FAMILIE VAN STEMME Die USK tydens hulle Etensuurkonsert op die 12de Mei. Foto: Jani Roux

Hoor, Hoor Onse Eie Koor is Voor!

Deur Jani Roux

Die Stellenbosch Universiteitskoor (USK) het onlangs die publiek met hulle pragtige sang in die Kruiskerk betower. Toegang tot hulle vertonings op 5 en 12 Mei was gratis, maar donasies vir kos en klere aan minderbevoorregtes was welkom.

Die koor se keuse om met U2 se “I still haven’t found what I’m looking for” af te skop was beslis ’n treffer. Die verwerkings van die liedere was vars en uniek en het aanklank gevind by die gehoor. Die hoogtepunt van die dag was beslis hulle weergawe van die gedig “The Destroyer” wat geskryf is deur Lola Ridge en tot ’n lied verwerk is deur die komponis Séan Doherty. In die koor se weergawe gee die kombinasie van verskillende toonhoogtes en stemme weer hoe elemente soos wind en reën skade aan die natuur doen. Dit verwys dan terselfdertyd na die skade wat mense aan mekaar doen.

“Ons Etensuurkonserte sal altyd my gunsteling bly, want die liefde en ondersteuning van ons medestudente is werklik ’n out of this world-ervaring.” Só vertel Ané Spies, wat tans besig is met ’n nagraadse onderwyssertifikaat en ’n lid van die USK is.

Vir baie is dit lekker om weer sulke opvoerings te kan bywoon. André van der Merwe, dirigent van die USK vir die afgelope 20 jaar, het dit beaam toe hy tydens die opvoering na die gehoor gedraai en gesê het: “Julle is ’n aantreklike groep mense. Hoe neerhalend dit ook al mag klink, weet julle hoe ongelooflik is dit om weer vir mense te kan sing?”

Die konsert was uitsonderlik en ’n ervaring vir diegene daar. Inge van Driel, eerstejaar-BCom (Aktuariële Wetenskap)-student, het die ervaring so bewoord: “Insane, [dit was] so, so mooi. Ek het kort-kort hoendervleis gekry.”

Dit kom daarom as geen verrassing dat die USK nou al vir die afgelope paar jaar as die wenners van die Wêreld Koorspele aangewys is en ook tans spog as eerste op die Interkultur-ranglys van die topduisend internasionale kore nie. Vanjaar wou hulle weer hulle slag by die Wêreld Koorspele gaan wys het, maar die kompetisie is ongelukkig weens COVID-19 gekanselleer. Hulle sal dus eers weer in 2023 kan deelneem.

Christiaan de Beer, vierdejaar-MBChB-student en 2022 se USK-voorsitter, het bygevoeg “daai droom is ongelukkig daarmee heen om weer die jaar ons titel te gaan verdedig”. Tog sien hy uit na die moontlikheid om deel te wees van ’n nasionale toer na Tshwane, Bloemfontein en Johannesburg later hierdie jaar.

Hulle galakonsert by die Hugo Lambrechts Ouditorium is op 15 Mei opgeneem. Die opnames gaan op die USK se YouTube-kanaal (met die naam Stellenbosch University Choir) sowel as later die jaar op die Woordfees se televisieuitsendings verskyn.

Die Tygerberg-studente kan ook ’n vertoning in die tweede semester verwag. Spies raai studente aan om “julle oë en ore oop [te hou] vir spesiale verwikkelinge”. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial