BY DOMINIQUE FUCHS
Talle Maties is vertroud met Nu’Bar en het al ’n paar wilde aande hier beleef. Daar is goeie nuus vir die kuierleiers: Ná ’n lang stilte in Pleinstraat is Nu’Bar weer reg vir aksie.
Nu’Bar was weens die COVID-19-pandemie vir 16 maande gesluit. In Oktober, ná die eerste vlaag van COVID-19, het Nu’Bar probeer om hulle deure oop te maak, maar dit het nie so goed gegaan soos hulle gehoop het nie. “Die aanpassing van geen dansvloer en amper geen studente op kampus nie het dit onmoontlik vir ons gemaak,” sê Charlie Niemand, eienaar van Nu’Bar. “Ons het dus besluit om nou eers weer oop te maak weens die regering se inentingsveldtog en kliënte wat aangedring het dat hulle weer ’n doppie in Nu’Bar wil geniet.”
Nu’Bar is tans weens vlak 3 van die grendelstaat slegs Woensdae, Vrydae en Saterdae van 16:00 tot 21:00 oop, juis omdat hulle nie as ’n klub kan funksioneer onder die huidige vlak 3-regulasies nie. Die dansvloer is ongelukkig gesluit, maar volgens Niemand is hulle steeds Vrydae en Saterdae tot kapasiteit vol. “‘COVID-Nu’Bar’ is beslis ‘anders’. Tot en met ons deure vol kan oopmaak, sal ons net as ’n kroeg kan besigheid doen. Dit sluit tans nie crazy danspassies op die dansvloer in nie, maar ons waardeer steeds elke kliënt wat ons ondersteun, al is dit net vir een bier of shot!”
Tans word die Nu’Bar perseel verhuur vir privaat byeenkomste in lyn met die vlak 3-regulasies. Dus kan partytjies met 50 gaste hier gehou word en Nu’Bar sal die kroeg en personeel voorsien.
Sodra COVID-19-regulasies dit toelaat, sal Nu’Bar dit oorweeg om meer dae oop te maak. Oor hulle planne vorentoe sê Niemand: “Vir eers wil ons net deur al die vlakke van inperking kom en uiteindelik weer normaal besigheid doen. Daarna beplan ons groot DJ’s en parties, soos in die ou dae!”