Kontras en Dope Folk

Kontras en Dope Folk

Vier Sint Paddy’s saam met Kontras en Dope Folks

Deur Sibella Swanepoel

Studente kan hulleself reg maak vir ’n onvergeetlike Sint Patricksdag waarop twee Stellenbosch-gunstelinge, Kontras en Dope Folks, 17 Maart Aandklas se verhoog gaan betree. Hierdie event kon nie op ’n beter tyd gekom het nie; Stellenbosch se studente is terug en almal is lus vir iets live na die verligting van die landswye inperking.

Einde verlede jaar het Kontras hulle debuutalbum, Vir Konteks, vrygestel. Die album het ’n unieke klank met ’n goeie balans tussen headbangers teenoor liedjies wat jou hartsnare sal tokkel.

“Ons is ʼn weird kombinasie van punk, alternatief, rock, bietjie folk, acoustic stuff en overall Afrikaans– iets van alles,” verduidelik Daniël Botha, tromspeler vir Kontras. “Al vier members van die band kom van verskillende agtergronde af en ons trek inspirasie van al vier daardie plekke [af]. Ons is mal daaroor om ‘alternatiewe musiek’ hierdie blanket term te maak wat oral inpas.”

“Ons en Dope Folks stap al ʼn lang paadjie [saam]. Die vibe en energy is picking up, gigs kom terug, en hulle is ook ’n local Stellenbosch-band and we like to stick together,” verduidelik Andrew Veldman, hoofkitaarspeler vir Kontras, oor hulle samewerking met Dope Folks.

MC van Coller, hoofsanger van Dope Folks, brei verder uit oor die twee bands se samewerking: “Ons gunsteling-quote is ‘Create, collaborate and prosper’, wat baie sê van ons neiging om saam met local artists en musos te werk.”

“Ons is vier dudes met verskillende musiek smake, vanaf electronafunk, folk en indie– it’s everywhere en ek dink in Dope Folks smelt ons dit mooi saam,” vertel Van Coller oor die tipe musiek wat hulle maak. Dope Folks stel hulle nuwe musiekvideo vir hulle liedjie “Showstopper” op die dag van die show vry. “Die release is op YouTube, check it out,” sê Van Coller.

Daar is slegs 50 kaartjies by Aandklas se deur beskikbaar en sal vanaf 17:00 teen R50 per kaartjie te koop wees vir die vertoning wat om 19:30 sal begin. “Mense is welkom om op te dress en al die lekker specials te geniet,” sê Aandklas se eienaar, Stephan Lubbe. Gryp ʼn Guinness en kom vier Sint Paddy’s saam met Kontras en Dope Folks.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial