KHOJOSHA Jo Prins, Khomotso Mamburu en Sasha-Lee Petersen. Foto: Maties Netba

Wie is Khojosha nou eintlik?


GITA FOURIE

As jy ’n aanhanger van Maties Netbal is, dan weet jy seker ook wie KHOJOSHA is. Jo Prins, Sasha-Lee Petersen en Khomotso Mamburu speel sedert 12-jarige ouderdom saam netbal. Die drie meisies het oor die jare nog altyd baie goeie vriende gebly. Petersen en Prins speel albei al ses jaar vir Maties Netbal en toe Mamburu verlede jaar hoor sy is ook gekies vir die span, het die meisies dadelik geweet hulle sal vir hul trio ’n naam moet kry.

Mamburu het ’n WhatsApp-groep gemaak vir dié drie en so is KHOJOSHA gebore. Alhoewel die meisies dit verskriklik geniet om saam op die netbalbaan uit te draf, erken hulle wel dat hulle dit soms moeilik vind om hul tyd effektief te balanseer. Hulle het ’n intensiewe oefenprogram wat behels dat hulle ongeveer drie keer per dag oefensessies moet bywoon en tydens kompetisietye oefen hul steeds een of twee keer elke dag.

Mamburu verduidelik hoe sy haar dae haarfyn moet beplan sodat sy haar volle 24 uur effektief kan benut. Die dames erken egter dat hulle nie regtig tyd kry om sosiaal te wees of sommer net te ontspan nie. Dit is daarom ’n groot bonus dat hulle die geleentheid kry om saam netbal te speel en só steeds hul beste vriende daagliks sien. Maties Netbal het hierdie jaar tweede geëindig by die USSA-toernooi.

Petersen sê dat hierdie uitslag die beste is wat die span al behaal het in die afgelope 18 jaar. Die netbalspan vaar ook so ver baie goed in die Varsity Netbal-toernooi en het nog net twee wedstryde verloor. Hulle het na die semi-finaal deurgedring, en speel die naweek teen die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. KHOJOSHA beskou die Protea-netbalspeler, Karla Mostert, as een van hul rolmodelle en hoop om eendag ook in haar voetspore te volg.

Alhoewel die sport baie uitdagings inhou, weet die drie vriendinne dat hulle met mekaar se ondersteuning nog hoë hoogtes kan bereik.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram