Deur Karla van der Merwe
Die Stellenbosch Craft Bierfees (SCBF) het vroeër die maand hulle 11de iterasie van die fees in die Jan Marais Natuurreservaat gehou. Ná die afgelope twee jaar se COVID-19-regulasies en die verbod op die verkope van alkohol het SCBF-organiseerder Dirkie van der Merwe vertel dat hulle daarna uitgesien het om weer vanjaar te kon feesvier.
Van der Merwe het gesê dat hulle op 5 Maart omtrent 1 200 besoekers by die fees verwelkom het. “Dit is geweldig kleiner as wat die fees in die verlede was, maar ons sien dit as die begin van ’n herbouproses ná COVID-19 se strengelgreep op die event-landskap,” het hy verduidelik.
Hy meen dit is vir hulle belangriker om ’n ekosisteem te skep waar klein besighede en brouerye ’n platform kan hê om handel te dryf sowel as om direk met hulle eindverbruiker te kan gesels. Volgens ’n persverklaring was brouerye en besighede soos Loxtonia Cider, Hopman Brewery, Folk & Goode Brewing Co, Fokof Lager, Muti Gin, Pot & Scot Craft Brewing, Kings Craft Brewing, Pot & Scot Craft Brewing, Kings Craft Brewing Co, Matawi Mead en Darling Honey Liquer by die fees teenwoordig.
Vanjaar was daar vir die eerste keer ook vir diegene wat nie drink nie ’n nie-alkoholiese kelkiekroeg beskikbaar waar hulle ’n “verskeidenheid vars sap-gebaseerde drankies” kon kry, aldus die persverklaring.
“Baie mense dink [dat] as hulle ‘bierfees’ [sien] dit net ’n klomp mense is wat onkapabel raak en soveel moontlik bier uit glas skoene probeer drink, wat nie noodwendig akkuraat is nie,” het Van der Merwe gesê. “Ons is deeglik bewus dat daar heelwat mense is wat graag sosiaal sal wil verkeer, maar nie alkohol drink nie en ons respekteer en verwelkom dit.”
Leoné Brand, ’n eerstejaar-BRek-student wat die fees bygewoon het, het gesê sy het dit baie geniet. “Dit het ’n rêrige chilled en ontspanne vibe gehad. Ons het die bier- en ginproe baie geniet en jy kon onder die bome sit op ’n piekniekkombers en na die musiek luister,” het sy vertel.
Die musiekvermaak vir die dag was, volgens Van der Merwe, deur Sons of Selassie, Newton & Co Band en Stephan Cloete verskaf.
Evert Joubert, ’n tweedejaar-BRek-student en nog ’n feesganger, het verduidelik hy en sy vriende het die spin-the-wheel-speletjie by een van die bierstalletjies, waar hy en sy vriende almal hoede gewen het, baie geniet. “Dit was rêrig cool; dit het nogals soos ’n bietjie ekstra gees gebring.”
Joubert het ook gevoel die dag was baie rustig en het gesê hy sal definitief na die volgende een toe gaan. “Dit was net ’n lekker atmosfeer, ’n lekker tyd, lekker bier en lekker mense.”
Van der Merwe het gesê hulle wil vir volgende keer graag meer skaduwee probeer organiseer. Hulle beplan ook om moontlik privaat proegeleenthede te reël, ’n groter verskeidenheid produkte in te sluit en dalk ook selfs ’n skattejag te hou.