Deur Lilian Lee Esterhuysen
Ouers val nie meer vir Aandklas nie! As jou ma bel en vra waar jy nou alweer kuier, moet jy op jou voete kan dink. Wat gaan jy vir haar sê? Bohos? Ek dink nie so nie. Fools Gold? Jy is lekker laf. Moenie bekommer nie – die Daisy Jones Bar is die nuwe Happy Oak. Pa sal dolgelukkig wees om te hoor dat jy omring is deur Fleetwood Mac-fanatici, tipies in die vibe van die neëntigers, selfs die tagtigers.
Die Daisy Jones Bar is verlede jaar gestig deur dieselfde groep musiekliefhebbers wat Orgasmic Music Gallery (OMG) begin het, naamlik Franco Hamman, Conrad Jamneck en Marcel Bezuidenhout. Dat dié groep juis die kroeg oopgemaak het, klink op sigself klaar aanloklik.
Daar word amper elke naweek ’n vertoning aangebied, maar daar word ook vir studente die geleentheid gebied om op te tree. Die Daisy Jones Bar het ’n verhoog, kroeg, kombuisfasiliteite, ’n onderdakse buite-area wat oor wingerde uitkyk, en ’n groot grasperk wat alles vir spesiale geleenthede gehuur kan word.
Die kroeg is slegs agt kilometer buite Stellenbosch op die Summerhill Wynplaas geleë en het lekker kos, koue drank en goeie diens. ’n Ongelooflike program lê voor en kroegbesoekers kan op 27 Maart ’n Rolling Stones-aand kom geniet, op 1 April na Prime Circle kom luister en op 2 Mei terugkeer vir die begin van die musiekgroep Neon Dreams se toer deur Suid-Afrika. Spoegwolf het ook op 10 Maart hulle nuutste album, Groen, hier bekendgestel.
Oor wat hulle gemotiveer het om die kroeg die “Daisy Jones Bar” te noem, het die eienaars verduidelik dat die naam deur Taylor Jenkins Reid se boek Daisy Jones and The Six geïnspireer is.
“Dit [die boek] gaan oor hoe ’n 1970’s rockgroep en hulle beeldskone hoofsangeres ’n naam maak vir hulleself. Daar word bespiegel dat die boek oor die ikoniese Stevie Nicks, hoofsangeres van Fleetwood Mac, gaan. Hamman was besig om Reid se boek te lees toe die kroeg nog gebou word. Dit maak toe sin om die new girl on the block te vernoem na ’n boek wat gaan oor die tyd toe musiek die kultuur gedryf het, aangesien die plek hoofsaaklik oor die musiek gaan en daar is vir die musiek,” verduidelik hulle.
Aan studente wat oor die spesiale aanbiedings wonder, het die eienaars die volgende te sê: “Elke show is ’n special, maar vir diegene wat regtig wonder, daar is specials wat vir elke event aangepas word.”
Om die kroeg te beskryf, het die trio net een woord gegee: intoxicating.
Wessel Krige, nagraadse student aan die Universiteit Stellenbosch, het al ’n paar optredes bygewoon en het die volgende te sê gehad: “Ek stel definitief die Daisy Jones voor aan alle studente wat hou van goeie musiek en ordentlike shows. Die bar het van die beste professionals in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en boonop van die heel beste klank en beligting.”
Oor die lekker kos, drank en kief kuierarea, het Krige verder gesê: “Die beste pizza is die house special wat die ‘Daisy Jones’ is en die craft bier is oppit. Wat baie cool is, is dat daar ’n VIP-area is wat afkyk op die verhoog.”
Kaartjies vir vertonings is op Quicket beskikbaar en indien alles nie uitverkoop het nie, is hulle ook by die kroeg se deur te koop. Op dae waarop optredes plaasvind, is die kroeg wel al vanaf 13:00 oop. Diegene wat nie lus is om na live musiek te luister nie, maar wel in ’n koue biertjie en pizza belangstel, kan voor die voortoning begin, ’n draai maak.
Hulle program, pryse, kontakbesonderhede, kliënteterugvoering en spesiale geleenthede is alles op Facebook, Twitter en Instagram te sien. Sien julle by Daisy Jones vir ’n koue een!