Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Wianda Gilliland

Aan die einde van 2019 sal Maties weer plek hê by die Neelsie om te parkeer. Die konstruksie van ’n massiewe nuwe leersentrum tussen  die Neelsie en die Polimeerwetenskappe gebou, sal meer studente kan akkommodeer as enige ander huidige onderrigruimte op kampus.

Dit sal na verwagting aan die einde van 2019 voltooi wees. Die gebou sal vernoem word na Jannie Mouton, alumnus en donateur, se pa, Jan Mouton. In 2016 het Mouton R50 miljoen aan die US geskenk wat tot die oprigting van die sentrum bygedra het.

Die sentrum sal oor verskillende lesingsale beskik wat onderskeidelik 350, 270 en 150 sitplekke sal hê. Driedubbelvolume sirkulasieruimtes met interaksiehoekies sal die ouditoriums en die rekenaarklaskamers verbind. Daar sal ook ondergrondse
parkering beskikbaar wees.

Die sentrum sal ook spog met ʼn binnehof, terrassitplekke en ’n restaurant en daar sal ’n onderdakdeurgang wees wat dit met ander kampusgeboue verbind. Die sentrum sal ʼn lae koolstofvoetspoor hê en sal onder meer spog met ʼn gryswaterstelsel wat die ablusies sal dien. Met die konstruksie is daar ook waterbesparingmaatreëls in plek om nie bykomende druk op Stellenbosch se watervoorraad te plaas nie.

Mouton het vroeër gesê dat die skenking vir hom meer is as net ʼn belegging in ʼn kontemporêre ruimte wat die leerervaring van ons studente sal verryk, maar ook ’n belegging in die toekoms van die US as ’n internasionale leier op grond van hoër onderwys.

“My pa het ʼn bepalende invloed op my lewe gehad en ek het die allerhoogste agting vir hom. Dis om hierdie rede dat ek die Universiteit
versoek het om die sentrum na my pa te vernoem. Benewens my pa is ek ook persoonlik deur Warren Buffet aangespoor om ʼn positiewe verskil in die samelewing te maak – tot voordeel van die volgende generasie,” het Mouton gesê.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, het gesê dat die US goed-toegeruste geboue nodig het waarin uitnemende leer en
onderrig kan plaasvind. De Villiers het ook erkenning gegee aan die Departement Hoër Onderwys en Opleiding en ander donateurs wat
die gebou finansieël moontlik gemaak het.

De Villiers het bygevoeg dat dit besonders is dat die seremonie in die universiteit se eeufeesjaar kan plaasvind.

Foto: Wianda Gilliland

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial