DEUR KARLA VAN DER MERWE
Na die lang swye sonder live optredes, het Fokofpolisiekar die stilte verbreek by die Daisy Jones kroeg met ’n akoestiese line-up van ’n paar van hulle liedjies. Die groep het op 20 en 21 Mei in die Stellenbosse kroeg opgetree om hulle nuutste album, The Sound of Fokof Unplugged, bekend te stel.
Wynand Myburgh, die groep se baskitaarspeler, verduidelik dat dit vreemd gevoel het om weer voor ’n gehoor op te tree. Hy meen dat na die groep al vir 18 jaar saam as Fokofpolisiekar optree, was dit baie ongewoon om vir byna ’n hele jaar lank glad nie te kon saamspeel nie. Al wanneer hulle saamgespeel het, was tydens die live-streams waaraan hulle in die inperkingstyd deelgeneem het.
“Na 17 jaar [van optree] is dit nogal part van jou alles, jy weet, jou being,” verduidelik Myburgh. “Wat dit ook weirder maak is dat ons nou ’n unplugged ding ook doen … Dit voel nie soos [dit gewoonlik doen nie].”
Die optrede was vir die groep ’n verrassing. Myburgh verduidelik dat die groep onseker was oor wat hulle vanjaar alles sou doen met die inperking wat aan die begin van die jaar nog redelik streng was.
“Ons het ’n kroeg in Pretoria; die kroeg was toe. Ons het ’n lager en daar was nie drankverkope nie. Ons kon nie shows speel nie so ons het regtig in 2021 ingestap met like ‘wat’s volgende’,” vertel Myburgh.
Nadat hulle vanjaar die nuwe album bymekaar gesit het, het hulle besluit om optredes in Pretoria en by Daisy Jones te reël. Myburgh vertel dat daar ’n hele paar aspekte van live shows was wat hulle gemis het, soos byvoorbeeld om fisies op die verhoog te kan wees waar jy vir ’n uur van alles kan vergeet, sowel as die kameraderie van saam toer.
Oor Daisy Jones sê Myburgh dat die kroeg “bef*k” is en dat dit presies is wat die Kaap nodig het in terme van venues. “Kaapstad is moeilik; daar is nie venues nie. Die venue wat ons ten minste een keer ’n jaar [by] gespeel het in die Kaap met die naam Mercury het toegemaak, so as jy ’n jonger band is, [weet ek] nie eers waar mens gaan speel in die Kaap nie,” sê Myburgh.
Die aand is afgeskop met die liedjie “Ek Glo in Die Son” en is gevolg deur bekender titels soos “Hemel Op Die Platteland” en “Komma”, maar ook minder bekendes soos “Paranoia” en “Ek Dink Aan Jou As Dit Reën”.
Hoofsanger Francois van Coke het gedurende die optrede baie met die gehoor gesels en het onder andere vir dié wat die vir die eerste keer een van hulle optredes bygewoon het, hartlik verwelkom. Daniek van den Heever en Adriaan Smith het vertel dat hulle baie opgewonde was om hulle eerste live optrede van die groep by te woon.
“Ons het so ’n jaar terug probeer, [maar] toe is alles mos gekanselleer,” verduidelik Smith. Van den Heever sluit by hom aan en sê dat sy daarna uitgesien het om Van Coke uiteindelik te kan ontmoet.
Vir aanhangers wat al van die groep se Bellville-dae af saamkom, het Van Coke die liedjie “Monoloog in Stereo” opgedra.
Stephan du Toit en Jurgens van den Heever, juis aanhangers vanuit Bellville, vertel dat hulle baie uitgesien het na die optrede en spesiaal uit Bellville uit gery het om dit by te woon. “Ons wag al super lank vir [die optrede] met [COVID-19] wat alles nou [gestop het]; ons het lanklaas ’n show [gekyk], so om lekker ver uit te ry, is die moeite werd,” sê Du Toit.
Fokofpolisiekar se kenmerkende hoë energie-rock het vir die aand ’n bietjie ontspan met die akoestiese aanpassings van die liedjies, maar die musiek het nie versuim om die gehoor net so opgewonde soos altyd te maak nie. Tussen die saam sing en gesels met die groep tydens die optrede, het die energie steeds dinamies gebly. Die groep het die aand afgesluit met ’n gehoorgunsteling “Fokofpolisiekar” en só op ’n hoë noot geëindig.
Oor wat volgende vir Fokof is, vertel Myburgh dat hulle “20 Jaar van Fokof” nastreef en teen 2023 weer ’n vollengte album wil uitreik. Myburgh noem ook dat hulle dit oorweeg om ’n “Fokof-headquarters” en Fokof-kroeg in Bellville oop te maak.
“Dit is tog ons home town en jy weet, embrace the culture,” verduidelik hy. “Dit voel net vir my, going into this 20 years of Fokof, is dit net iets wat ons moet doen.”