Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR TIAAN BOOYENS

Sommer só oor ’n somervakansie in die slaapkamer van sy kinderjare het Kobus Erasmus, oftewel Kobus. met ’n punt, sy nuwe Verlengde Speeltyd (VS) Stopstraat aanmekaar geslaan en vrygestel. 

Dié eerstejaar-BA (Taal en Kultuur)-student se eksperimentele viersnit-projek praat Afrikaans op ’n nuwe manier.

Erasmus het grootgeword met name soos Lucas Maree, Zinkplaat, Klopjag en Karen Zoid wat oor sy ou iPod Shuffle sou speel. Hy het al lank ’n passie vir musiekmaak, maar het eers in graad 10, vyf jaar ná hy leer kitaar speel het, begin om oorspronklike musiek te maak.

“Toe koop ek ’n mikrofoon, en ’n dingetjie om my kitaar by my rekenaar te kan inplug. Dit het maar net alles saam evolve. Ek’s ook baie lief vir skryf. Musiek is net soos die ideale ding om alles van daai te incorporate,” sê Erasmus.


STOPSTRAAT – Die kunswerk van Kobus. se nuwe VS. Foto: Kobus Erasmus

In die eerste snit “Lente” word ’n afwagting geskep en luisteraars mag dalk wonder hoe die res van die VS gaan klink. Dié afwagting is vanweë die VS se hiper-pop neigings, ’n synth atmosfeer en somber ondertone wat dan deur die tweede song op die VS vervul word. Die openingswoorde van “Weerlig!”, wat vanuit Koos Kombuis se onderhoud in Voëlvry: The Movie kom, verduidelik die doel van Erasmus se projek.

“Ek wil Afrikaanse musiek vorentoe propel. [Koos Kombuis] praat [aan die begin van ‘Weerlig!’] oor die Voëlvry-beweging, en hoe hulle net wou afwyk van die mainstream. Ek dink dis presies wat ek ook wil doen.”

Ná die voorlaaste snit, “Tussenspel”, tel die laaste snit die tempo op met sagte rock-invloede vir sy sorgelose swanesang. 

Erasmus sê dat “Woorde Vir Die Void” hom nie noodwendig as persoon beskryf nie, maar dit kom voor asof hy wel uitroep na die groot wêreld daar buite met die selfvertroue van ’n jong kunstenaar.

“Ek was lus om daardie tipe elektroniese klanke in Afrikaanse musiek uit te beeld,” sê Erasmus oor sy gunsteling internasionale musiekgroepe soos The 1975 en Lany. Vir hom is daar ’n tekort aan dié genre van musiek in Afrikaans. “Dis die tipe musiek waarvan ek hou om te luister, en niemand anders het dit gemaak nie.”

Erasmus skryf, sing en mix al sy musiek self, en begin gewoonlik skep met ’n nuwe ritme en one-liners vanuit die notas op sy selfoon. 

Alhoewel dit baie intimiderend is om homself op te neem, het hy al baie geleer sedert sy eerste projekte, wat ’n snit oor sy liefde vir lemoene insluit.

Die volgende stap vir Kobus. is live optredes en ’n opkomende album. Kyk uit, Stellenbosch! Hy mag dalk nie groot note uitroep nie, maar sy roerende songs oor die studentetoestand sal jou moontlik tot ’n stop bring. Nes ’n stopstraat.

Luister nou na Kobus. se nuwe VS beskikbaar op Spotify, Apple Music en YouTube.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial