Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

MARYKÉ MÜLLER

DERTIG TygerMaties gaan op 30 November vir eers hulle boeke opsy geskuif om 1000 km vanaf Namibië tot Agulhas per fiets aan te durf.

Die Hippocampus-span is verlede jaar deur Breda Reed, Mias Marais en Christoff Grey­ling op die been gebring. Hier­die drie mediese studente het besef dat studente gelyke ge­leenthede het, maar nie gelyke toegang om hierdie geleen­thede te benut nie.

Die naam van die span, Hippocampus, is ’n samevoeg­ing van Hippokrates-koshuis, waar die span ontstaan het, en kampus, aangesien dit ’n stu­dent-gedrewe fonds is. Volgens Marais, ’n derdejaar-mediese student, sorg beurse finansieel vir studente se akademiese on­kostes en opleiding, maar nie vir eksterne aktiwiteite soos huisdanse of gimnasium-lid­maatskap nie.

“Die projek het begin as ’n begeerte om by te dra tot stu­dente se finansiële behoeftes buite die lesingslokaal,” sê Marais. Verlede jaar het vyf studente R60 000 ingesamel deur agt dae lank fiets te ry. Die geld wat ingesamel word, word aan beurshouers beskik­baar gestel. Vir elke kilometer wat hierdie studente per fiets aflê, skenk vrywilligers R1. Alle fondsinsamelings vorm deel van die Nkululeko-fonds, wat vernoem is na Wonderboy Nkululeko Nkosi, wat deel was van verlede jaar se fietsryspan.

Hy het 38 dae nadat hy leer fietsry het, die pad Agulhas toe aangedurf. Reed verduide­lik dat Nkululeko “vryheid” beteken en dat dit hierdie groep fietsryers se missie goed opsom – finansiële vryheid vir studente. “Ons is ’n klomp pelle wat mekaar aan die begin van die jaar nie geken het nie en deur saam te oefen, mekaar leer ken het,” vertel Greyling, ’n derdejaar-mediese student wat beplan om vir die tweede keer by Agulhas te stop.

Volgens Greyling sien hy die meeste uit na die kameraadskap tussen die fietsryers, maar noem ook dat die voorbereiding vir die projek strawwe oefening drie dae van die week insluit. Reed, wat ’n vierdejaar-mediese student is, sê die moeilike dae is onvermydelik. “Dit is [egter] gerusstellend om te weet dat ’n groep ouens bereid is om daardie dae saam met jou aan te pak,” voeg hy by.

Rooi Sello, ’n vierdejaar-mediese student wat ook beplan om sy fiets af te stof, sê hy wil die geleentheid gebruik om gewig te verloor asook om mede-studente te inspireer en aan homself te bewys dat hy dit kan doen.

“Ek glo dat ek tot meer in staat is en gaan die Hippocampus-toer gebruik om my grense te verbreed.” Mede-Maties wat deel wil wees van hierdie inisiatief kan sosiale media nader en The Hippocampus Team gaan volg.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial