Elze Goosen
Daar is nog 80 dae oor om ’n bydra vir die #US99-veldtog te maak waarvoor R99 999 ingesamel moet word.
Dié veldtog, wat poog om R99 999 in 99 dae in te samel, is op Woensdag 20 September ingelei en word deur die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, in samewerking met die Studenteraad (SR), behartig.
Maties mag dalk alumni kollekte-bokse oral op kampus sien opsring. Dit is die uitnodiging aan alle studente en personeellede om hul kleingeld te skenk ten einde ’n positiewe verskil aan die Universiteit van Stellenbosch (US) te bewerkstellig.
“#US99 is ook ’n manier om jou te wys hoe maklik dit werklik is om terug te gee en ’n positiewe verskil te maak. Van beurse tot kapasiteitsbouprogramme, met jou ondersteuning kan hierdie universiteit opgeleide studente die wêreld in te stuur, gereed om ’n bydrae tot ‘n beter toekoms te lewer,” het Marvin Koopman, Alumni-betrekkinge koördineerder, op die US se webtuiste gesê.
Koopman het verder gesê dat hierdie fondse, met prof. Wim de Villiers, US rektor en vise-kanselier, se diskresie, as ’n bemiddeling vir indrukwekkende aanvoorwerk en beurse dien.
Alumni-betrekkinge meen dat elke skenking ’n verskil maak. “Tans het ons 1049 skenkers– maar slegs 0,8% is alumni. As 2000 alumni elkeen R100 per maand skenk, sal ons R2,4 miljoen ontvang– genoeg om 80 volledige beurse toe te ken.”
Die doelwit sal maklik bereik word as elke US-geaffilieerde slegs ’n maksimum van R3,12 aanbied, wat sal beteken dat om en by 33 volledige beurse toegeken kan word.
Volgens prof. De Villiers is opvoeding vir sowel individue as vir die land, baie belangrik. “Daarom doen die US alles moontlik om studente geldelik by te staan. En ons is dankbaar dat andere ons hiermee help– insluitend studente wat hul medestudente help, asook alumni wat skenkings vir beurse maak.”
“Die slagspreuk, ‘Eens ’n Matie, altyd ’n Matie’, is nie sommer net ’n nostalgiese sêding nie. Dit gaan daaroor om dit vir toekomstige geslagte moontlik te maak om dieselfde wonderlike opvoeding te kan kry as wat ons bevoorreg was– en is– om hier te geniet.”
Prof. De Villiers is verder van mening dat die idee dat die US ’n ‘ryk’ instelling is wat slegs gegoede studente lok, ’n wanindruk is. “Al hoe meer van ons studente is van finansiële bystand afhanklik; dit staan nou al op meer as ’n derde. Terselfdertyd daal die staatsubsidie aan universiteite. In 2000 het 41% van ons inkomste van die staat gekom; nou is dit net 23%.”
Hierdie veldtog se noodsaaklikheid word verder deur Cheryl Benadie, Donateurs-betrekkinge
bestuurder, benadruk. “’n Onlangse peiling het getoon dat 41% van ons studente verlede jaar uit die sogenaamde
‘missing middle’ groep gekom het, dit wil sê huishoudings met ’n gesamentlike inkomste van
R600 000 of minder per jaar.”
Die kollekte-bokse waar munte ingegooi kan word sal tot om en by 24 Desember op die Stellenbosch-, Tygerberg- en USB-kampusse verskyn.
Foto’s: Elze Goosen