Eerste solo-uitstalling vir oud-Matie


WILLOW-RUBY VAN DER BERG

Vrydag het Nicolene Burger se eerste solo-kunstuitstalling, Painted Mantras, se opening plaasgevind by die Galery van die Universiteit Stellenbosch (GUS). “Dis een van die beste gevoelens wanneer al die skilderye was ek geskep het saam uitgestal word in ’n mooi spasie. Die boodskap wat hulle saam oordra, is dan net soveel meer treffend,” het Burger gesê.

Burger het in 2017 haar graad verwerf in BA Visuele Kunste by die Universiteit Stellenbosch (US). Verlede jaar het Burger gewerk as ’n Engelsonderwyser in Masan, Suid-Korea, en dit is waar sy begin werk het aan die skilderye vir Painted Mantras.

“Hierdie uitstalling vorm deel van ’n versameling van visuele mantras wat ek ontwikkel het deur my kunspraktyk om deur my gevoelens van depressie en angstigheid te werk oor my beroep as ’n professionele kunstenaar terwyl ek in Suid-Korea gewerk het. Deur weg te beweeg van die universiteitkonteks waar my verhouding met kuns suiwer akademies was, tot ’n onafhanklike praktyk waar daar geen puntestelsel was om vir my te wys dat ek nog op die pad na sukses is, het ek besef dat daar ’n groot behoefte vir genesing was in die manier hoe ek my kunsprak-
tyk beskou het,” het Burger verduidelik.

Sy het verder uitgebrei oor die grids waarvan sy gebruik gemaak het in Painted Mantras: “Wanneer ek oorweldig gevoel het deur die idee dat ek gaan misluk of dat dit wat ek geskep het nie goed genoeg is nie, het ek dadelik ’n grid begin verf. Soms was dit oor ’n ou skildery, een waarmee ek nog besig was of selfs as ’n basis vir ’n nuwe skildery. Die grid het dus vir my ’n hulpmiddel geword om deur die emosies wat ek ervaar het, te werk.

Die grid en die landskap vermeng om ‘n uitdrukking van die kuns en die ego te vorm.” Terwyl Burger se loopbaan besig is om vlam te vat, het sy ook die kunsgroep The Leap Collective saam met haar vriendin Livia Schneider begin. In samewerking met die One11-galery in Kaapstad skep hierdie kunsgroep ‘n platform vir ‘n gemeenskap waar kunstenaars die geleentheid het om saam met ander kunstenaars te werk.

Die fokus van hierdie groep is om eksperimentele kunsgeleenthede en werkswinkels saam te reël en aan te bied. “Van my ervaring by The Leap Collective is daar baie jong Suid-Afrikaanse kunstenaars wat elke jaar op die toneel verskyn en hard werk, maar hulle sukkel om ‘n plek te kry wat hul kuns sal uitstal. Dit blyk asof dit gebeur as gevolg van die kompeterende natuur van die industrie.

Baie kunstenaars is ook nooit geleer om aan hulself te dink as entrepreneurs nie en weet daarom nie wat dit behels om ’n besigheid te bestuur nie,” het Burger gesê. “Dit maak my hartseer wanneer iemand die besluit geneem het om hulle passie na te streef en dan ’n ekstra werk moet kry wat hulle kreatiwiteit belemmer. Net omdat hulle nie ’n voet in die deur kan kry nie. Ek glo dat as kunstenaars mekaar gaan begin sien as broers en susters eerder as moontlike kompetisie, gaan daar meer geleenthede vir almal beskikbaar wees,” brei Burger verder uit.

Burger se Painted Mantras gaan by GUS uitgestal word tot 18 Oktober en dit is iets wat jy definitief nie wil misloop nie.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram