BY ALETTA SIMPSON
Die volgende skrywe gaan oor my ervaring van Rape Culture. Dit gaan ook oor stories uit my lewe. Ek is wit en bevoorreg en ek kan nie namens slagoffers van seksuele geweld, swart vrouens of enige ander persone praat nie. Ek praat namens myself.
Ons was 15 meisies op pad na ’n manskoshuis vir ’n kuier toe daar ’n man langs die pad gil:
“Hey girls! I’ll make your pussies wet!” Ons was 15 meisies en hy net een man, maar nogsteeds het hy die durf gehad om met ons te praat asof ons nie regte mense is nie. As jy ongemaklik is omdat ek kans sien om die uitroep hier te publiseer, dan verstaan jy iets van die ongemak wat ons daardie aand ervaar het.
Later vertel ek hierdie storie vir ’n vriend wat ek op daardie stadium gehad het. Ons het dikwels gesels oor feminisme en die term Rape Culture en wat dit alles nou eintlik presies beteken. Vir die eerste keer kon ek hom oorreed dat rape culture ’n werklikheid is, omdat hy ook kwaad was dat ek so iets moes ervaar. Hy het besef dat so iets nog nooit met hom gebeur het nie, terwyl ek nóg ’n paar stories het.
Ek sal graag nou iets wil sê voor ek verder vertel. Moet asseblief nie hierdie stelling ligtelik opneem nie, ek veralgemeen nie alle mans nie. Daar is ongelooflike mans in my lewe, familie en vriende, mense wat alle vrouens in hulle lewens as gelykes hanteer. Wat ek probeer uitlig is dat daar ’n kultuur van onderdrukking en seksualisering teenoor vrouens is wat, as jy dit nog nie aan jou lyf gevoel het nie, waarskynlik nog vir jou weggesteek is.
Volgens my verwys feminisme na die geloof dat alle mense gelyke regte moet hê en dat almal met menswaardigheid hanteer moet word. Rape Culture, volgens my, verwys na die seksualisering van vrouens in ontoepaslike situasies. Dit verwys nie uitsluitlik na verkragting nie.
Ek is bewus daarvan dat terme soos feminisme en Rape Culture ongelooflike gelaaide terme is en daarom vind ek dit soms moeilik om as ’n feminis te identifiseer. Daarom skryf ek hierdie stuk nié om jou te oortuig om ’n feminis te wees nie. Ek probeer eerder om ’n paar oomblikke in my lewe te deel waar ek ’n klein brokkie van die motivering agter feminisme, oftewel, die Anti-Gender-Based Violence Movement, verstaan het. Of ek nou self ’n feminisis, daarvan is ek nie altyd seker nie.
Ek het hierdie jaar op 15 Januarie al ingetrek op Stellenbosch, omdat ek koshuisverpligtinge gehad het. Ek bly nie meer in die koshuis nie, maar eerder so bietjie verder van die middedorp af. In die eerste week is ek vyf keer ge-catcall. “Meisie, jy lyk mos nou lekker.”
“Blommetjie, hoe lyk dit met jou.” “Hello, girl.” Dit klink miskien vir jou soos ’n kompliment, maar wat jy in ag moet neem is die ongemak en vrees waarmee ek in só ’n situasie gekonfronteer word. Mans catcall gewoonlik as jy en hulle alleen in ’n publieke plek is en waar hulle mag het, byvoorbeeld vanuit ’n kar.
Ek gaan dit herhaal dat ek nie kan praat namens mense wat al geraak is deur seksuelegeweld nie, maar ek gaan afsluit met die volgende: Volgende keer as jy nie die woede van die Anti-Gender-Based Violence-beweging verstaan nie, vra ’n vriendin hoekom hulle so kwaad is. Sy behoort te weet. Jy hoef nie saam met hulle kwaad te wees nie, maar soms is dit genoeg om net te verstaan.