Vanjaar se KAMERS vind op die beeldskone Blaauwklippen plaas Foto’s: Mia du Toit

Kom bederf jou sintuie by KAMERS

Deur Kristie Truter

KAMERS/Makers keer vanaf 24 tot 28 Maart terug na Stellenbosch waar dié byeenkoms van plaaslike entrepeneurs by Blaauwklippen gehuisves sal word.

Die byeenkoms van innoverende “makers” is ’n viering van alles plaaslik, vanaf handgemaakte dekor, klere, juwele, kos, wyn, kuns en vele meer.

“Kamers vol geskenke”, soos dit aanvanklik bekend was, het gespruit uit Amelia van Zyl en Lize-Marie van der Westhuizen se inisiatief en het toe in 2003 in Van der Westhuizen se huis en agterplaas ’n klein begin gehad.

“Die idee was eers net om vroue en mans wat kreatiewe handewerk by die huis maak, ’n platform te gee om hulle produkte te verkoop. Daarna was die idee ook om vir hierdie mense blootstelling te gee aan kleinhandelaars wat hulle handewerk in winkels kan verkoop, en so ’n verspreidingsnetwerk op te bou,” sê Van der Westhuizen.

Na slegs twee jaar was die geleentheid so gewild dat ’n groter lokaal nodig was. Meer mense moes aangestel word om te help met die identifisering van nog plaaslike produsente wat unieke produkte kan skep. Die geleentheid is ook herdoop na KAMERS/Makers, soos dit vandag bekendstaan, en word nou regoor die land aangebied.

KAMERS bied nie net ’n platform vir plaaslike besighede om met hulle produkte te spog nie, maar motiveer ook volhoubare en omgewingsvriendelike produksie. Die geleentheid kweek waardering vir volhoubare mode eerder as die massaproduksie van items wat gemaak word om vinnig hulle piek te bereik en van korte duur te wees. Anders as dié items, is elke produk wat by KAMERS verkoop word, uniek en handgemaak.

Mia du Toit, bemarker van KAMERS, sê: “Ons besef hoe uitdagend dit is om ’n nuwe besigheidseienaar te wees en wil dus graag help waar ons kan. Ons glo die toekoms lê by jong entrepreneurs.”

Om juis dan jong entrepreneurs te ondersteun, bied die organiseerders van KAMERS die young entrepreneurs-program aan. Dít sluit afslag op kommissie en ingangsfooi asook ’n mentorskapprogram in.

Op die dag kan mense aan verskeie aktiwiteite deelneem; hulle kan tussendeur die stalletjies wandel, ’n meesterklas bywoon waar hulle saam met Kokkedoor se sjef Johnny Hamman kan kook, of hulle kan by keldermeester Narina Cloete leer hoe om wyn te meng. Sitting Pretty, Swoon Accessories, LIPÉ Swimwear, Marnella Art du Macaron, Hamm & Uys en Honest Chocolate is maar net ’n paar van die name wat by KAMERS gesien sal word.

Dell-Marie Martin, eienaar van Swoon Accessories, sê dat die ondersteuning van die gemeenskap haar verbaas het toe sy eers by KAMERS betrokke geraak het. 

“Dit het my baie opgewonde gemaak dat KAMERS die toekoms van plaaslike besighede kan verander. Ek dink funksies soos hierdie is baie belangrik, nie net vir die ondersteuning en groei van ons plaaslike ekonomie nie, maar ook om ons natuurlike hulpbronne te volhou,” sê Martin.

Martin het onlangs begin met ’n nuwe reeks van juwele wat van jesmoniet (’n omgewingsvriendelike en nie-giftige materiaal) gemaak is. Wanneer sy aan haar ander reekse werk, poog sy ook nes KAMERS om haar besigheid se koolstofvoetspoor klein te hou.

Met dié doel voor oë, het KAMERS met Consol in vennootskap getree om vir elke besoeker op die dag ’n glaswaterbotteltjie te kan gee wat hulle by verskeie stasies sal kan volmaak. Gevolglik sal daar nie ’n behoefte aan plastiekbotteltjies wees wat na slegs een gebruik, weggegooi sal moet word nie.

Terwyl jy deur die stalletjies wandel, sal die lewendige atmosfeer en vriendelike mense beslis ’n glimlag op jou gesig plaas. Moenie hierdie kans misloop om al jou sintuie te bederf nie.

Please follow and like us:
Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram