Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

ANNERINE SNYMAN

As jy daarvan hou om die borde in jou ma se huis rond te gooi of nog altyd uitgeblink het in die familie-frisbeegooi, dan het Universiteit Stellenbosch (US) net die sport vir jou. Maties Ultimate, wat in 2012 gestig is, is die nuutste sportklub-toevoeging aan die US en hulle beoefen Ultimate Frisbee. Hulle leuse is “Gooi die Disc!!” en hulle leef dit ten volle uit.

“Wel, kom woon dit een keer by en dan sal julle sien,” sê Janco Heese, die eerstespankaptein. “Dit is ’n baie lekker sport en ’n great manier om fiks te bly.” Die klub maak die saak vir hulle sport deur middel van tien basiese reëls wat op hulle webblad uiteengesit word. Die oogmerk van die spel is om punte aan te teken deur ’n vlieënde skyf aan jou spanmaat in die teenoorgestelde eindsone te gooi, amper soos die doelarea in (almal se gunstelingsport) rugby. Spelers mag, soos in netbal, egter nie met die skyf hardloop nie en mag slegs een voet beweeg terwyl hulle die skyf vashou. Iets buite die boks wat die sport bied, en iets waarby die rebel in jou dalk aanklank mag vind, is dat daar nie ’n skeidsregter by dié sport betrokke is nie. Boonop word daar nie tussen geslagte onderskeid getref nie.

“Ultimate frisbee maak voorsiening vir gemengde geslag deelname en vereis nie ’n skeidsregter nie,” sê Nokonwaba Dalisiko, die klubbestuurder. Hulle webblad stipuleer dat spelers verantwoordelik is vir hulle eie oortreding- en lynroepe. Spelers moet ook hulle eie geskille oplos. “Ek sal wil sien dat Maties Ultimate-klub groei van ’n ontspanningsport na ’n sportkode wat nasionaal erkenning kry en internasionaal deelneem. Ek sal ook wil sien dat ons atlete meer geleenthede kry om gekies te word om die universiteit en klub op nasionale vlak te verteenwoordig,” sê Dalisiko.

Heese verduidelik dat hulle in die proses is om ’n koshuisliga te vorm. Enige student is volgens hom ook welkom om aan dié liga deel te neem. As studente egter belangstel om op ’n hoër vlak deel te neem, kan hulle gerus die klub kontak deur middel van Facebook of hulle webblad.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial