Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Anke van der Merwe

Maties Sport se atlete is deesdae gereeld in die internasionale nuus. Die rede hiervoor is dat hulle so goed presteer en die koshuisligas is self nie agter as dit by talent kom nie. Vir daardie studente wat nie James Murphy se Blitzbok-vaardighede het nie, is daar ’n ander opsie: die Centenary Games.

Sandrugby en futsal (ʼn sport soortgelyk aan sokker) is nie alombekend onder die meeste Maties nie. Hierdie is maar net twee van die sporte wat deur Maties Sport se Eenheid vir Rekreasie en Aktiewe Lewenstyl aangebied word. Saam met netbal, waterpolo en krieket vorm die sporte deel van die Centenary Games wat tans aan die gang is.

Die aksie vind alles by Coetzenburg plaas, met die sandrugby wat op die vlugbal se sandbane plaasvind en die res van die sporte op die gras en netbalbane.

By elke sport neem daar spanne van vyf deel, alles gemeng. Dit beteken dat netbal nie net beperk is tot die vroue nie en dat daar geleentheid vir die vroue is om ’n rugbybal rond te gooi.

“Daar was effense bekommernis by die aggressiwiteit van die rugby as mans en dames speel, maar daar was al in die verlede gevalle waar die meisies kalmeer moes word,” het Kiran Maharaj, bestuurder by Maties Sport se Eenheid vir Rekreasie en Aktiewe Lewenstyl, geskerts.

Vir Maharaj was dit belangrik om die atmosfeer en gees reg te kry by die wedstryde.

“Dit moet voel soos toe jy klein was en in die parkie gespeel het,” het hy verduidelik. Daar is dus geen skeidsregters nie, behalwe by die rugby.

Die rugby is soortgelyk aan touchies, maar net meer gevorderd. Elke speler kry ’n band wat afgetrek moet word om te dien as ’n tackle.  Dié sport is goed vir fiksheid en kuite. Die krieket werk ook effens anders, aangesien dit ’n mengsel van aksiekrieket en quad-krieket is. Dit word op die tennisbane by Coetzenburg met ’n spesiale mat gespeel. Die sandrugby en futsal vind op Maandae en Woensdae om 19:00 tot 21:00 plaas.

Die netbal en krieket vind op Dinsdae en Donderdae, ook om 19:00 tot 21:00 plaas.

Met al die sporte kan studente net ’n groep vriende bymekaarkry en opdaag. Die waterpolo vereis egter dat deelnemers vooraf by Maties Sport moet inskryf.

Hierdie sporte bied ’n ideale studiebreek aan studente, veral tydens die opkomende eksamen.

Studente verwerf punte vir hul Kluster wanneer hulle aan hierdie sporte deelneem. Die Kluster met die meeste punte aan die einde van die jaar, wen ’n kontantprys wat nog bepaal sal word.

Studente kan die Maties-app aflaai om op hoogte met die punteleer te bly, asook ander kampusaktiweite.

Foto: Maties Sport

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial