SZ MINNAAR
Die skreeusnaakse stuk Lycra en Petticoats is Saterdagaand aangewys as wenner van vanjaar se Première-teaterfees. Dit is die tweede jaar wat die fees aangebied word en die tweede jaar in ’n ry wat Carla Smith, Lycra en Petticoats se regisseur en skrywer, aan die stuur van die wen produksie is.
Smith het ook vanjaar die prys vir beste nuwe teks ingepalm. Lycra en Petticoats is ’n metatoneelstuk waarin ’n geselskap probeer om Shakespeare se Romeo en Juliet op te voer, maar weens die akteurs se (komiese) onderlangse twis, ly hierdié aweregse Romeo en Julietskipbreuk. Wian Taljaard is aangewys as beste akteur in ’n hoofrol vir sy rol in Lycra en Petticoats en die geselskap het saam die prys vir beste samespel ontvang.
Deur die week het altesaam vyftien stukke van Maandag tot Vrydag in die Lab van die Adam Small-teaterkompleks opgetree waarna die drie finaliste nog ’n speelvlak op Saterdag in die ouditorium ontvang het. Die andertwee finaliste, Monstruasie en Dankie, maar nee dankie! is ook komedies.
Caitlin Wiggle is aangewys as beste regisseur vir Monstruasie. Die stuk handel oor ’n meisie wat besef sy is ’n heks en met die hulp van haar suster probeer hulle hul ouma uit die dood opwek. Daar was verskeie in-noverende spesiale effekte in die stukgebruik wat gesorg het vir ’n uiters vermaaklike vertoning.
Shamim Gallie is aangewys as beste aktrise in ’n hoofrol vir haar rol in Dankie, maar nee dankie! Die stuk handel oor drie gesinne wat meeding om as die “perfekte bruin gesin” aangewys te word nadat hulle ’n advertensie in Die Sonsien. Die stuk het ook ’n speelvlak by volgende jaar se KKNK losgeslaan.
Elke individuele wenner het ʼn kontantprys van R2 000 ontvang en die wenproduksie het R20 000 ontvang. Die beoordelaars was Hugo Theart, Tara Notcutt, Saartjie Botha en Mareli Pretorius.
Beste Produksie:
Lycra en Petticoats
Beste Akteur in ’n Hoofrol:
Wian Taljaard (Lycra en Petticoats)
Beste Aktrise in ’n Hoofrol:
Shamim Gallie (Dankie, maar nee dankie!)
Beste Akteur in ’n Ondersteunende Rol:
Robert Hindley (Simboliek van ʼn D!ckPic)
Beste Aktrise in ’n Ondersteunende Rol:
Margo Kotze (Ode aan ʼn OnemanShow)
Beste Nuwe Teks:
Carla Smith (Lycra en Petticoats)
Beste Regisseur:
Caitlin Wiggill (Monstruasie)
Beste Verhoogbestuur:
Kyra-Lee Alberts (Ballistiek)
Beste Tegniese Prestasie:
“Bless” die Blou Bal
Beste Tegniese Versorging en Ontwerp:
Immerlig
Beste Samespel:
Lycra en Petticoats