Musiek: Feesvenues met ’n vibe

HOOR JY MY? Karen Zoid tydens ’n optrede by verlede jaar se Woordfees.

 

RENÉ ESTERHUYSE EN SZ MINNAAR


Wil jy weet waar die lekkerste musiekvermaak vanjaar gaan plaasvind? Stel dan Die Matie se lys musiekvenues op die proef.

Die Jan Marais-natuurreservaat word sedert 2017 as Woordfees-venue gebruik en beloof om vanjaar weer die feesbeeste in groot troppe te lok. Onder andere Theuns Jordaan, Bombshelter Beast, GoodLuck, Jackal and the Wind, Desmond and the Tutus, The Soil en Elandré Schwartz gaan feesgangers in die buitelug vermaak. Onthou net om die weer in te reken en vat liefs ’n hoed en sonskerm deur die dag of warm klere en ’n kombers in die aand saam. Piekniekmandjies en eie drank sal nie toegelaat word nie, maar daar sal kosstalletjies en kontantkroeë wees.

Die Visuele Kunste-gebou word vanjaar vir die eerste keer as musiekvenue gebruik. Die gebou
se vierkant is onder die sterre en die atmosfeer gaan lekker intiem wees. Buiten optredes deur groepe soos The Steezies, Uncle Spike en The Vanilla, gaan Jazz in the Quad, ’n reeks konserte wat Suid-Afrikaanse jazz ten toon stel, ook hier plaasvind. Vir die studente sonder sente is daar ook die gratis Sanlam Open Mic-aand.

Die Stadsaal is ’n ou gunsteling en heel gepas is die kunstenaars wat hiér optree ook ou gunstelinge. Francois van Coke gaan akoestiese weergawes van sy grootste treffers sing. Joshua na die Reën se Someraande en Spoegwolf se Koma is van die nuwe albums wat in lewende lywe gehoor kan word.

Vir iets meer klassiek kan jy op die Konservatorium staatmaak. Die Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes (USSO) se konsert in die Endler beloof om ’n hoogtepunt te wees. Onder leiding van Daniel Boico gaan USSO ’n program van werke deur Yoshimatsu, Brahms en Dvorak uitvoer. Indigo is nog ’n Endler-konsert om van kennis te neem. David Salleras, bekende Spaanse saksefoonspeler, sal as solis optree.

Vir iets meer local en beslis lekker word Amazink sterk aanbeveel. By Jazz in Kayamandi gaan Babalwa Mentjies, een van Suid-Afrika se voorste jong jazz- sangeresse, optree.

Dit is ’n entjie se ry, maar die optredes by die Spier-amfiteater sal die petrolgeld werd wees. Kunstenaars sluit in die legendariese Albert Hammond sowel as Jo Black, Tarryn Lamb, Elvis Blue, die Soweto String Quartet en Loki Rothman.

Foto: Verskaf

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram