NUWE LEWE Van die plante wat gekweek word by die Bishop Lavis-Rehabilitasiesentrum. Foto: Wilma Stassen

Tuinmaak as terapie

MARYKÉ MÜLLER

 Die Bishop Lavis- Rehabilitasiesentrum het aan die begin van 2019 ’n nuwe toevoeging gekry – ’n groentetuin.

Die sentrum bied arbeidsterapie, fisioterapie, spraak-en gehoorterapie en dieetkunde aan, en die meerderheid van die dienste word deur Tygerberg-studente, onder leiding van personeel van die Universiteit van Stellenbosch (US) se geneeskunde en gesondheidswetenskappe-fakulteit, aangebied.

Kloppers, ’n senior-arbeidsterapeut en bestuurder by die Bishop Lavis- Rehabilitasiesentrum, sê in ’n persverklaring op die US se webtuiste dat die tuin gebruik word om pasiënte individueel te behandel en dat “die arbeidsterapie-studente die pasiënte aangepaste maniere van tuinmaak wys op grond van hul gestremdheid”.

Twee vorige rehabilitasie­sentrum-pasiënte, John Jackson en Adam Solomon, is in beheer van die projek onder leiding van Maatje Kloppers. Kloppers is van mening dat Jackson en Solomon studente van die Tygerbergkam­pus motiveer tydens hul kliniese praktiese sessies.

“Dit was ongelooflik om die terapeutiese waarde van tuinmaak te beleef. Betrokkenheid by dié proses het dit moonlik gemaak dat ek die waarde van persoonlike welstand besef,” sê Logan Julius, ’n derdejaar-arbeidsterapiestudent, wat haar maandlange kliniese prakties by die rehabilitasiesentrum in April 2019 deurgebring het.

Tuinmaak het ook onlangs deel van eerstejaar-arbeidsterapiestudente se kurrikulum geword en daar word van hulle vereis om verskeie kruie en groentes te plant. Studente leer die pasiënte hoe om op ’n aangepaste wyse te kan tuinmaak met ’n gestremdheid. “Ons kry konstante versekering [sic] dat daar in die Kaapse Vlakte-gemeenskap ’n groot behoefte aan tuinmaak is, veral wanneer mense in die wagkamer sit om te kom tuinmaak,” sê Kloppers.

Verder noem Kloppers dat daar tans navorsing gedoen word oor hoe die tuin groei en ook hoe an­der beroepe by hierdie inisiatief betrek kan word. Kloppers beskou Jackson en Solomon as die projek se grootste suksesverhaal.

Volgens Jackson is hy “dank­baar vir die geleentheid om sy pas­sie uit te leef”.

“Tuinmaak hou verskeie voor­dele vir gestremde pasiënte in. Ek geniet dit om mense te leer wat­ter vaardighede hulle met hulle hande kan verrig,” sê Jackson. Volgens Kloppers is die primêre doel van die tuin “behandeling vir pasiënte”, maar dit word nie slegs vir terapeutiese doeleindes gebruik nie.

“Damespersoneel gebruik die vars groente as bestanddele in sop, so die tuin voorsien ook vars groente,” sê Kloppers.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram