Tafeltennis-liga slaan af met ’n kishou

BY WILLOW-RUBY VAN DER BERG

Ons almal weet hoe uitdagend dit is om daardie wit balletjie te beheer wanneer mens onkant gevang word op mens se rughand. Maties Tafeltennis bied egter die ideale geleentheid aan om hierdie vrese te oorkom.

Maties Tafeltennis is tweebenig. Eerstens is daar die Maties Tafeltennis Klub wat oop is vir almal en dan ook die Maties-span wat die Universiteit verteenwoordig. Dan is daar ook die Universiteit Stellenbosch (US) se koshuisliga wat altyd groot pret vir almal verskaf.

Tafeltennis is wel meer as net pingpong speel by kuiers. Verlede jaar was daar vele hoogtepunte vir die Maties Tafeltennis Klub gewees:

“Ons het 11 mense gehad wat aan Universiteite SA (USSA) deelgeneem het. Dit was die meeste wat dit al ooit was. Verder het beide die mans-en vrouespanne silver medaljes by Intervarsity behaal. Die vrouens het brons by USSA behaal en die mans het die kwarteindfinaal gehaal (uit 23 universiteite wat deelgeneem het),” sê Christian Louw, die voorsitter van Maties Tafeltennis.

Hy verduidelik ook dat die koshuisliga baie suksesvol was aangesien daar ‘n rekordhoeveelheid van 650 spelers was.

Die USSA vind gewoonlik in Desember plaas, dus berei die span  heel jaar vir hierdie toernooi voor. Die koshuisliga begin hierdie jaar op 30 Maart en duur tot 17 Augustus. Maties Tafeltennis se deure is ook altyd oop vir nuwe mense wat belang sal stel om deel van die span te word:

 “Enige persoon kan by die klub aansluit en enige Matie kan saam met ons oefen en dan speel vir ’n plek in die span,” verduidelik Louw en brei verder uit: “Tans is ons 11. Ons het twee spanne vir die mans (drie in die A- en vier in die B-span) en een vir die vrouens (vier spelers) maar dit gaan verander na gelang van hoeveel mense nog bykom deur die jaar.”

Daar is groot planne in die pyplyn om die Maties Tafeltennis uit te brei: “Met die koshuisliga wil ons graag meer as 650 spelers hê, sodat ons die sport kan laat groei. Ons wil ook meer toernooie en ander tafeltennisbyeenkomste aanbied,” sê Louw.

 Daar is groot gees onder die tafeltennispan en Louw verduidelik een van sy gunstelingaspekte daarvan om tafeltennis by US te speel:

“My gunsteling-’herrinering’ is eintlik maar ‘n klomp wat ‘n geheel vorm en dit is elke keer wat ek tafeltennis gespeel het en geniet het saam met ‘n diverse groep mense (onegeag van ras, geslag, staat, geloofsverskille ens.).”

Moet dus nie huiwer om aan te sluit by Maties Tafeltennis nie: “’n Sport wat werklik vir almal gemaak is om te geniet, ongeag van wie jy is,” sê Louw.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram