“VREDE FOOLS’’ Francois van Coke kan aanhou “tot die son uitkom”. Foto: Ané Havenga

Francois van Coke KANNIEDOOD Nie

Deur Aurelia Mouton en Ané Havenga

The Daisy Jones Bar net buite Stellenbosch het op 6 Mei behoorlik geruk en gerol en dit alles te danke aan Francois van Coke en sy band, Die Gevaar. Hy het die skare gaande gehou met sy stories, liedjies en verhoogpersoonlikheid. Hy het van sy bekende liedjies soos “Ek Lewe, Ek Belowe” en “Dagdrome in Suburbia” gespeel, maar hy het nie weggeskram van ’n paar ou treffers uit sy Fokofpolisiekar- en Van Coke Kartel-dae soos “Ek Skyn (Heilig)” en “Tot die Son Uitkom” nie. 

In ’n kort onderhoud met Die Matie vertel Francois van Coke (oftewel Francois Badenhorst) dat die inspirasie vir sy nuwe album, Kanniedood, wat in September bekendgestel word, tydens die inperkingstyd in die vorm van ’n “wake up call” oor sy eie sterflikheid gekom het.

“’n Groot inspirasie was om in touch te wees met mortality. Dis crazy, maar dit is die waarheid. Ek het vriende [en] kennise gehad wat doodgegaan het in die tyd. Ek is miskien nou op daai ouderdom, 41, waar mense net meer doodgaan rondom my. Covid het beslis ook iets daarmee te doen gehad. Ek het net gedink ‘ek het ’n familie; ek kan nie doodgaan nie’,” het Van Coke gesê. 

Terwyl hy wel gegrap het dat hy op 18 wou doodgaan, het hy besef hy het baie om voor te lewe en wil nog lank nie die emmer skop nie. 

Hy het verder gesê: “Ek dink ook dat dit gaan oor determination [en] harde werk. ’n Kanniedood attitude. Daai twee goed het bygedra tot die naam.” 

Hy het in Stellenbosch vir die eerste keer twee nuwe liedjies van hierdie album gespeel, naamlik “Rus in Vrede” en “Nie Alleen Nie”. Die gehoor was in vervoering daarmee en dit blyk dat die twee liedjies groot treffers van die album gaan wees. 

“In die lockdown-tyd het ek ’n laaitie gekry – hy is nou een en ’n half jaar oud. In die aande het ek by hom gelê en audiobooks geluister [oor bands], soos Bad Religion, sulke tipe goed. Dit het my weer gesit op al die ou stuff wat ek geluister het – albums soos Stranger than Fiction wat uitgekom het toe ek op skool was. So daar is ou punk influences op hierdie album,” het Van Coke gesê. 

Hy luister ook graag na moderne popmusiek soos The Weeknd en Post Malone. Meer onlangse klanke kan ook gehoor word op die album as gevolg daarvan. 

Dolf Willemse, die baskitaarspeler, het gesê: “Om in Stellenbosch te speel is ewe nerve-racking en exciting.”

Van Coke deel die sentiment en het bygevoeg: “Ek is baie lief vir Stellenbosch en ek is baie bly ek is nie meer die ou wat in die gutter buite Bohemia [lê] nie. Dis nou lekker om te kan speel en daarna huis toe te kan gaan na die suburbs toe.”

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial