelik deur die Stellenbosch Munisipaliteit in plek gestel.

Prof. Wim de Villiers, rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), het studente in ’n brief verseker dat die Universiteit nie gaan sluit nie.

“Die US is verbind tot die akademiese program en om die instelling ondanks die waterkrisis aan die gang te hou,” skryf De Villiers. “Die daaglikse perk wat ons vir personeel en studente gestel het, is 50 liter – wat alle waterverbruik insluit, op kampus en by die huis.”

Volgens die US-webblad, is fasiliteitsbestuur sedert November 2017 reeds besig met die implementering van verskeie
strategieë om waterverbruik te verminder.

Van die kleiner intervensies wat genoem word, is die verlaging van waterdruk in krane en die installering van uurglasies naby storte in koshuisbadkamers.

Sakke is ook klaarblyklik in toiletbakke geplaas om water met elke spoel te bespaar. Saam met hierdie kleiner besparingsstrategieë word ’n paar groter projekte ook gelys.

Sewe boorgate op die US-kampus funksioneer as alternatiewe waterbron en word onder andere gebruik vir swembaddens, kunsmatige hokkievelde en die natlei van krieketvelde.

Die Danie Craven A-Veld word steeds met damwater natgelei as gevolg van ’n bestaande ooreenkoms tussen die US en die FNB Varsitybeker.

Volgens die webblad word ’n gryswatersuiweringsprojek vir Maart beplan. Gryswater van koshuise sal klaarblyklik deur ’n sentrale suiweringstelsel vloei en vir die spoel van toilette teruggelei word.

Die koshuise Eendrag, Simonsberg en Nerina het reeds gryswaterstelsels wat stortwater suiwer vir besproeiing. Daarmee saam is twee groot suiweringsaanlegte vir die Tygerberg- en Belvillepark-kampus aangekoop.

John de Wet, bestuurder van omgewingsvolhoubaarheid by die US-eiendomsdienste, sê dat die Universiteit 45% van 2015 se watergebruikhoeveelhede moet bespaar.

“35% van die water wat by administrasiegeboue gebruik word, vind by handwasbakke plaas. As ons dit sou kon stop, sal ons nog meer water kan bespaar.”

Waterverbruik op die US kampus het sedert verlede jaar met 30% afgeneem. Die samewerking van studente en personeel word egter steeds vereis om verdere besparing te verseker.

Meer inligting oor die universiteit se waterintervensies is op die US se webblad beskikbaar. Navrae kan ook aan waterssg@sun.ac.za of (021) 808 9111 gerig word. Om lekplekke en ander defekte rakende water te rapporteer, kan
studente ’n Whatsapp-boodskap met ’n foto en beskrywing van die defek aan (082) 808 2333 stuur.

Foto: James Smit