Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Ventilasie in die BA-gebou

Deur Lienke Norval en Inge van der Westhuizen
Photo: Emma Jane Metalf

Met nog ’n snikhete somer wat gekom en gegaan het, het talle BA-studente hulself weereens in die bedompige lesingsale bevind. Die Fakulteit van Lettere en Sosiale Wetenskappe se hoofgebou spog met modieuse leefareas, bygewerkte tegnologie en ’n snoepwinkel wat heerlike samoesas en ander bekostigbare peuselhappies verkoop. Tog lig studente onlangs al hoe meer hulle bekommernisse oor die effektiwiteit van ventilasie in hierdie gebou.

Anders as die meerderheid van die ander geboue op kampus, het die meeste lesingsale en kleiner klaskamers in die BA-gebou geen vensters nie. Studente is dus heeltemal afhanklik van lugverkoeling om die temperatuur en lugvloei te reguleer, wat ’n tweeledige probleem veroorsaak. ’n Sekere persentasie van lokale in die gebou het glad nie eens lugverkoeling om van te praat nie, en in die klasse wat wel het, word dit selde aangeskakel as gevolg van die kragkrisis wat Suid-Afrika tans ervaar.

Soos ons geleer het uit die COVID-19 pandemie, is dit van kardinale belang om vars lug aan die vloei te hou in geboue met groot groepe mense, om sodeonde die verspreiding van kieme te beperk. Die ventilasieprobleem in die BA-gebou is dus nie slegs ’n kwessie van ongemak nie, maar ’n gevaar vir Universiteit Stellenbosch se studente se gesondheid en akademiese prestasie. Hierdie gevaar is direk as gevolg van ’n gebrek aan suurstof vir optimale konsentrasie en kognitiewe aktiwiteite.

’n Handvol BA-studente wat hieroor uitgevra is, het die lesingsale as “bedompig” en “warm” beskryf, en ’n klompie sê dat hulle ten minste twee maal siek geword het sedert die begin van klasse.  Elkeen van hulle glo dat die toestande in die lesingsale van die BA-gebou hul gesondheid negatief geaffekteer het, of ten minste groot bydrae tot hul gesondheidsprobleme gehad het. 

Die probleem van die drastiese temperatuurverskille tussen verskillende geboue se lesingsale is ook uitgelig deur die studente. Een noem dat al hulle ander klasse se lesingsale gans te koud is. Direk daarna moet hulle dan weer na die bedompige, warm klasse van die BA-gebou toe gaan.. Hierdie oplettende en gereelde temperatuurverandering hinder temperatuurregulasie in die liggaam, wat kan veroorsaak dat die persoon makliker siek word.

Die bedreiging van Covid-19 is nie verlore nie. Moet ons as studente, in die moontlike geval van nog ’n “COVID-19-wave,” hierdie toestand van die lesingsale in die BA-gebou aanvaar? Moet ons tevrede daarmee wees dat studente skaars kan konsentreer op hul akademiese werk tydens klastye as gevolg van ’n gebrek aan vars lug en suurstof? Is die gasreuk, wat van tyd-tot-tyd in lesingsale ronddryf, iets waarmee ons bereid is om saam te leef? Is vars lug nie ’n basiese behoefte om as gegewe te verwag nie?
Suurstof is nodig om aan die lewe te bly terwyl ons hard werk vir ons toekoms. Met die bestaande druk en stres wat studente ervaar, is dit belangrik om net te kan asemhaal. Effektiewe ventilasie is noodsaaklik – nie net om te oorleef nie, maar ook om gemaklik, sonder eienaardige reuke van gebreekte kragopwekkers, voort te werk.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial