Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer
Maties slaggereed vir die finaal! Foto: Ané Havenga

Hierdie jaar is die fokus op vrouesport. Kaapstad het gasheer gespeel vir die eerste vrouekrieketwêreldbeker in Afrika in Februarie, en later dié jaar word die eerste netbalwêreldbeker in Afrika ook in Kaapstad gehou. Boonop sal die eerste vrouerugbywenners hierdie week in die Varsity Cup vasgestel word wanneer Maties se vrouerugbyspan om 16:30 op 13 April by die Universiteit van Wes-Kaapland vir die Universiteit van Johannesburg (UJ) aanpak. 

Bianca Augustyn, Maties se kaptein, koester hierdie stukkie geskiedenis: “Dit is werklik ’n spesiale gevoel om te weet dat ons besig is om geskiedenis te maak. Ek en my span is baie opgewonde vir volgende Donderdag. Ek is so trots op die span en al die harde werk wat elkeen insit. Hulle maak dit maklik om hulle te lei.” 

Johann Zeier, hoofafrigter van die span, is baie bly dat sy span deel is van die beweging in Suid-Afrikaanse vrouerugby: “Dis so ’n groot voorreg vir ons om aan die kompetisie deel te neem. Veral omdat ons spelers hulle talent kan wys in ’n kompetisie wat gewoonlik gekenmerk was as die mans s’n.” 

Maties het op 6 April kragte teen die Universiteit van Fort Hare (UFH) gemeet nadat UJ vir Tukkies in die ander semi-finaal afgeransel het. UFH het gevaarlik gelyk in die eerste 15 minute van die wedstryd, maar kon net nie punte teen Maties aanteken nie. Maties het van die begin af ’n wedstrydplan gehad wat hulle toegelaat het om vroeg voor te loop met vyf drieë. Augustyn verduidelik dat hulle geweet het dat UFH meer fisies met hulle voorspelers gaan speel, daarom het Maties die bal na die spasies gespeel. Die idee was om hulle onder druk te plaas deur meer te skop en dan die bal te jaag. 

Die drieë is gedruk deur Lara Schats, losskakel, Bianca Augustyn, binnesenter, en die heelagter, Danelle van Zyl. Dis egter Elitha Sylvester, flank, se twee drieë wat baie indrukwekkend was – veral die een uit Maties se kwartgebied. Sy is dan ook aangewys as die FNB Player that Rocks. UFH se een drie in die wedstryd is deur Ongeziwe Msengi gedruk. 

Maties wen 33 – 7. Augustyn is baie trots op haar span; dit was ’n baie uitputtende wedstryd. Verder beklemtoon Zeier ook die span se goeie verdediging en dat hulle met soveel veggees gespeel het.

“Ons wil net fokus op wat vir ons gewerk het in die vorige wedstryde. Daar is sekere swakpunte van UJ waarop ons druk wil sit. Ons moet net hierdie wedstryd speel en nie te veel fokus op die vorige uitslae nie,” sê Zeier oor die finaal.

Augustyn wil in die finale wedstryd van die jaar weer beklemtoon waarin sy glo – dat vrouerugby die stereotipiese uitkyk wat daar gewoonlik oor vroue is, breek. “Sport moet ander bemagtig en opvoed, maak nie saak watse sport jy speel nie.”

“Maak seker julle wen die klein oomblikke in die wedstryd, om op die ou einde die wedstryd te wen. Die span was nog die hele seisoen baie goed – en hulle moet net hulle beste speel en hard werk vir die wen!” sê Zeier vir die span. Daarmee saam is Augustyn se boodskap duidelik: “Dis die laaste wedstryd so ons kan nou ons alles gee en die tenke leegtap. Ek is super trots op elkeen van die spelers. Ons het al die harde werk gedoen so ons is definitief reg vir enige iets wat UJ na ons kant toe gaan gooi. Hou jou kop op en speel met jou hart.” Die raad wat egter deur beide geëggo word: “Geniet elke oomblik!”

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial