Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Klim en klouter was aan die orde van die dag toe die Maties-rotsklimklub op 3 Maart die nuwe klimjaar afgeskop het.

Gretige beginners het die Maties rotsklim gym volgestaan. Foto: Abigail Baard

Tydens die opwindende geleentheid kon ervare klimmers en heel beginners die klub se splinternuwe, handgemaakte houthouers beproef. Sodoende kon die nuwelinge hulle greep op die klimmuur uittoets voordat hulle die Vrydag op ’n beginnersnaweek na Montagu vertrek. Dit beloof om groot pret te wees en almal sien baie uit. Leri Swart, nuweling en tweedejaar-BCom (Bestuurswetenskappe)-student, was duidelik beïndruk. “Almal laat jou dadelik tuis voel en is so inspirerend,” sê dié beginner.

Die klub spog tans met 200 lede. Dié hoeveelheid lede maak dit moontlik dat hulle nuwe klimgrepe van Europa af kan invoer. Tian Nothnagel, ’n tweedejaar-Blng (Megatronies)-student, sê dat hule baie opgewonde is om dit op hulle klimmuur te installeer. Op dié muur is daar minstens 200 roetes waaruit klimmers kan kies en keur. 

Moenie afkyk nie! Foto: Abigail Baard.

Jaco Lategan, werkende, bevestig ook dat hy, “nie gedink [het] klim kan so kreatief wees nie.” James Laing, tweedejaar-BA (Geesteswetenskappe)-student, voeg ook tong-in-die-kies by dat, “die eerste ding oor rotsklim is dat jy rotsklimmers aan hul klere en die lengte van hul hare kan uitken.”

Die klub het ook die afgelope week ’n kursus aangebied vir die nuwelinge wat die naweek Montagu toe gaan. Die kursus het gegaan oor hoe om toue te hanteer en mense te belay (die tegniek wat benodig is om medeklimmers te vang). Nothnagel plaas die klem op veiligheid en vertel dat, “die groter idee agter die beginnersnaweek is om meer mense op te lei, omdat klim deur die publiek gesien word as ’n gevaarlike sport, maar is eintlik veilig as dit reg benader word.” Die klub sien ook uit om die beginners te wys waaroor klim regtig gaan en dat dit nie net klim en klouter op ’n plastiekhals is nie

Hul vooruitsigte vir die jaar is om beslis meer beginnersaande te reël waar mense gratis toegang kan kry, asook om wêreldklasgeriewe aan hul lede te bied. 

Om ’n lid te word van Maties-rotsklim is ledegelde R550 vir studente en R650 vir nie-studente. As ’n mens egter nog onseker is of ’n mens by die klub wil aansluit, is daar die opsie om ’n dagbesoekersfooi van R30 te betaal en klimskoene vir R15 te huur. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial