TWEE IS BETER AS EEN Hierbo verskyn twee ikoniese komediante: Casper de Vries en Schalk Bezuidenhout. Foto: Jaco Bothma

Komedie-kaskenades by US Woordfees

DEUR ‘N MEDE-WERKER

Prikkel jou lagspiere by vanjaar se US Woordfees en deel in die plesier van vele kunstenaars.

Die Toyota US Woordfees se Stand-Up komedieprogram is veral gemik op studente en dié wat jonk van gees is. Vanjaar is verreweg die grootste program ooit by die fees: ’n volle 15 vertonings deur 19 van Suid-Afrika se topkomediante.

“Dit was die afgelope drie jaar vir my baie lekker om te sien hoe die studentebywoning groei,” sê Erns Grundling, koördineerder van die Stand-Up program. “En dit gaan nie net oor lag en lawwe grappe nie. Die komediante is vreesloos met hulle opinies en sosiale kommentaar oor die lewe en die land waarin ons leef.” 

Vanjaar is daar drie venues waar feesgangers Stand-Up kan geniet. Die Visuele Kunste Vierkant is weer die ankerpunt, waar daar saans twee komediante optree. Die komediefees skop af op Vrydag 6 Maart met KG Mokgadi (die seun van ’n sangoma en ’n komedie-swaargewig op meer as een manier…) en die immergewilde Joey Rasdien (dink aan flieks soos Bunny Chow en Blitz Patrollie). 


Vir die res van die fees is daar elke aand (behalwe op Maandag 9 Maart) ’n Stand-Up vertoning by die Visuele Kunste Vierkant. Saterdag 7 Maart tree die Kaapse komediant en radio-omroeper Dalin Oliver op saam met Bennie Fourie, die bekende akteur en skepper van kykNET se trefferreeks Hotel.  

Conrad Koch, Suid-Afrika se voorste buikspreker en ’n meester van politieke satire, tree vanjaar vir die eerste keer by die fees op. Sien hom in aksie saam met die SAFTA-wenner Hannes Brümmer by die Visuele Kunste Vierkant op Sondag 8 Maart.

Shimmy Isaacs is saam met die skreeusnaakse Donovan Goliath (van Goliath and Goliath) te sien by die Visuele Kunste Vierkant op Vrydag 13 Maart. “Oor die afgelope drie jaar het die integrasie en diversiteit van die gehore só gegroei. Vir my as bruin kunstenaar is dit lekker om dit te sien in my shows. En dan is die kos ook nog lekker en die mense vriendelik,” sê sy.

 
Die Spier Amfiteater bied vanjaar twee groot vertonings. Feesgangers moet maar gou spring vir kaartjies. Op Saterdag 7 Maart is Schalkie en Cassie hou konsert aan die beurt by die Spier Amfiteater. Die gewilde krulkopkomediant met die kleurvolle truitjies, Schalk Bezuidenhout, en Casper de Vries, die godfather van Afrikaanse komedie, kyk in hierdie vertoning terug na hul skooldae.

  
Ná sy uitverkoopte vertoning verlede jaar, keer Jonathan van Radio Raps ook terug na die fees met sy splinternuwe Lang Storie Kort op Saterdag 14 Maart by die Spier Amfiteater.

 
Schalk Bezuidenhout tree ook op Dinsdag 10 Maart op by die Visuele Kunste Vierkant saam met Tats Nkonzo (Idols-deelnemer en aanbieder van SA’s Got Talent). “Ek het deur die jare my tande geslyp in Afrikaanse stand-up by die Woordfees en van my lekkerste shows ooit daar gehad,” sê Bezuidenhout. “Feesgangers moet vir Tats kom kyk. Hy push regtig die boundaries en praat oor dinge wat baie komediante te bang is om oor te praat.”

By Amazink in Kayamandi is daar vanjaar vyf puik komedievertonings: Melt Sieberhagen en Hannes Brümmer (9 Maart), Alfred Adriaan (10 Maart), Nik Rabinowitz (11 Maart), Dalin Oliver (12 Maart) en Mariette Loubser (13 Maart).

Alfred Adriaan is opgewonde oor sy eenmanvertoning, Van Hankey, by Amazink. “Ek praat in Van Hankey oor alles wat julle deurgaan en ook wat julle nog gaan deurgaan. Ek hou niks terug nie. Ek push altyd die envelope, want dis wat comedy die beste doen,” is Alfred se boodskap aan studente. “Ek sien ook uit na my ander show saam met Stuart Taylor op 11 Maart by die Visuele Kunste Vierkant. Almal ken vir Stuart, hy was op Going Nowhere Slowly, hy’s funny en hy’s vannie Kaap!”
 

Al die Stand-Up-kaartjies is beskikbaar by Computicket en by die Erfurthuis by Ryneveldstraat 37. Bespreek vooraf aangesien kaartjies is duurder by die deur. Lesers van Die Matie kan uitkyk vir kompetisies wat kaartjies weggee tydens die fees. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram