Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Jan-Hendrik Pretorius

Die Arende van Eendrag pak vandeesweek die Hane van Helshoogte in hulle jaarlikse Derby aan. Alhoewel die Derby reeds Maandagaand met ’n reeks aktiwiteite afgeskop het, gaan die hoogtepunt van hierdie hoogs verwagte wedywering, die Sauer-rugbytoernooi, Vrydag plaasvind.

Die aand het op ’n hoë noot met vertonings van beide koshuise se sêrgroepe begin. Daarna het die Hane die Derby-telbord verbygesteek met ’n oorwinning in die eetkompetisie, waartydens die deelnemers hoenderschnitzels blitsvinnig afgewurg het.

“Vanaand se ervaring was ongelooflik gewees. Ek het nog nooit so ’n samesyn ervaar nie en ek is baie opgewonde vir die week wat nog voorlê,” noem Nico Coetzee, derdejaar-BIng (Meganies)-student en Helshoogte-inwoner.

Die rugby is natuurlik die hoogtepunt op die Derby-kalender. J.W. Snyman, vierdejaar-BScAgric (Plant- en Grondwetenskappe)-student en kaptein van Helshoogte se eersterugbyspan, noem dat sy span die hele seisoen al hard voorberei het. “Ek dink ons voorbereiding vir die spesifieke wedstryd gaan nie veel meer inhou as vir die ander wedstryde nie, want net omdat dit [die] Derby is, moet ons nie toelaat dat die oomblik te groot word nie. Met dit bygesê, dink ek ons koppe is reg om harde, fisiese rugby Vrydag te speel.”

Terwyl die twee koshuise se rugbyspanne tydens hierdie jaar se Sauer-rugbytoernooi stadig uit die blokke is, met beide Eendrag en Helshoogte wat hulle vorige wedstryde teen Dagbreek en Wilgenhof onderskeidelik verloor het, behoort die rugbywedstryd egter vir intensiewe spanning te sorg. “Ons seisoen het sy goeie en slegte punte gehad. Ongelukkig het dinge nie altyd ons kant toe [gedraai] nie, maar ons het uit elke wedstryd ’n bietjie geleer om [tot] die groter prentjie by te dra,” het Snyman gesê.

Die Derby is vir Daniel Tukker, Eendrag-inwoner en derdejaar-BIng (Bedryfsingenieurswese)-student, ’n spesiale geleentheid. “Dit is een van ons grootste gebeurtenisse, [dalk selfs] die grootste van die jaar. Die gees en kameraadskap wat in die twee koshuise getoon word, is fantasties en dit bind ons in ’n positiewe manier saam.”

Jaco Wagener, derdejaar-BCom (Aktuariële Wetenskap)-student en Eendrag se intredende prim vir die komende jaar, het gemeen dit is ongelooflik om te sien hoe die twee koshuise bymekaar kom. “Toe ek hier inloop en almal weer in ons eetsaal [vir die openingseremonie] sien, [was dit] fantasties.” 

Hy glo dat Eendrag die gunsteling is om die wedstryd Vrydag te wen, maar glo “dit gaan definitief ’n close game wees”.

Benewens die rugby, gaan die twee koshuise teen mekaar meëding in ander sportaktiwiteite soos tennis, toutrek, touch rugby, gholf, skaak en e-sport, volgens Hannes Swart, intredende onderprim van Helshoogte en derdejaar-BA (Regte)-student. Daar is ook meer kulturele aktiwiteite wat plaasvind, soos ’n wynkenniskompetisie tussen die twee inwonende hoofde, 30-seconds en a capella-sang.

Luke Cuff, inwonende hoof van Helshoogte, sien uit na ’n week van uitnemendheid. “Die groot ding van Helshoogte en Eendrag se Derby is dat beide gemeenskappe geweldige belangstelling het om ’n gevoel van aanvaarding te bewerkstellig. Dit is inklusief – daar is geleenthede vir almal om deel te neem,” het Cuff gesê. 

Pierre Viviers, inwonende hoof van Eendrag, is ook opgewonde vir die week wat wag: “Dit is so great om weer [skouers te skuur]. Mense bymekaar, styf teen mekaar. En ek dink dis waaroor die kampuservaring gaan. Dít is ongelooflik.” 

Beide Cuff en Viviers glo dat hierdie week die ideale geleentheid skep vir vriendskaplike mededinging en opbouende kompetisie om uitnemendheid te bevorder. “’n Groot fokus is om die beste uit jou mededinger te neem en die dele waarin hulle beter is te gebruik om jouself te verbeter – en dit is iets spesiaals wat daaruit kom wat positief is op kampus,” het Cuff afgesluit.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial